Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
’N JAAR VAN KONTRASTE: VOORUITGANG EN TERUGSLAAE IN SUID-AFRIKAANSE ONDERWYS
Uitgereik deur Sonia Twongyeirwe namens die FW de Klerk Stigting op 11/07/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ’n duidelike en omvattende beoordeling van die stand van fundamentele regte ingevolge die Suid-Afrikaanse Grondwet. Een van die sleutelgebiede waarop gefokus word, is die reg op onderwys soos vervat in artikel 29. Dit sluit elke burger se reg op basiese en verdere onderwys in, en – waar dit redelikerwys doenlik is – die reg om daardie onderwys in ’n amptelike taal van hul keuse by openbare instellings te ontvang.
Vooruitgang en Verdere Stappe
In 2024, het Suid-Afrika ’n historiese matriekslaagsyfer van 87,3% behaal – die hoogste in die land se geskiedenis en ’n toename van byna 5% vanaf 2023 se 82,9%. Van dié wat geslaag het, het 47,8% gekwalifiseer vir toelating tot Baccalaureus-studies (d.w.s. universiteitsvrystelling). Verder, nadat die Wet op die Agtiende Wysiging van die Grondwet, 2023, in werking tree, sal die Grondwet gewysig word om Suid-Afrikaanse Gebaretaal as ’n amptelike taal te erken. (Ten tyde van skrywe, moet die President nog ’n datum vir die wet se inwerkingstelling via ’n proklamasie in die Staatskoerant bepaal.) Die Departement van Basiese Onderwys het ook beduidende vordering gemaak met die bevordering van inheemse tale in skole deur die suksesvolle Oos-Kaapse Moedertaalgebaseerde Tweetalige Onderwysmodel, wat landwyd uitgebrei sal word. Die doel is dat die 2025-leerdergroep hul primêre onderwys in hul moedertaal voltooi en hul Algemene Onderwyssertifikaat-eksamen in 2030 aflê, gevolg deur hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2033.
Struikelblokke en Terugslae
Die BELA-wet: Sentrale beheer ten koste van gemeenskappe
Die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, 2024 (alom bekend as die “BELA-wet”), is op 13 September 2024 deur die President onderteken en het op 24 Desember 2024 in werking getree. Die BELA-wet kriminaliseer ouers (met tot 12 maande gevangenisstraf) indien hulle versuim om hul kind vanaf graad R in te skryf. Dit is kommerwekkend dat die kriminalisering van ouers as ’n oplossing beskou word; een wat oneweredig sosio-ekonomies kwesbare gesinne sal raak. Die BELA-wet verleen ook aan die Staat magte om besluite wat deur ouers via Skoolbeheerliggame (“SBLe”) geneem is, te oorheers – insluitend toelatings- en taalbeleid besluite. Dit ondermyn demokrasie op voetsoolvlak deur mag weg te neem van ouers en plaaslike gemeenskappe en mag lei tot minder ouerbetrokkenheid in skoolregering, wat die skool se vermoë om op plaaslike behoeftes te reageer, kan verminder. SBLe moet egter weet dat provinsiale hoofde van onderwys nié onbeperkte magte ontvang het nié; verskeie vereistes moet nagekom word voordat departemente skoolbeleide mag wysig. Die Minister is ook versoek om BELA-opleiding vir amptenare te prioritiseer om magsmisbruik te voorkom.
Die toestand van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema – ’n slag teen geleenthede
Die Grondwet verplig die Staat om die reg op verdere onderwys in ‘n toenemende mate beskikbaar en toeganklik te maak vir almal deur redelike maatreëls (artikel 29(1)(b)). Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (alombekend as “NSFAS”) is die meganisme waardeur die Staat dit beoog. Die bedanking van die voorsitter van die NSFAS-raad en die besluit van die minister van hoër onderwys en opleiding in April 2024 om die raad te ontbind en NSFAS onder administrasie te plaas, weerspieël sistemiese mislukkings. Hierdie mislukkings benadeel beide studente en die toekoms van Suid-Afrika se ekonomie.
Fiskale strengheid in die klaskamer – die prys van begrotingskortings
Verskeie provinsiale onderwysdepartemente het beduidende strukturele aanpassings gemaak om ernstige begrotingskortings in 2024 te hanteer:
- Die Wes-Kaap was in die kollig weens sy besluit om die aantal onderwysposte te verminder ná ’n R3,8 miljard begrotingskorting. Die krisis is vererger deur die nasionale regering se besluit om nie die 2023-loonooreenkoms ten volle te finansier nie, wat die provinsie genoop het om 36% van die tekort self te dek.
- KwaZulu-Natal kon nie 11 092 onderwysposte bekostig nie weens ’n verstommende R4 miljard begrotingstekort.
- Mpumalanga het die druk van ’n tekort van R876 miljoen in die gesig gestaar.
- Noordwes het gesukkel met ’n tekort van R485 miljoen.
Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het gesê die oorsprong van die fiskale krisis lê in swak beleid keuses en ’n stagnante ekonomie. Dit het kritieke sektore soos onderwys kwesbaar gelaat. Sy het beklemtoon dat langtermynoplossings op ekonomiese groei moet fokus en onderwys as ’n sleutel belegging in die land se toekoms moet prioritiseer, wat die noodsaaklikheid beklemtoon van verhoogde befondsing vir onderwys, onderwyser ontwikkeling, onderwystegnologie en die uitwissing van onveilige infrastruktuur.
Ten Slotte
Die onderwyssektor steier onder die las van begrotingskortings, die BELA-wet en die ontbinding van NSFAS se raad deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding. Hierdie faktore onthul sistemiese mislukkings in die hantering van die uitdagings wat die onderwys van Suid-Afrika se jeug teister. Onlangse verbeterings in matriek-slaagsyfers en die instelling van Moedertaalgebaseerde Tweetalige Onderwys dui egter op klein oorwinnings en vooruitgang in die rigting van toekomstige verbeterings. Vir meer inligting oor die gesondheid van hierdie belangrike reg, sien die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart.