+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

’N GRONDWETLIKE ONDERNEMING ONDERMYN DEUR BESTUURSMISLUKKINGS

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 12/02/2026

Die Spesiale Ondersoekeenheid se invordering van R1,7 miljard vir NSFAS – afkomstig van universiteite, TVET-kolleges en individue wat nie op befondsing geregtig was nie – is ’n opskrif wat allermins ’n positiewe storie vertel. Dit is bewys van ’n strukturele problem. Geld wat bewillig is om grondwetlike regte te verwesenlik, is nie behoorlik verreken nie, onregmatig toege-eien, óf onregmatig uitbetaal. Die Spesiale Ondersoekeenheid se ingryping – gemagtig ingevolge Proklamasie R88 van 2022 en gegrond op die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale van 1996 – is belangrik omdat dit hulpbronne aan studente terugbesorg. Maar wanneer ’n mens dieper delf, dwing dit ’n moeiliker vraag af. Hoe het ’n skema wat geskep is om geleenthede te verbreed, so volgehou kwesbaar geword vir swak beheermaatreëls, gebrekkige bestuur en herhalende krisisse?

Kom ons begin by die kern. NSFAS is geskep om artikel 29(1)(b) van die Grondwet te verwesenlik, wat soos volg lees: “Elkeen het die reg op verdere onderwys, wat die staat deur redelike maatreëls toenemend beskikbaar en toeganklik moet maak.” Maar NSFAS is ook ’n instrument van gelykheid. Artikel 9(2) maak voorsiening vir regstellende maatreëls wat daarop gemik is om persone te bevoordeel wat deur diskriminasie in die verlede benadeel is. Die Parlement het aan hierdie grondwetlike verbintenisse uitvoering gegee deur die Wet op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema van 1999. Die grondslag hiervan is regstelling en gelyke toegang. Eenvoudig gestel, NSFAS is nie liefdadigheid nie, maar ’n grondwetlike instrument vir gelykheid en bemagtiging.

Tog sien ons telkens ’n instelling wat sukkel om grondwetlike ideale met administratiewe bekwaamheid te versoen. Dit is nie ’n bysaak nie. Wanneer ’n openbare entiteit in sy bestuur faal, is die onmiddellike gevolg nie bloot ’n swak interne ouditverslag nie, dit is ’n student wat nie kan registreer nie, nie verblyf kan kry nie, nie kos het nie en uiteindelik nie ’n kwalifikasie kan bekom nie.

Die omvang van NSFAS verduidelik waarom bestuursmislukkings sulke ernstige sosiale gevolge het. Vir die 2026-siklus het NSFAS 893 847 aansoeke ontvang, waarvan 609 403 goedgekeur en 49 538 afgekeur is, terwyl 218 043 as onvoltooid geag word weens ontbrekende dokumentasie. Die demografiese profiel toon sowel die doel van billikheid as die druk op die fiskus. 66,45% van die aansoekers was vroue; 520 545 was SASSA-begunstigdes en 2 551 was studente met gestremdhede. Hierdie syfers bevestig twee kernrealiteite en dit is dat die aanvraag enorm is en dat die skema ’n sentrale rol speel in Suid-Afrika se armoede-tot-vaardighede-oorgang.

Dit is juis omdat NSFAS sentraal tot sosio-ekonomiese mobiliteit is, dat sy bestuur aan die hoogste grondwetlike standaarde voldoen. Artikel 195 van die Grondwet vereis dat openbare administrasie verantwoordbaar, deursigtig en doeltreffend moet wees en deur hoë etiese standaarde gelei moet word. Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999 (“PFMA”) gee verdere uitvoering aan hierdie waardes deur dit in afdwingbare pligte te omskep. Artikel 51(1)(a) van die PFMA vereis doeltreffende, doelmatige en deursigtige stelsels vir finansiële en risikobestuur en interne beheer. En waar verkryging ter sprake is, vereis artikel 217 van die Grondwet openbare kontrakteringstelsels wat billik, regverdig, deursigtig, mededingend en koste-effektief is. Hierdie vereistes kan nie as blote tegniese formaliteite afgemaak word nie. Dit is die grondwetlike voorwaardes vir die regmatige gebruik van openbare geld.

Die onlangse SIU-terugvordering toon duidelik wat gebeur wanneer hierdie vereistes nie nagekom word nie. Die teruggevorderde fondse hou hoofsaaklik verband met ongeallokeerde NSFAS-bedrae uit die tydperk 2016 tot 2021. Hulpbronne wat bedoel was vir kwalifiserende studente wat later gederegistreer het óf van instelling verander het. Instellings mag sulke fondse slegs vir ’n beperkte tydperk behou, maar die SIU het bevind dat bedrae ver buite dié tydraamwerk gehou is, weens swak oudit- en onvoldoende beheermaatreëls. Die terugvordering sluit beduidende terugbetalings van groot universiteite in, asook R126 478 184,64 wat ingevorder is van 1 055 ongekwalifiseerde begunstigdes en ouers wat erkennings van skuld onderteken het om die geld oor tyd terug te betaal. Dit behoort verwelkom te word. Maar dit is ook ’n aanklag teen ’n tydperk waarin oudit- en gevolgbestuur nie as kernfunksies van goeie bestuur hanteer is nie.

Die SIU-terugvordering is egter slegs een deel van ’n diepgesetelde kultuur. NSFAS word herhaaldelik blootgelê deur operasionele krisisse en verkrygingskontroversies. Die mees sigbare daarvan was die direkte betalingsdebakel, waar hervormings aan toelaebetalings gevolg is deur vertraagde of mislukte uitbetalings, wat studente in nood gelaat en protesaksies ontketen het. Wat ook al ’n mens se siening oor uitkontraktering teenoor interne stelsels is, die grondwetlike toets bly eenvoudig. Dit is dat administratiewe besluite moet rasioneel, wettig en bekwaam uitgevoer word, want wanneer dit misluk, word toegang tot onderwys direk benadeel. Wanneer studente sonder toelaes gelaat word, word die grondwetlike reg in artikel 29(1)(b) bloot teoreties verwesenlik.

