+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

WATER IN DIE BEGROTING: GELD IS UITEINDELIK BESKIKBAAR - DIE REGERING MOET SORG DAT DIT HUISHOUDINGS BEREIK

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 03/03/2026

Suid-Afrika se 2026-begrotingsrede was weer deurspek met die bekende fiskale taal oor skuldstabilisering en infrastruktuurbelegging. Maar vir miljoene huishoudings en besighede is die werklike toets in die praktyk, want wanneer die kraan droog is, werk niks anders nie. Geen water beteken geen skool, kliniek, restaurant en geen werkende fabriek soos gewoonlik. In Gauteng – en veral in Johannesburg – het die krisis alledaags geword en dit is juis alledaagse krisisse wat ekonomieë stil-stil ondermyn. Die kernvraag ná Minister Enoch Godongwana se Begroting is dus nie óf die regering die probleem geïdentifiseer het nie, maar óf dit ’n geloofwaardige ommekeer in waterinfrastruktuur befonds én struktureer teweegbring.

Aan die befondsingskant het die Tesourie nader beweeg om die werklike omvang van die krisis aan te spreek. Oor die mediumtermyn word openbare-sektor-infrastruktuurbesteding op ongeveer R1,07 triljoen geraam, met groot toewysings wat deur staatsbeheerde maatskappye en ander openbare entiteite, asook provinsies en munisipaliteite, bestee word. Water is nie die grootste bestedingsitem binne hierdie raamwerk nie, maar dit word ook nie meer as ’n nagedagte hanteer nie. Die belangrikste is dat, wanneer ’n mens die Begroting vergelyk met wat President Cyril Ramaphosa in SONA op 12 Februarie 2026 aangekondig het, die syfers eerder op deurvoering as op besuiniging dui. SONA het verwys na meer as R156 miljard in openbare befondsing vir water- en sanitasie-infrastruktuur oor drie jaar. Die Tesourie se Begroting ken oor dieselfde tydperk 18,7% meer toe. Wat ’n mens ook al van die regering se uitvoeringsrekord dink, dít is betekenisvol. Dit dui daarop dat die politieke stelsel begin besef dat watertekorte nou ’n beperking op ekonomiese aktiwiteite plaas.

Maar finansies op sigself is nie die kern van hierdie krisis nie. As dit wel so was, sou Johannesburg nie in sy huidige posisie gewees het nie. Die werklike verhaal van Begroting 2026 is dus nie net dat die Tesourie meer kapitaal beskikbaar stel nie, maar dat dit probeer om die reëls te verander wat munisipale waterstelsels in die eerste plek laat ineenstort het. Eenvoudig gestel, is daar ’n erkenning dat die waterkrisis net soveel ’n bestuursmislukking as ’n infrastruktuurmislukking is.

Die Johannesburgse voorbeeld wat Godongwana uitgelig het, is juis verwoestend omdat dit nie geisoleerd is nie. Die stad vorder sowat R11,9 miljard aan waterinkomste in, maar slegs R1,3 miljard word aan Johannesburg Water vir kapitaalbesteding toegeken. Daardie patroon – om basiese diensinkomste in te vorder en dit dan in die “groot gesamentlike pot” te laat stort – is hoe instandhoudingsagterstande handuit ruk, hoe waterpype eenvoudig meegee en hoe suiweringsaanlegte agteruitgaan sonder vervangingskedules. Die gevolg is die syfer wat nou herhaaldelik in die openbare debat opduik. Dit is juis dat Johannesburg ongeveer R64 miljard nodig het om sy watervoorsieningsprobleme reg te stel. Dit is nie ’n “toekomstige probleem” nie. Dit is die prys van institusionele praktyke soos uitgestelde instandhouding, swak verkrygingsdissipline en politieke opportunisme wat sigbare projekte bo vervelige, maar noodsaaklike herstelwerk bevoordeel.

