+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

WIE HOU TOESIG OOR DIE WAGHOND? BEKAMP MISBRUIK, NIE GODSDIENSVRYHEID NIE

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 04/08/2026

Godsdiensvryheid is nie ‘n lisensie om enigiemand te bedrieg, aan te rand of uit te buit nie. Die beskerming van gemeentelede vereis egter nie dat die staat toesig hou oor wettige geloofsbeoefening  nie. Suid-Afrika kan misbruik daadwerklik aanpak sonder om aan ‘n openbare liggaam invloed te gee oor wie mag preek, aanbid of ‘n godsdienstige gemeenskap mag vorm.

Wat die Grondwet beskerm

Die Grondwet beskerm godsdiens op verskeie vlakke. Artikel 15 waarborg elkeen vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Artikel 18 beskerm vryheid van assosiasie. Artikel 31 beskerm die reg om saam met ander godsdiens te beoefen en godsdiensverenigings te vorm, daarby aan te sluit en dit in stand te hou.

Hierdie regte bied sterk beskerming, maar is nie absoluut nie. Artikel 31 bepaal  dat dit nie uitgeoefen mag word op ’n wyse wat strydig is met die  Handves van Regte nie. Skadelike gedrag word nie wettig omdat dit in ‘n kerk, moskee, tempel of woning plaasvind nie. Artikel 36 vereis terselfdertyd dat enige beperking op godsdiensvryheid redelik en regverdigbaar moet wees en dat daar oorweeg moet word of minder beperkende middele die doel kan bereik.

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (die CRL-Regtekommissie), onder voorsitterskap van Thoko Mkhwanazi-Xaluva, is juis ingestel om hierdie vryhede te bevorder en te beskerm. Dit moet dus kwesbare gemeentelede beskerm, terwyl dit hoofsaaklik ’n beskermer, eerder as ’n bestuurder,  van die godsdienstige lewe bly.

Waarom die oproep om meer staatsbeheer teruggekeer het

Die kommer oor misbruik is gegrond. Die Kommissie se 2017-ondersoek het finansiële uitbuiting, swak bestuur, belasting- en immigrasiekwessies, asook gevaarlike praktyke aangeteken, soos om lidmate  gras te laat eet  of petrol te laat drink. Dit het voorgestel dat godsdienspraktisyns en aanbiddingsentrums geregistreer en aan sambreelorganisasies en portuurbeoordelingstrukture gekoppel sou word.

Die Parlement het egter in 2018 ‘n meer gematigde standpunt ingeneem. Sy verslag het bevind dat daar reeds voldoende wetgewing bestaan het om die heersende vorme van misbruik aan te spreek,  hoewel skuiwergate en swak toepassing van die wetgewing voortduur. Dit het ‘n handves en gedragskode wat deur die sektor self ontwikkel word, gesteun,  tesame met doelgerigte verbeterings aan wetgewing oor belasting en nie-winsgewende organisasies..

Die kwessie het egter in April 2025 teruggekeer toe die Kommissie ‘n artikel 22-komitee vir die Christelike sektor ingestel het. Sy huidige webblad beskryf die konsepraamwerk as vrywillig, onder leiding van die Christelike sektor en sonder staatslisensiëring. Daardie versekering is belangrik. Die Kommissie se eie mandaat van April 2025 het die Komitee egter ook opdrag gegee om ‘n “regs- en/of wetgewende raamwerk” vir portuurbeoordeling aan te beveel. Gegewe die geskiedenis van voorgestelde registrasie,  is geloofsgemeenskappe geregtig om te vra waar vrywillige etiek eindig en verpligte beheer begin.

Waarom meer staatsbeheer die verkeerde oplossing is

‘n Vrywillige kode kan goeie bestuur, finansiële deursigtigheid en beskerming bevorder. ‘n Verpligte stelsel is iets heel anders. Indien registrasie, akkreditasie of ‘n staatsgesteunde sertifisering  ‘n voorwaarde word om te preek of te funksioneer, word ‘n grondwetlike vryheid afhanklik van amptelike goedkeuring. Kleiner en informele gemeenskappe kan die swaarste las dra, terwyl amptenare betrek kan word by die beoordeling van godsdienstige praktyke eerder as  onwettige gedrag.

