Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
WAAROM MUNISIPALE PRESTASIE SAAK MAAK - EN HOE BETER REËLS PLAASLIKE REGERING KAN HERSTEL
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/02/2026
Inleiding
Munisipaliteite speel ’n groter rol as enige ander sfeer van regering om die Grondwet ’n geleefde werklikheid vir Suid-Afrikaners te maak. Tog is dit die sfeer van regering wat die ergste verbrokkel. Suid-Afrikaners ken die daaglikse werklikhede van munisipale verval beter as wat enige beleidsdokument ooit kan beskryf. Geen water, óf aanhoudende waterlekkasies wat vir dae, stukkende verkeersligte wat vir maande nie herstel word nie, slaggate wat permanent sigbaar bly, rommel wat op straathoeke ophoop, straatligte wat al jare lank nie paaie belig nie en deurlopende korrupsie-aantygings terwyl basiese dienste in duie stort.
Om dit aan te spreek, het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (“die Departement”) onlangs konsepwysigings aan die Plaaslike Regering: Munisipale Beplanning- en Prestasiebestuurregulasies gepubliseer. Dit sit uiteen hoe munisipaliteite hul prestasie moet beplan, meet en rapporteer. Die Stigting het aanbevelings ingedien om te verseker dat die Konsepregulasies grondwetlik, prakties en effektief is. Kortom, die aanbevelings sal munisipaliteite help om weer op dreef te kom en vir hul gemeenskappe te werk.
Die Breër Prentjie: Waarom Hierdie Regulasies Saak Maak
’n Munisipaliteit se belangrikste taak is om aan die basiese behoeftes van sy plaaslike gemeenskap te voldoen (Joseph and Others v City of Johannesburg and Others). Die Grondwet vereis dat ’n munisipaliteit dit moet doen op ’n wyse wat aanspreeklik, responsief, oop en eties is.
Om dit moontlik te maak, vereis die Wet op Munisipale Stelsels, 2000, omvattende prestasiebestuur. Tog, het die Ouditeur-Generaal wesenlike nie-nakoming van hierdie wet op prestasiebestuur by 45% van munisipaliteite gerapporteer. Die Wet bemagtig die Minister van om algemene sleutelprestasieaanwysers vir munisipaliteite voor te skryf en vereis dat munisipaliteite hul eie sleutelprestasieaanwysers moet vasstel wat die Minister se algemene sleutelprestasieaanwysers inkorporeer, met openbare deelname in beide prosesse (artikels 41, 42, 43 en 120 van die Wet). Hierdie sleutelprestasieaanwysers funksioneer soos rapportkaarte vir plaaslike regering. Dit meet wat munisipaliteite doen en hoe goed hulle dit doen.
Die departement se Konsepregulasies poog om die Minister se vorige algemene sleutelprestasieaanwysers van 2001 op te dateer en sleutelprestasieareas in te stel. Sleutelprestasieareas bepaal die breë fokusareas waaraan ’n munisipaliteit moet werk, terwyl sleutelprestasieaanwysers die spesifieke, meetbare teikens is wat gebruik word om te beoordeel hoe goed die munisipaliteit binne elke area presteer.
Soos hieronder verduidelik word, is sommige dele van die Konsepregulasies egter onwettig, terwyl ander noodsaaklike grondwetlike beginsels mis.
Minister Moet Wettig Optree
Die wet laat die Minister toe om algemene sleutelprestasieaanwysers vas te stel, maar slegs deur middel van regulasies. Regulasies moet aan ’n openbaredeelnameproses onderwerp word waarin die publiek die geleentheid kry om daarop kommentaar te lewer. Sulke regulasies moet ook aan die Parlement voorgelê word voordat dit in werking tree. Dit is belangrike waarborge wat deelnemende demokrasie moontlik maak en wat deursigtigheid en aanspreeklikheid beskerm.
Die nuwe Konsepregulasies laat die Minister egter toe om sleutelprestasieaanwysers te publiseer deur bloot ’n kennisgewing in die Staatskoerant uit te reik, sonder parlementêre toesig óf openbare insette. Dit sou ’n enkele politikus in staat stel om landwye prestasie reëls vir alle munisipaliteite vas te stel sonder om die publiek, die Parlement óf selfs die provinsies te raadpleeg. Die Stigting het aangevoer dat dit ongrondwetlik en ongeldig is, omdat die wet die Minister nié bemagtig om enige sleutelprestasieaanwysers deur middel vans blote kennisgewing uit te reik nie.
