+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

DOKTERS SONDER WERK:
WERKLOOSHEID EN DIE KONTROVERSIëLE NHI-WETSONTWERP

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 25/01/2024

Midde al die uitdagings wat die publieke gesondheidssektor ervaar, staar Suid-Afrika ‘n verwarrende teenstrydigheid in die gesig – ‘n Groep van meer as 800 werklose dokters, teenoor ‘n styging in mediese nalatigheidseise in staatshospitale. Hierdie situasie beklemtoon die grondwetlike implikasies van die Nasionale Gesondheidsversekering Wetsontwerp (“NHI”), wat, allesbehalwe ‘n towerstaf, net blyk om die uitdagings wat tans ervaar word, te vererger.

Die sorgwekkende werkloosheidsyfers binne die mediese beroep laat kritieke vrae ontstaan oor die regering se vermoë om sy menslike hulpbronne effektiewelik te bestuur. Die wanbalans tussen ‘n oorvloed gekwalifiseerde mediese praktisyns wat werk soek en onderbemande hospitale dui op ‘n sistemiese mislukking. Hierdie krisis staan in skrille kontras teenoor die Handves van Menseregte en die grondwetlik reg op toegang tot kwaliteit gesondheidsorg (artikel 27 van die Grondwet).

Die deurlopende protesaksies deur die vakbond South African Medical Association Trade Union, beklemtoon die dringendheid om hierdie kwessie aan te spreek. Hulle dring daarop aan dat die regering die aanstelling van meer as 1 000 gekwalifiseerde en geregistreerde mediese praktisyns, wat tans sonder werk is, moet prioritiseer. ‘n Memorandum van 2023 wat aan die Departement van Gesondheid voorgelê is, beklemtoon die noodsaaklikheid van permanente indiensnamekontrakte, die onmiddelike vulling van vakante registrateursposte en ‘n omvattende hersiening van die salarisstruktuur van dokters, in ooreenstemming met grondwetlike beginsels van gelykheid en regverdige arbeidspraktyke. Ongelukkig het hierdie pleidooie op dooie ore geval.

Die NHI-Wetsontwerp as die voorgestelde oplossing, blyk egter twyfelagtig op sy beste. Besigheidsgroepe, insluitend Business Unity South Africa en die Health Funders Association, het besware geopper teen die grondwetlikheid en haalbaarheid van dié wetsontwerp. Beide het selfs ‘n petisie aan President Ramaphosa gerig waarin hulle vra dat hy nié die wetsontwerp bekragtig nie, vanweë die ernstige bedreigings wat hierdie hierdie wetsontwerp vir burgers se grondwetlike regte en reg op kwaliteit gesondheidsorg inhou.

Kritici voer aan dat die fokus op die NHI-Wetsontwerp, eerder as om die huidige uitdagings aan te spreek, ‘n risiko vir die integriteit van die gesondheidsorgstelsel inhou. Die wetsontwerp ondermyn die reg tot toegang tot vryheid van keuse in terme van gesondheidsorg, deur spesifiek die rol van mediese skemas in te perk. Dit laat die konstitusionele waarskuwingsligte flikker. Die gebrek aan betekenisvolle veranderinge aan die NHI, veral in terme van die publiek se voorgestelde omvattende veranderinge gedurende die openbare verhore, bevraagteken ook die legitimiteit van die prosedure wat gevolg is om die wetsontwerp te aanvaar.

Die finansiële implikasies van die NHI vereis ‘n addisionele R200 miljard in belastinginkomste en dit laat ernstige vrae ontstaan oor die wetsontwerp se bekostigbaarheid en uitvoerbaarheid. Besigheidsgroepe voer aan dat die wetsontwerp, in sy huidige vorm, tot ‘n verdere verval in dienslewering  deur die gesondheidsektor kan lei. Dit sal die land se ekonomiese kwesbaarheid net vererger.

In skrille kontras, beskik Suid-Afrika oor ‘n privaatsektor wat as ‘n baken van effektiewe gesondheidsorg dien. Besigheidsgroepe beklemtoon die verreikende gevolge as die privaatsektor, wat atief bydra tot die welstand van burgers, aan bande gelê. Die moontlike inperkings, vertragings in universele dekking, en ‘n oorbelaste openbare sektor, kan die kwaliteit, oorsig, en bestuur van gesondheidsorg in Suid-Afrika, verder in gedrang bring.

Daarbenewens kan ‘n openbare sektor wat faal om hierdie bekwame dokters in diens te neem, ‘n uittog van talent uit die land veroorsaak. Die onbenutte potensiaal van meer as 1 000 gekwalifiseerde dokters wat tuis sit, is nie net ‘n traumaties vir hierdie professionele persone nie, maar ook ‘n verlies vir die openbare gesondheidstelsel en die gemeenskappe wat van die stelsel afhanklik is.

Ten slotte beklemtoon die hoë getal werklose dokters enersyds en die NHI-Wetsontwerp andersyds, die noodsaak van ‘n genuanseerde benadering tot gesondheidsorghervorming wat met die grondwet strook. President Ramaphosa moet eerder die pleidooie van besigheidsgroepe, gesondheidsdeskundiges en vakbonde omhels, as om ‘n NHI-Wetsontwerp wat die vertoë van kundiges, besigheidslui en die publiek ignoreer, te onderteken. Deur die positiewe bydraes van die privaatsektor te verwelkom en in ag te neem, sal hy verseker dat die grondwetlike regte van burgers versterk word en dat die gesondheidsorgstelsel veerkragtig, toeganklik en volhoubaar bly voortbestaan.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).