Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
VERKLARING OOR STATS SA SE VOORGESTELDE REGISTER VIR INFORMELE BESIGHEDE
Uitgereik deur Amirah Hassim namens die FW de Klerk Stigting op 17/07/2025
Die FW de Klerk Stigting verwelkom Statistiek Suid-Afrika se voorstel om ’n nasionale register vir informele en kleinskaalse besighede te vestig. Die voorgestelde register sal ’n belangrike leemte vul in die manier waarop ons ekonomie gemeet en verstaan word.
Artikel 22 van die Grondwet waarborg elke persoon die reg om vrylik hul beroep, ambag of profesie te kies. Vir miljoene Suid-Afrikaners word daardie vryheid nie in direksiekamers uitgeoefen nie, maar op sypaadjies, in agterplase, informele markte en via mobiele toepassings. Die informele ekonomie is nie ’n randverskynsel nie – dit voorsien in die lewensbestaan van na raming 8,2 miljoen mense (Finscope 2023), meer as dubbel die 3,3 miljoen wat in amptelike arbeidsopnames aangeteken is. In die jeuggroep, waar werkloosheid op 46,1% staan, is informele werk dikwels die enigste bron van inkomste.
Hierdie register is lank reeds nodig. Dit moet die akkuraatheid van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname verbeter en vir beleidmakers ’n meer realistiese beeld gee van hoe Suid-Afrikaners leef en werk. Indien dit goed ontwerp word, kan dit geteikende ondersteuning aan mikro-ondernemings fasiliteer, finansiële insluiting bevorder en oorgange skep van oorlewingsbestaan na volhoubare ondernemings. Soos die Statistikus-Generaal, Risenga Maluleke, uitgewys het, sal dit ook die Departement van Kleinsakeontwikkeling in staat stel om hul intervensies meer doeltreffend aan te pas.
Die nodige infrastruktuur moet ook geskep word om ’n gunstige omgewing te verseker waarin die informele ekonomie kan floreer. Plekke soos taxistaanplekke, treinstasies en ander munisipale ruimtes waar die armstes van ons gemeenskappe hul bestaan maak, behoort omskep te word in openbare markte met toepaslike infrastruktuur om die informele ekonomie te ondersteun. Daar is baie om by ander lande soos Thailand, Turkye en elders te leer, waar informele ekonomieë werklik floreer.
Laat ons dit duidelik stel: waardigheid spruit nie slegs uit formele indiensneming nie. Dit kom uit enige werk – mits dit eerlik is, selfgedrewe en ’n bydrae tot die samelewing lewer. Nelson Mandela het ons herinner dat, “Die oorkoming van armoede nie ’n gebaar van liefdadigheid is nie, maar ’n daad van geregtigheid.” Om die informele ekonomie te erken, is om die stille geregtigheid raak te sien wat daagliks in ons strate nagestreef word.
Ons doen ’n ernstige beroep op die vinnige implementering van hierdie register en roep alle rolspelers op – van plaaslike munisipaliteite tot nasionale departemente – om informele werkers op gelyke grondslag tegemoet te kom. As ons werkloosheid wil verminder, die belastingbasis wil verbreed en ekonomiese waardigheid wil bevorder, moet ons begin waar mense reeds hul bestaan voer. Die skadu-ekonomie is nie ’n bedreiging nie – dit is ’n fondament waarop ’n inklusiewer toekoms gebou kan word.