VERKLARING: SGR VERWELKOM KONSTITUSIONELE HOF SE BESLISSING IN SOLIDARITY AND OTHERS V DEPARTMENT OF CORRECTIONAL SERVICES AND OTHERS
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) verwelkom vandag se beslissing deur die Konstitusionele Hof in die saak tussen die Departement van Korrektiewe Dienste (die Departement) en die vakbond, Solidariteit, asook werknemers van die Departement. In ‘n nasie waar konsepte van gelykheid steeds omstrede is, help die beslissing om dit wat onder gelykheid verstaan kan word, duidelik te stel. Die beslissing herbevestig regverdigheid as ‘n prosedurele waarde in die inwerkingstelling van enige indiensnemingsbeleide in die werkplek. Die besluit beteken uiteindelik dat oorwegings van geregtigheid en gelykheid bepaal dat nasionale staatsdepartemente nie alleenlik op nasionale demografie kan steun ten einde die vlak van verteenwoordiging van verskillende aangewese groepe te bepaal nie.