Net so belangrik is artikel 33 van die Grondwet, die reg op wettige, redelike en prosedureel billike administratiewe optrede. NSFAS-besluite – goedkeurings, afkeurings, terugtrekkings en appèlle – moet aan hierdie standaard voldoen en op ’n wyse toegepas word wat vir gewone aansoekers verstaanbaar is. Die 2026-syfers alleen dui reeds op ’n enorme administratiewe las. Tog mag billikheid nie weens blote omvang opgeoffer word nie. ’n Stelsel wat groot getalle “onvolledige” aansoeke oplewer weens ontbrekende dokumentasie, kan gebruikersfoute weerspieël en kan egter ook dui op toeganklikheidsprobleme in terme van die aansoekproses self. Grondwetlike nakoming gaan nie slegs oor uitkomstes nie, maar oor die integriteit van die proses.

Een saak wat duidelik na vore kom, is dat NSFAS dikwels verwag word om laste te dra wat nie uitsluitlik finansieel van aard is nie. Suid-Afrika se krisis rondom toegang tot hoër onderwys is ook ’n kapasiteits- en plasingsprobleem. Selfs waar befondsing beskikbaar is, kan studente nie studeer indien hulle nie geplaas kan word nie. Programkwotas, beperkte koshuisruimte, beperkte lesingskapasiteit en ongelyke skoolvoorbereiding beteken dat studente wat vir befondsing kwalifiseer, steeds nie toelating óf toepaslike programplasing kan verseker nie. Dit is waar beleidsbelyning noodsaaklik word. Die Wet op Hoër Onderwys van 1997 en breër sektorbeplanning moet in samehang met NSFAS funksioneer. ’n Befondsingskema kan nie vergoed vir onvoldoende institusionele kapasiteit, gebrekkige loopbaanvoorligting of beperkte oorgangsroetes van skool na TVET en universiteit nie. Wanneer plasings misluk, blameer studente NSFAS, maar dikwels lê die dieper probleem by sistemiese koördinering.

Waar laat dit ons in 2026?

Eerstens moet NSFAS bestuur as ’n regtekwessie beskou. Skoon administrasie is nie bloot ’n nakomingsoefening nie, dit is die meganisme waardeur die staat sy grondwetlike verpligtinge nakom. Dit vereis streng rekenkundige kontrolese, betroubare data-integrasie tussen NSFAS en instellings, streng verkrygingsbeheer en onmiddellike gevolgebestuur wanneer wanpraktyke opgespoor word.

Tweedens moet NSFAS sy afhanklikheid van tussengangers verminder wie se aansporings moontlik nie met die grondwetlike plig om studente te dien, strook nie. Die SIU self het verwys na hervormings wat oorweeg word, insluitend datagedrewe maandelikse verslagdoening en ’n moontlike skuif na interne betalingsfunksionaliteit. Hierdie rigting is sinvol – mits dit gepaard gaan met tegniese kundigheid, deeglike toetsing en toesig wat nuwe vorme van mislukking voorkom.

Derdens moet die Parlement en die uitvoerende gesag toesien dat die regsraamwerk nie as opsioneel hanteer word nie. Indien regulatoriese leemtes óf onduidelike kriteria bydra tot bevindings van onreëlmatige uitgawes, is die oplossing nié om ná die tyd met ouditeure te kibbel nié. Eerder is dit om bestuursinstrumente tydig in te stel deur duidelike, gepubliseerde kriteria ingevolge die NSFAS-wet, streng PFMA-nakoming en deursigtige verslagdoening aan toesighoudende liggame te formuleer.

Laastens moet die publiek weerstand bied teen die opsie om te kies tussen skoon bestuur en groter toegang. Suid-Afrika hoef nie tussen die twee opsies te kies nie. Die Grondwet vereis beide toenemende toegang tot verdere onderwys en etiese en verantwoordbare administrasie. Die SIU-terugvordering is ’n herinnering dat miljarde verlore kan gaan – óf reg bestuur kan word – afhangende daarvan of instellings hierdie grondbeginsels respekteer. Die ware maatstaf van sukses is nie ’n persverklaring wat die ingevorderde fondse uitbasuin nie, maar óf die volgende akademiese jaar sonder chaos begin het en óf kwalifiserende studente betyds befonds, geplaas en ondersteun word.

NSFAS kan steeds wees wat dit bedoel was om te wees. Dit is ’n grondwetlike instrument om gelyke geleenthede te ontsluit. Maar hierdie uitkoms berus op ’n saai, maar noodsaaklike verbintenis tot die volgende basiese beginsels. Doeltreffende administrasie, geloofwaardige finansiële beheermaatreëls en ’n studentgesentreerde diensleweringsmodel wat strook met die Grondwet en die wetgewing wat dit tot stand gebring het.

FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM STERKER TOESIG INGEVOLGE NUWE SDK-WET

Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Staatsdienskommissiewet 8 van 2026 as ’n belangrike stap na sterker, onafhanklike toesig oor Suid-Afrika se openbare administrasie. Die uitgebreide mandaat van die Staatsdienskommissie, insluitend toekomstige toesig oor munisipaliteite en openbare entiteite, kan verantwoordbaarheid, professionalisering en dienslewering versterk. Doeltreffende uitvoering sal voldoende hulpbronne, beskerming teen politieke inmenging en duidelike bewys vereis dat SDK-bevindings tot betekenisvolle regstellende optrede lei.

Read More »