BESKERMING VAN SBL’E: SENTRALISERING NIE DIE ANTWOORD NIE

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting op 13/03/2024 

 

In die lig van onlangse besprekings rondom die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (“BELA-wetsontwerp”), neem die FW de Klerk Stigting kennis van onlangse bewerings van korrupsie binne sommige Skoolbeheerliggame (“SBL’e”). Genoemde korrupsie sluit in bewerings van finansiële wanbestuur tot nepotisme.

Hierdie bewerings onderstreep die behoefte aan verbeterde toesigmeganismes en kapasiteitsbou-inisiatiewe om die integriteit van SBL’e te versterk, soos vereis deur die Stigting se uitgebreide skriftelike– en mondelingsevertoë aan die Parlement (oor die BELA-wetsontwerp)“, sê Ismail Joosub, die Stigting se Regsbeampte.

Met die klem op die Stigting se standpunt is Joosub van mening dat: “Terwyl ons die uitdagings erken wat sommige SBL’e in die gesig staar a.g.v. beweerde korrupsie, waarsku die Stigting teen die sentralisering van mag weg van ouers na die regering soos in die BELA-wetsontwerp voorgestel.”

Joosub sê verder, “Sulke sentralisering sal niks doen om beweerde korrupsie op te los nie. SBL’e speel ‘n belangrike rol in die bevordering van gemeenskapseienaarskap en -aanspreeklikheid in skole. Ouers moet eerder toegerus word om diegene wie hulle tot hul SBL verkies, aanspreeklik te hou en te verseker dat hulle handelinge altyd  deursigtig is en in belang van die plaaslike skoolgemeenskap.”

Die Stigting bly daartoe verbind om grondwetlike waardes te bevorder en om die reg op kwaliteit onderwys vir alle Suid-Afrikaners te beskerm. Ons standpunt beklemtoon die kritieke rol van ouers en die gemeenskap in die bestuur van skole. So verseker hulle dat besluite saam en in die beste belang van leerders en hul gemeenskappe geneem word.