Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING DOEN DRINGENDE BEROEP VIR DEURSIGTIGHEID OOR DIE VERKIESINGSHERVORMINGSPROSES
Uitgereik deur Daneila Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 20/08/2026
Die FW de Klerk Stigting het ‘n beroep op die Parlement gedoen om dringend duidelikheid te verskaf oor sy oorweging van die Verslag van die Verkiesingshervormingsraadplegingspaneel (“ERCP”), en gewaarsku dat voortgesette onsekerheid betekenisvolle verkiesingshervorming voor die 2029 nasionale en provinsiale verkiesings in gedrang kan bring.
Die ERCP is ingevolge wetgewing ingestel en het die opdrag ontvang om Suid-Afrika se verkiesingstelsel te hersien en hervormings aan te beveel.
“Onder die sterkste boodskappe wat die publiek aan die ERCP oorgedra het, was die behoefte aan ‘n stelsel wat politici teenoor kiesers aanspreeklik maak, eerder as teenoor ‘n politieke party,” sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program. “Suid-Afrika se verkiesingstelsel is hiervoor verantwoordelik: Dit bepaal hoe ons stemme gebruik word om te besluit hoeveel setels in die Parlement aan watter politieke party toegeken word, en hoe daardie politieke partye besluit watter lid daardie setel ontvang.“
Hoewel die Parlement die ERCP-verslag reeds langer as ses maande voor hom het, bly belangrike aspekte van die proses onduidelik, insluitend tydlyne, institusionele reëlings, geleenthede vir openbare deelname en belangrike besluitnemingsmylpale.
“Ons erken ten volle die kompleksiteit en belangrikheid van verkiesingshervorming,” sê Ellerbeck. “Deursigtigheid, aanspreeklikheid en responsiwiteit vereis egter dat die Parlement duidelik kommunikeer hoe hy van voorneme is om die ERCP-verslag te verwerk. Die publiek het die reg om te weet hoe hierdie tydsensitiewe aangeleentheid, wat die kern van ons grondwetlike demokrasie raak, hanteer sal word.“
Die Parlement het ook aangedui dat die betrokke Komitees op 28 Augustus 2026 vergader, waartydens die aangeleentheid mag oorweeg word.
“Verkiesingshervorming is nie iets wat oornag geïmplementeer kan word nie,” sê Ellerbeck. “Regtens moet die Parlement die verslag oorweeg,” het sy bygevoeg. “Die kernvraag is of dit binne ‘n tydsraamwerk gedoen sal word wat uitvoering gee aan die doel van die wetgewing en betekenisvolle hervormings moontlik maak voor die volgende nasionale verkiesing.“
Die Stigting het versoek dat ‘n substantiewe opdatering oor die stand van die proses verskaf word, insluitend enige padkaart, verwagte tydlyne en planne vir openbare deelname, en bly verbind tot konstruktiewe betrokkenheid oor hierdie belangrike demokratiese aangeleentheid.
EINDE

FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM STERKER TOESIG INGEVOLGE NUWE SDK-WET
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Staatsdienskommissiewet 8 van 2026 as ’n belangrike stap na sterker, onafhanklike toesig oor Suid-Afrika se openbare administrasie. Die uitgebreide mandaat van die Staatsdienskommissie, insluitend toekomstige toesig oor munisipaliteite en openbare entiteite, kan verantwoordbaarheid, professionalisering en dienslewering versterk. Doeltreffende uitvoering sal voldoende hulpbronne, beskerming teen politieke inmenging en duidelike bewys vereis dat SDK-bevindings tot betekenisvolle regstellende optrede lei.

’N TANDLOSE WAGHOND: ’N ARGUMENT OM DIE BEVOEGDHEDE VAN DIE PAN-SUID-AFRIKAANSE TAALRAAD TE VERSTERK
Suid-Afrika se Grondwet waarborg uitgebreide taalregte, maar die implementering daarvan bly inkonsekwent. Hierdie artikel ondersoek hoe die versterking van PanSAT se afdwingingsbevoegdhede linguistiese diversiteit kan bevorder, aanspreeklikheid kan verbeter en kan verseker dat alle taalgemeenskappe gelyke erkenning en beskerming geniet.

WAAROM DIVERSITEIT SAAK MAAK
Diversiteit kan as ‘n meganisme vir nasiebou dien, omdat dit maatskaplike samehorigheid kan versterk en ekonomiese waardekettings ontsluit.