Die Tesourie se kerningryping is dus juis op daardie gewoonte gerig. Begroting 2026 stel ’n prestasiegekoppelde hervormingsbenadering vir metro-handelsdienste bekend en ken oor die mediumtermyn R27,7 miljard toe om hervormings in metro’s te ondersteun – insluitend die direkte vereiste dat inkomste wat vir ’n spesifieke diens ingevorder word, weer in daardie diens herbelê moet word. Met ander woorde: geld vir water moet watergeld bly. Vir enige gewone huishouding klink dit na gesonde verstand. Vir baie munisipaliteite verteenwoordig dit egter ’n fundamentele verandering in hoe hulle funksioneer.

Dit is die sterkste deel van die Begroting se waterbenadering, Dit probeer befondsing aan dissipline koppel. Dit probeer ook om gevolge aan mislukking te koppel. Godongwana was duidelik dat, ingevolge die nuwe stelsel, die versuim om hervormings- en operasionele teikens te haal, tot verminderde begrotings sal lei. Nie as straf nie, maar as ’n meganisme om bestuurs­hervorming af te dwing en nasionale hulpbronne te beskerm teen besteding in stelsels wat nie kan lewer nie. Indien dit konsekwent toegepas word, kan dit ’n waterskeidingsoomblik in munisipale waterbestuur wees. Nie omdat dit strafgerig is nie, maar omdat dit die beste belange van landsburgers bevorder. ’n Stad wat weier om sy infrastruktuur te onderhou, kan nie met eindelose bykomende kapitaal vertrou word nie.

En tog het selfs hierdie nuwe ondernemings ’n harde werklikheid. Toewysing van fondse en prestasievoorwaardes herstel nie vanself pype nie. Dit skep aansporings en reëls – maar mense moet dit uitvoer. Dit verg geloofwaardige omdraaiplanne, deeglike projekvoorbereiding, bekwame ingenieurs en operateurs, streng verkrygingsdissipline en deursigtigheid wat die publiek in staat stel om te sien of geld werklik in herstelwerk, vervangings en beter bestuursdruk omskep word.

Dit is ook waar die Begroting se taal oor “ingryping” belangrik word. Godongwana het aangedui dat die nasionale regering “nie ’n toeskouer kan wees nie terwyl Johannesburg agteruitgaan en dat “ons geen ander keuse het as om in te gryp nie” – selfs al vereis die presiese vorm van ingryping steeds toepaslike regsinstrumente en sorgvuldige ontwerp. Dit maak saak omdat die waterkrisis nou so ernstig is dat dit grondwetlike en bestuursverantwoordelikhede buite munisipale politiek aktiveer. Artikel 27(1)(b) van die Grondwet erken die reg op toegang tot voldoende water. Wanneer munisipale mislukking langdurig en sistemies raak, kan hoër regeringsfere nie skuil agter die fiksie dat dit bloot ’n plaaslike administratiewe kwessie is nie. Dit word ’n nasionale grondwetlike probleem – want regte hang nie van munisipale bevoegdheid af nie.

Dit is waar die FW de Klerk Stigting se werk direk in die huidige konteks inpas. Die Stigting het ’n voorlegging aan die Parlement se Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie oor die Waterdienste-wysigingswetsontwerp van 2025 gedoen en dit ondersteun, omdat sterker regulering en lisensiëring dringend nodig is om ineenstortende munisipale stelsels te herstel en die grondwetlike reg op water te beskerm. Terselfdertyd het die Stigting gewaarsku dat sommige van die wetsontwerp se bevoegdhede beheer té veel kan sentraliseer en munisipaliteite kan ondermyn indien dit nie noukeurig beperk en prosedureel billik gemaak word nie. Die antwoord is nie om regulering te verswak nie, maar om dit grondwetlik toepaslik te maak. Dit sluit in geteikende bevoegdhede, deursigtige prosesse, duidelike aanspreeklikheid en remedies wat dienslewering verbeter terwyl samewerkende regering gerespekteer word. Die Stigting sal ook ’n voorlegging doen oor die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuuragentskap van 2025, omdat grootmaatinfrastruktuur en die bestuur van nasionale waterhulpbronne nie losgemaak kan word van die alledaagse werklikheid van diensversaking op straatvlak nie.