Ontbrekende Grondwetlike Waardes
Die Stigting voer verder aan dat die voorgestelde sleutelprestasieareas kern grondwetlike waardes en pligte uitsluit wat enige prestasie-stelsel behoort te onderlê. Dit is aanspreeklikheid, responsiwiteit, openheid en deursigtigheid, professionele etiek en integriteit. En die doeltreffende, ekonomiese en effektiewe gebruik van hulpbronne. Hierdie waardes is die ruggraat van goeie regering en moet die boustene van munisipaliteite se sleutelprestasieareas en sleutelprestasieaanwysers vorm.
Die voorbeeld van Ugu Distriksmunisipaliteit, KwaZulu-Natal, toon die impak van swak gedefinieerde sleutelprestasieaanwysers in die praktyk. Die gevallestudie, geïdentifiseer in die Ouditeur-Generaal se verslag, het betrekking op ’n sleutelprestasieaanwyser wat bedoel was om die bou van ’n beton opgaardam te monitor. Die sleutelprestasieaanwysers het egter verwys na die “aantal gekoppelde huishoudings”, wat niks met die bouvordering van die opgaardam te doen gehad het nie. As gevolg van hierdie swak gedefinieerde sleutelprestasieaanwysers was die teikens nutteloos om te monitor of die opgaardam betyds voltooi sou word of nie. Die plaaslike gemeenskap was vir weke sonder water. Dit was só erg dat sommige skole moes sluit en duisende kinders nie skool toe kon gaan nie. Sonder duidelike maatstawwe kan die munisipaliteit nie probleme vroeg identifiseer en vinnig reageer nie, wat die inploffing van dienslewering vererger en inwoners benadeel.
Dít is waarom prestasiemonitering op openbare deelname, aanspreeklikheid en responsiwiteit gegrond moet wees. Gemeenskappe behoort ’n sê te hê oor hoe hul munisipaliteit sukses meet. ‘n Geleentheid om uit te wys dat die aantal gekoppelde huishoudings nie meet hoe die bou van ‘n opgaardam vorder nie. Gemeenskappe behoort ook ‘n geleentheid te hê om hulle bekommernisse te opper. Byvoorbeeld tydens ’n wyk se gemeenskapsvergadering oor die vordering van die bou van die opgaardam, moet daar ’n plig wees om terug te rapporteer, op te tree en resultate te toon.
Die Stigting se Praktiese Oplossings
Die Stigting se voorlegging bied gedetailleerde, werkbare oplossings wat realisties munisipale dienslewering kan verbeter:
1. Sleutelprestasieaanwysers Moet op Grondwetlike Waardes Gegrond Wees
Grondwetlike waardes en pligte moet die “boustene” wees waarvolgens prestasie gemeet word. Die Stigting het die volgende vyf kernboustene voorgestel: Aanspreeklikheid, responsiwiteit, openheid, professionele etiek en integriteit, en die doeltreffende, ekonomiese en effektiewe gebruik van hulpbronne. Hierdie waardes moet uitdruklik beide sleutelprestasieareas en sleutelprestasieaanwysers vorm.
2. Gebruik sleutelprestasieaanwysers Wat Gemeenskappe Self Kan Sien en Toets
Die Stigting het sleutelprestasieaanwysers voorgestel wat gemeenskappe self in hul alledaagse lewens kan verifieer. Byvoorbeeld:
- Tyd om foute te herstel: As ’n waterlek gerapporteer word, kan die sleutelprestasieaanwysers vereis dat herstel binne ’n vaste tyd, soos 48 uur, plaasvind.
- Diensleweringskonsekwentheid: Vir hoeveel weke het rommelverwydering nie volgens skedule plaasgevind nie?
- Finansiële aanspreeklikheid: Het die munisipaliteit ’n skoon oudit ontvang? Is amptenare gedissiplineer vir onreëlmatige besteding?
- Openbare deelname: Hoeveel raadslede is opgelei om die gemeenskap op betekenisvolle wyse te betrek?
- Openheid van inligting: Word begrotings, prestasieverslae en tenders in intyds aanlyn gepubliseer?
Hierdie sleutelprestasieaanwysers is meetbaar, deursigtig en van belang in gemeenskappe se daaglikse lewens.