Artikel 22 van die Wet op die CRL-Regtekommissie 19 van 2002 laat die Kommissie toe om komitees in te stel wat sy bestaande funksies ondersteun. Dit verleen nie op sigself bevoegdheid om godsdiensbeoefening te lisensieer nie. Enige toekomstige wet wat verpligte beheermaatreëls instel, sal  aan artikel 36 moet voldoen. Die regering sal moet bewys dat die maatreël poporsioneel is en  dat doeltreffende, minder beperkende maatreëls nie sal werk nie.

Handhaaf die wetgewing wat ons reeds het

Die eerste oplossing is beter toepassing van die wette wat reeds bestaan. Die polisie en aanklaers moet optree teen geloofwaardige klagtes van aanranding, seksuele misdrywe, kindermishandeling en bedrog. Die SAID en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling moet verpligtinge toepas wat  aan belastingvrye en geregistreerde nie-winsgewende status gekoppel is.  Waar ‘n spesifieke leemte in die wet  bewys word, moet die Parlement daardie leemte op  ‘n beperkte en doelgerigte wyse stuit,.

Voordat ’n nuwe reguleerder voorgestel word, behoort die regering ‘n oudit van wetstoepassing te publiseer: hoeveel klagtes is ondersoek, hoeveel vervolgings het gevolg, teen watter belasting- of nie-winsgewende organisasie oortredings  is opgetree, en in watter sake het vervolging misluk  omdat geen wet van toepassing was nie? Mislukte  wetstoepassing moet nie verwar word met ‘n gebrek aan wetgewing  nie.

Godsdiensgemeenskappe moet ook vrywillige aanspreeklikheid versterk: behoorlike finansiële beheer, beskermingsreëls, onafhanklike klagtekanale en etiese standaarde wat die sektor self ontwikkel. Deelname moet werklik vrywillig bly, sonder enige wetlike straf of praktiese nadeel vir diegene wat buite die stelsel bly.

Op 4 Augustus 2026 het dr Zweli Mkhize, voorsitter van die Parlement se COGTA-komitee, die grens duidelik getrek: die godsdienssektor moet die inhoud van enige etiese kode bepaal, nie die Kommissie nie. Hierdie benadering beskerm gemeentelede sonder om die waghond in die reguleerder te verander. Suid-Afrika behoort misbruik te straf, bewese skuiwergate te sluit en aanspreeklike instellings te vereis – maar dit behoort nie wettige geloofsbeoefening aan staatstoesig  te onderwerp nie.

Die FW de Klerk Stigting sal hierdie vrae  ondersoek wanneer dit sy Kulturele, Godsdiens- en Taalregte Verslagkaart op 16 September 2026 in Kaapstad bekendstel. Godsdiensvryheid verdien waaksaamheid, nie staatsbeheer nie.

Vir meer oor hierdie onderwerp, lees: Cultural, Religious and Linguistic Rights Report Cards by the FW de Klerk Foundation – https://fwdeklerk.org/cultural-religious-and-language-rights-report-card/

FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM STERKER TOESIG INGEVOLGE NUWE SDK-WET

Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Staatsdienskommissiewet 8 van 2026 as ’n belangrike stap na sterker, onafhanklike toesig oor Suid-Afrika se openbare administrasie. Die uitgebreide mandaat van die Staatsdienskommissie, insluitend toekomstige toesig oor munisipaliteite en openbare entiteite, kan verantwoordbaarheid, professionalisering en dienslewering versterk. Doeltreffende uitvoering sal voldoende hulpbronne, beskerming teen politieke inmenging en duidelike bewys vereis dat SDK-bevindings tot betekenisvolle regstellende optrede lei.

Read More »