Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING SPREEK SY KOMMER UIT OOR TOENEMENDE XENOFOBIESE MOBILISERING
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de KlerkStigting op 28/04/2026
Die FW de Klerk Stigting spreek sy kommer uit oor die onlangse toename in anti-immigrante-mobilisering in dele van Suid-Afrika. Dit sluit berigte in van intimidasie, die sluiting van besighede, teistering van buitelandseburgers, asook oproepe tot ’n landwye stilstand waarindie verwydering van alle buitelanders geëis word, ongeag hul wettige status.
Die Stigting erken dat Suid-Afrika voor werklike en ernstige uitdagings te staan kom, insluitend ongedokumenteerde migrasie, swak grensbestuur, werkloosheid, misdaad, arbeidsuitbuiting en administratieve tekortkominge binne die immigrasiestelsel. Hierdie kwessies moet ferm, regmatig en doeltreffend deur die staat aangespreek word.
Die Grondwet laat egter nie toe dat private individue óf bewegings die rol van immigrasiebeamptes, polisiebeamptes óf howe oorneem nie. Die afdwinging van immigrasiewetgewing is ’n staatsfunksie en moet geskied in ooreenstemming met die Grondwet, die Immigrasiewet van 2002, die Vlugtelingewet van 1998, en die beginsels van wettigheid, menswaardigheid enadministratiewe geregtigheid.
Artikel 1 van die Grondwet verbind Suid-Afrika tot menswaardigheid, gelykheid, nierassigheid, grondwetlike oppergesag en die heerskappy van die reg. Artikel 7 bevestig dat die Handves van Regte alle mense in die land beskerm. Alhoewel die Grondwet die staat toelaat om in sekere opsigte tussen burgers en nie-burgers te onderskei, laat dit nie geweld, kollektiewestraf, intimidasie óf haatgedrewe uitsetting toe nie.
Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerktigting, het gesê: “’n Grondwetlike demokrasie kan nie toelaat dat openbare frustrasie oorspoel in aksies om die wet in die hande te neem nie. Suid-Afrikaners is geregtig om doeltreffende immigrasiebeheer te eis, maar geen persoon of groep is geregtig om ons strate, klinieke, skole of plekke van handel in grensposte te verander nie. Die heerskappy van die reg word nie deur vigilante-optrede beskerm nie; dit word daardeur ondermyn.”
Die Stigting waarsku verder dat xenofobiesemobilisering die potensiaal het om sosiale verdeeldheid te verdiep, plaaslike ekonomieë te skaad, openbare veiligheid te ondermyn en Suid-Afrika se aansien op die vasteland te benadeel. Baie buitelanders wat in Suid-Afrika woon, is wettige inwoners, vlugtelinge, asielsoekers, werkers, handelaars, ouers en kinders. Hulle mag nie as ’n enkele kriminele kategorie behandel word nie.
Ismail Joosub, bestuurder van grondwetlike bevordering by die FW de Klerk-stigting, het gesê: “Die grondwetlike antwoord is nie oop grense nie, en ook nie gepeupel geregtigheid nie. Dit is regmatige, bekwame en menswaardige regering. Die staat moet immigratiewetgeving met erns afdwing, maar moet terselftertyd elke persoon binne ons grense beskerm teen geweld, vernedering en arbitrêre teikenstelling.”
Die Stigting doen ’n beroep op die regering om regmatige immigrasie-afdwinging te versterk, daadwerklik teen korrupsie en uitbuiting op te tree, kwesbare gemeenskappe te beskerm en te verseker dat alle protesoptogte vreedsaam, ongewapen en binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind. Suid-Afrika moet sy migrasie-uitdagings aanspreek sonder om sy grondwetlike waardes prys te gee.

WAAROM DIVERSITEIT SAAK MAAK
Diversiteit kan as ‘n meganisme vir nasiebou dien, omdat dit maatskaplike samehorigheid kan versterk en ekonomiese waardekettings ontsluit.

DIE ROL VAN MUNISIPALITEITE IN DIE BEVORDERING VAN ONS ERFENIS
Suid-Afrika se kulturele en taalerfenis is afhanklik van openbare ruimtes waar gemeenskappe kan leer, bymekaarkom en tradisies van een geslag na die volgende kan oordra. Munisipaliteite speel ’n belangrike rol in die instandhouding van plaaslike geriewe en openbare ruimtes wat help om hierdie grondwetlike regte in die alledaagse lewe betekenis te gee. Met Erfenismaand en die munisipale verkiesings wat nader kom, behoort gemeenskappe duidelike aanspreeklikheid te eis oor hoe hierdie ruimtes onderhou, befonds en beskerm word.

STIGTING VERSLAGKAART BEKLEMTOON IMPLEMENTERINGSGAPING IN KULTURELE, GODSDIENSTIGE EN TAALREGTE
Die FW de Klerk Stigting het vandag sy KGT-Regteverslagkaart vir 2026 vrygestel, wat beduidende ontwikkelings identifiseer wat kulturele, godsdienstige en taalregte raak, terwyl dit volgehoue implementeringsuitdagings regoor Suid-Afrika se grondwetlike landskap uitlig.