Die oorhoofse boodskap van Begroting 2026 oor waterlewering is eenvoudig. Die Tesourie dui aan dat dit waterinfrastruktuur sal befonds, maar slegs indien bestuurspraktyke effektief toegepas word. Die vraag is nou óf die staat sy fiskale voorneme met gevolgebesuur kan belyn.

Daar is twee toetse waarop die publiek in die komende maande moet aandring. Eerstens, of die toewysing van fondse gerealiseer het. Nié op papier nié, nié in toesprake nié, maar in geouditeerde finansiële vloei. Dit wil sê dat dit wat inwoners vir water betaal, werklik benut word vir waterinfrastruktuur en instandhouding. Tweedens, dat prestasievoorwaardes konsekwent afgedwing word. As dit slegs op sekere munisipaliteite toegepas word, sal dit misluk. As dit billik toegepas word, kan dit begin om die aansporings te herstel wat dienslewering jare lank benadeel het.

Begroting 2026 is nie ’n wondermiddel nie. Dit is ’n benadering – en, vir die eerste keer, ’n benadering wat gegrond is om die werklike meganismes van mislukkings aan te spreek. Dit behels inkomste wat wanbestuur word, swak instandhouding en ’n gebrek aan gevolge. Die publiek is moeg vir toesprake wat die krisis uiteensit. Die land het nie nog komitees nodig wat vergader terwyl pype bars nie. Dit het ’n reëlgebaseerde befondsingsmodel nodig wat bekwame waterbestuur beloon, verskonings vir die wanaanwending van inkomste uitskakel en ingryping aktiveer wanneer ineenstorting chronies raak.

Die Minister het die geld en die struktuur op die tafel geplaas. Nou moet die staat die enigste ding doen wat uiteindelik saak maak Dit is om water betroubaar, wettig en sigbaar te lewer. In ruimtes waar Suid-Afrikaners woon en werk.

OPENBARE GROND IS ’N GRONDWETLIKE INSTRUMENT, NIE NET ’N ITEM OP DIE BALANSSTAAT NIE

Die Konstitusionele Hof se Tafelberg-uitspraak bevestig dat goed geleë openbare grond nie bloot as ’n kommersiële bate behandel kan word wanneer dit kan help om apartheid se ruimtelike nalatenskap ongedaan te maak nie. Waar bekostigbare behuising gebou word, is belangrik, omdat toegang tot werksgeleenthede, vervoer, onderwys en noodsaaklike dienste deel vorm van betekenisvolle toegang tot voldoende behuising. Munisipaliteite en provinsies moet openbare grond dus deursigtig bestuur en vervreem, met opregte openbare deelname en behoorlike erkenning van die grond se grondwetlike waarde.

Read More »

LESSE UIT DIE 2026-GTAC-KONFERENSIE

Die 2026-GTAC-konferensie oor openbare ekonomie het ’n kernwaarheid beklemtoon: Suid-Afrika se werkloosheidskrisis kan nie opgelos word deur mense op te lei vir werksgeleenthede wat nie bestaan nie. Volhoubare vooruitgang vereis bewysgebaseerde beleid, verstandiger openbare besteding en groter ondersteuning vir die informele, township- en plattelandse ekonomieë waar miljoene mense reeds hul bestaan maak. Uiteindelik vereis die Grondwet ’n staat wat waardigheid beskerm, struikelblokke tot geleenthede verwyder en sukses aan werklike uitkomste eerder as die aantal befondsde programme meet.

Read More »

FW DE KLERK STIGTING OOR DIE TERUGHOUDING VAN MUNISIPALE OORDRAGBETALINGS

Die FW de Klerk Stigting neem kennis van die Nasionale Tesourie se besluit om oordragbetalings aan munisipaliteite wat nie aan wetlike vereistes voldoen nie, terug te hou, asook van die Parlement se oproep vir hul dringend die wet nakom. Hierdie verwikkelinge bevestig wat reeds glashelder geword het: Baie munisipaliteite regoor Suid-Afrika verkeer in ’n diep en volgehoue bestuurskrisis.

Read More »