+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

GEBRUIKLIKE HUWELIKE, EIENDOMSREGTE EN GRONDWETLIKE GELYKHEID EN WAAROM VVC VERSUS JRM VIR SUID-AFRIKANERS BELANGRIK IS

Uitgereik deur Lusanda Mahkuntsu namens die FW de Klerk Stigting op 12/02/2026

Op die oog af skyn VVC v JRM ’n private familiestryd te wees wat uit egskeidingsverrigtinge spruit. In werklikheid stel die saak vraagstukke oor Suid-Afrika se grondwetlike verbintenisse tot gelykheid, menswaardigheid, die beskerming van eiendomsregte en regssekerheid. Dit raak hoe gesinne hul lewens organiseer, hoe rykdom verdeel word, asook hoe die reg huwelike hanteer wat ingevolge die gewoontereg voltrek is.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak is belangrik, omdat dit opklaar hoe die reg eggenote in gebruiklike huwelike beskerm wanneer hulle later ’n burgerlike huwelik met mekaar sluit. In plaas daarvan om wetgewing ongeldig te verklaar, het die Hof die geskil deur statutêre uitleg besleg en sodoende langdurige onsekerheid uitgeskakel wat baie Suid-Afrikaners in die praktyk raak.

Een aaneenlopende huwelik

Die Konstitusionele Hof het bevestig dat wanneer eggenote wat ingevolge die gewoontereg getroud is, later met mekaar ingevolge die burgerlike reg trou, dit nie ’n nuwe huwelik skep nie. Dit bly ‘n aaneenlopende verhouding tussen dieselfde twee persone.

Wat verander, is nie die huwelik self nie, maar die reg wat dit reguleer. Die eggenote bly deurgaans getroud. Dit beteken dat alle regte en verpligtinge wat gedurende die gebruiklike huwelik ontstaan het, voortduur nadat die burgerlike huwelik gesluit is. Eiendom wat gedurende die gebruiklike huwelik opgebou is, verloor nie sy regsbeskerming bloot, omdat daar later ’n burgerlike huwelik gesluit word nie.

Regte wat deur die geskil geraak word

Die grondwetlike betwisting van artikel 10(2) van die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike, 1998 het drie nou verweefde regte geraak: gelykheid, eiendom en menswaardigheid. Elkeen speel ’n konkrete rol in die alledaagse lewens van Suid-Afrikaners.

Gelykheid

Suid-Afrika se geskiedenis word gekenmerk deur die sistematiese marginalisering van gebruiklike huwelike. Vir dekades is hulle as regtens minderwaardig behandel, met verwoestende gevolge, veral vir vroue. Gelykheid ingevolge die Grondwet bepaal dat eggenote – veral vroue – op die reg kan staatmaak om hul ekonomiese posisie tydens die huwelik en die ontbinding daarvan, te beskerm.

Die eggenoot in die verrigtinge het aangevoer dat die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike, ongelykheid bestendig, omdat dit eggenote in gebruiklike huwelike toelaat om hul huweliksgoederebedeling te wysig sonder die geregtelike waarborge wat in siviele huwelike vereis word. ’n Huweliksbatebedeling bepaal óf eggenote eiendom gelykop deel, óf afsonderlike boedels behou. Indien hierdie uitleg aanvaar is, sou dit beteken het dat eggenote wat ingevolge die gewoontereg getroud is, swakker regsbeskerming geniet, ’n versterking van historiese nadeel.

Die Konstitusionele Hof het hierdie uitleg verwerp. Dit het bevestig dat gebruiklike huwelike gelyke status ingevolge die Grondwet geniet en dat die reg nie informele, of onbeskermde, wysigings aan eiendomsregte toelaat nie. Sodra eggenote reeds getroud is, moet enige verandering aan ’n bestaande huweliksgoederebedeling plaasvind deur hofgoedkeuring ingevolge artikel 21 van die Wet op Huweliksgoedere, 1984. Hierdie uitleg verseker dat eggenote in gebruiklike huwelike nie aan verminderde regsbeskerming blootgestel word nie.

Eiendom

Eiendomsregte is sentraal tot ekonomiese sekerheid in Suid-Afrika. Vir baie gesinne verteenwoordig die gemeenskaplike boedel wat deur ’n huwelik geskep word, toegang tot behuising, finansiële stabiliteit en langtermynsekuriteit.

Die Hooggeregshof het bevind dat die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike arbitrêre ontneming van eiendom moontlik gemaak het deur toe te laat dat eggenote regte in ’n gemeenskaplike boedel verloor sonder geregtelike toesig. Die Konstitusionele Hof het nie hiermee saamgestem nie. Dit het verduidelik dat eiendom wat gedurende ’n gebruiklike huwelik opgebou is, beskerm bly. Die latere sluiting van ’n burgerlike huwelik stroop nie enigeen van die eggenote van bestaande vermoënsregte nie.

Die Hof het die egpaar se huweliksvoorwaardekontrak verwerp, omdat hulle gepoog het om hul huweliksgoederebedeling privaat te verander sónder om eers hof goedkeuring te verkry. Ingevolge die Suid-Afrikaanse reg kan eggenote wat reeds getroud is, nie bloot deur ooreenkoms alleen hul stelsel van huweliksgoedere wysig nie. Omdat die vereiste regsproses nie gevolg is nie, het die kontrak geen regseffek gehad nie.