3. Munisipaliteite Moet Duidelike Aanspreeklikheidslyne Hê
Die Stigting beveel ook aan dat sleutelprestasieaanwysers direk aan elke vlak van personeel gekoppel moet word – van die munisipale bestuurder af tot by senior bestuurders en dan tot heel onder na die laer-vlak personeel. Sulke afwaarts‑gekoppelde sleutelprestasieaanwysers sal ’n kanaal van aanspreeklikheid skep van topbestuur tot by die werker wat gebarste pype moet herstel. Wanneer almal weet wie waarvoor verantwoordelik is, word aanspreeklikheid duideliker en word gevolgebestuur makliker toegepas.
4. Gemeenskapsverifikasie van Munisipale Eise
Die Stigting stel voor dat gemeenskapsterugvoervergaderings gebruik word om munisipale eise te verifieer. Byvoorbeeld, ’n wyksraadslid wat ’n gemeenskapsvergadering vir sy/haar wyk hou, sal vinnig weet of die slaggate wat die munisipaliteit beweer dit herstel het, werklik herstel is en of die gemeenskap wel toegang tot water het. Dit bemagtig gemeenskappe om hul munisipale regering aanspreeklik te hou en verbeter die kwaliteit van data.
Finale Aanbevelings
Die Stigting het vir twee kern wysigings aan die Konsepregulasies gevra, naamlik dat:
- Die sleutelprestasieaanwysers in regulasies gepubliseer moet word en nie net in ’n blote kennisgewing nie. Dit sal verseker dat grondwetlike prosesse (openbare insette en parlementêre toesig) gevolg word.
- Die sleutelprestasieaanwysers gegrond moet word op grondwetlike waardes en pligte, sodat onder meer aanspreeklikheid, openheid en responsiwiteit die grondslag van munisipale prestasiebestuur word.
Ten slotte
Suid-Afrikaners verdien munisipaliteite wat skoon water lewer, rommel verwyder, paaie herstel, geld eerlik bestuur en inwoners by besluite betrek. Die Stigting se vertoë bied ’n padkaart vir die prestasiebestuur van munisipaliteite om te help verseker dat dit ’n werklikheid word. Dit doen ’n beroep vir deursigtige, grondwetlike, gemeenskapsgesentreerde prestasiereëls wat plaaslike regering werklik aanspreeklik maak. Indien dit geïmplementeer word, kan hierdie voorstelle sukkelende munisipaliteite verander in die responsiewe, etiese en effektiewe instellings wat ons Grondwet vereis en ons gemeenskappe dringend nodig het.

STIGTING VERSLAGKAART BEKLEMTOON IMPLEMENTERINGSGAPING IN KULTURELE, GODSDIENSTIGE EN TAALREGTE
Die FW de Klerk Stigting het vandag sy KGT-Regteverslagkaart vir 2026 vrygestel, wat beduidende ontwikkelings identifiseer wat kulturele, godsdienstige en taalregte raak, terwyl dit volgehoue implementeringsuitdagings regoor Suid-Afrika se grondwetlike landskap uitlig.

WIE HOU TOESIG OOR DIE WAGHOND? BEKAMP MISBRUIK, NIE GODSDIENSVRYHEID NIE
.In hierdie artikel voer die FW de Klerk Stigting aan dat Suid-Afrika misbruik in godsdiensgemeenskappe moet aanpak sonder om wettige geloofsbeoefening onder staatstoesig te plaas. Bestaande strafregtelike, belasting- en niewinsgewende organisasie-wetgewing moet behoorlik toegepas word, terwyl geloofsgemeenskappe vrywillige beskermingsmaatreëls en aanspreeklikheid versterk. Die beskerming van gemeentelede moet nooit die uitoefening van godsdiensvryheid afhanklik maak van amptelike goedkeuring nie.

WANNEER OPENBARE GELD WANBESTEE WORD, BETAAL GESINNE TWEE KEER
In hierdie tweede aflewering van die FW de Klerk Stigting se Money Smart Week Suid-Afrika 2026-reeks verskuif die fokus van persoonlike inkomste na die openbare geld wat bepaal hoe ver dit kan strek. Wanneer dienste misluk, betaal gesinne twee keer: eers deur belasting, tariewe en heffings, en dan weer om noodsaaklike dienste uit hul eie sak te vervang. Die artikel verduidelik waarom dit noodsaaklike dade van grondwetlike burgerskap is om die rand se spoor te volg, verantwoordbaarheid te eis en aan openbare prosesse deel te neem.