Hierdie vereiste van hof goedkeuring weerspieël die belangrikheid van geregtelike toesig in aangeleenthede wat gedeelde eiendom raak. Geregtelike toesig beteken dat ’n regter éérs enige ooreenkoms moet goedkeur wat verander hoe getroude partye eiendom deel. Hierdie proses bestaan om te verseker dat een eggenoot, dikwels die ekonomies swakker party, nie in ’n onbillike reëling ingedwing word nie. Dit beskerm ook mense of besighede aan wie die egpaar geld skuld, deur te verseker dat eiendomsreëls nie op ’n wyse verander word wat bestaande skulde ontduik nie.

Dit illustreer ’n belangrike beginsel: waar gedeelde eiendom geraak word, vereis die reg ’n formele proses om regverdigheid, deursigtigheid en regssekerheid te verseker.

 

Menswaardigheid en regsherkenning

Vir baie Suid-Afrikaners is ’n gebruiklike huwelik nie bloot ’n regskeuse nie, maar ook ’n kulturele een. Alhoewel menswaardigheid nie as ’n afsonderlike regskwessie beslis is nie, onderlê dit die Hof se redenasie.

Om gebruiklike huwelike as brose reëlings te behandel wat sonder beskerming gewysig kan word, sou die menswaardigheid ondermyn van dié wat kies om ingevolge die gewoontereg te trou. Deur te bevestig dat gebruiklike huwelike voortdurende regsgevolge en beskerming inhou, het die Hof beklemtoon dat hulle dieselfde respek as burgerlike huwelike verdien.


Wat die Hof wél en nie beslis het nie

Die Konstitusionele Hof het nie artikel 10(2) van die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike ongrondwetlik verklaar nie. Inteendeel, dit het verduidelik dat die reg grondwetlik gesond is wanneer dit behoorlik uitgelê word. Die Hof het uiteengesit hoe artikel 10(2) saam met artikel 21 van die Wet op Huweliksgoedere funksioneer. Dit het bevestig dat hof goedkeuring vereis word wanneer eggenote hul huweliksgoederebedeling wil verander.


Hoekom dit vir Suid-Afrikaners saak maak

  • Regssekerheid vir gesinne

Baie Suid-Afrikaners beweeg gedurende hul lewens tussen die stelsels van die gewoontereg en die burgerlike reg. Sonder duidelikheid loop gesinne die risiko van onsekerheid oor watter reëls op hul huwelik, eiendom en verpligtinge van toepassing is. Hierdie uitspraak bevorder stabiliteit en voorspelbaarheid deur te verduidelik hoe die reg toegepas word wanneer gebruiklike en burgerlike huwelike mekaar raak.

  • Beskerming van ekonomies kwesbare eggenote

Die Hof se benadering verhoed dat informele, private ooreenkomste die regte van eggenote met minder bedingingsmag ondermyn. Geregtelike toesig bly ’n hoeksteen van billikheid waar eiendomsregte op die spel is.


Ten slotte

Die saak van VVC v JRM toon hoe grondwetlike regte in die alledaagse gesinslewe funksioneer. Deur te bevestig dat ’n gebruiklike en burgerlike huwelik tussen dieselfde eggenote ‘n aaneenlopende verhouding vorm. Deur die noodsaak vir hof goedkeuring te beklemtoon wanneer batebedelings verander word, het die Konstitusionele Hof gelykheid, menswaardigheid en die beskerming van eiendomsregte vir baie Suid-Afrikaners versterk. Die saak strek dus wyer as die geskil van een egpaar: dit dra by tot groter billikheid en regssekerheid vir gesinne regoor die land.

OPENBARE GROND IS ’N GRONDWETLIKE INSTRUMENT, NIE NET ’N ITEM OP DIE BALANSSTAAT NIE

Die Konstitusionele Hof se Tafelberg-uitspraak bevestig dat goed geleë openbare grond nie bloot as ’n kommersiële bate behandel kan word wanneer dit kan help om apartheid se ruimtelike nalatenskap ongedaan te maak nie. Waar bekostigbare behuising gebou word, is belangrik, omdat toegang tot werksgeleenthede, vervoer, onderwys en noodsaaklike dienste deel vorm van betekenisvolle toegang tot voldoende behuising. Munisipaliteite en provinsies moet openbare grond dus deursigtig bestuur en vervreem, met opregte openbare deelname en behoorlike erkenning van die grond se grondwetlike waarde.

Read More »

LESSE UIT DIE 2026-GTAC-KONFERENSIE

Die 2026-GTAC-konferensie oor openbare ekonomie het ’n kernwaarheid beklemtoon: Suid-Afrika se werkloosheidskrisis kan nie opgelos word deur mense op te lei vir werksgeleenthede wat nie bestaan nie. Volhoubare vooruitgang vereis bewysgebaseerde beleid, verstandiger openbare besteding en groter ondersteuning vir die informele, township- en plattelandse ekonomieë waar miljoene mense reeds hul bestaan maak. Uiteindelik vereis die Grondwet ’n staat wat waardigheid beskerm, struikelblokke tot geleenthede verwyder en sukses aan werklike uitkomste eerder as die aantal befondsde programme meet.

Read More »

FW DE KLERK STIGTING OOR DIE TERUGHOUDING VAN MUNISIPALE OORDRAGBETALINGS

Die FW de Klerk Stigting neem kennis van die Nasionale Tesourie se besluit om oordragbetalings aan munisipaliteite wat nie aan wetlike vereistes voldoen nie, terug te hou, asook van die Parlement se oproep vir hul dringend die wet nakom. Hierdie verwikkelinge bevestig wat reeds glashelder geword het: Baie munisipaliteite regoor Suid-Afrika verkeer in ’n diep en volgehoue bestuurskrisis.

Read More »