DIE REG OP VERDERE ONDERWYS - DOEN DIE STAAT GENOEG, GOED GENOEG?

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op o2/02/2024

Die reg op verdere onderwys:

Die Grondwet verskans die reg nié net tot basiese onderwys nié, maar ook tot verdere onderwys soos omskryf in artikel 29(1)(b). Die Staat is verplig om hierdie reg toenemend beskikbaar en toeganklik vir almal te maak deur redelik haalbare en bekostigbare maatreëls in plek te stel. 

Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is een van die instrumente (die redelik haalbare maatreëls) waardeur die staat kwalifiserende studente finansiëel bystaan om ‘n naskoolse kwalifikasie te verwerf. Dit is ‘n nasionale openbare entiteit wat finansiële hulp aan studente verskaf. Tot dusver was NSFAS se fokus op studente uit arm- en werkersklas gesinne, wat hulle in staat stel om hul studies aan tersiêre instellings te finansier. (Minister Nzimande het egter aangekondig dit sal uitgebrei word deur die Omvattende Studentebefondsingsmodel wat ‘n addisionele R3,8 miljard fonds beloop om studente wat as die “vermiste middel” bekendstaan, dit wil sê studente wat bó die NSFAS-drempel lê, ook te befonds).

In syfers:

Suid-Afrika het ‘n krimpende belastingbasis en ‘n kroniese tekort aan opgeleide werkers in byna alle sektore.

Aan die positiewe kant het ons ook ‘n groeiende jeugbevolking (18- tot 34-jariges), wat ongeveer ‘n derde van die land se hele bevolking uitmaak. Dit beteken dat ons ‘n toekomstige generasie het wat gereed is om tot die arbeidsmag as belastingbetalers (vir ‘n lang tydperk) toe te tree en dat hulle ‘n lewensfase betree waarin hulle opgelei kan word om die vaardigheidstekorte in areas waarin daar kroniese tekorte bestaan nodig, aan te vul.

Ten spyte van die aansienlike grootte van die jeugbevolking is ongeveer 63,9% van 15- tot 24-jariges werkloos. Dit is hoër as die nasionale werkloosheidsyfer.

Verder is slegs ongeveer 13% van die jeugbevolking gegradueerdes.

Wat dit vir ons sê is dat Suid-Afrika, tot sy eie nadeel, nie suksesvol daarin slaag om die reg op verdere onderwys ‘n werklikheid vir alle kwalifiserende jong volwassenes te maak nie.

Korrupsie aantygings:

Om sake verder te kompliseer, het Blade Nzimande die nuusopskrifte gehaal het vir beweerde korrupsie wat aan hom toegedig word as die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie. Na bewering het hy en die voorsitter van NSFAS, Ernest Khoza, saam met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), betaling ontvang vir die kanalisering van tenders en beskerming van bepaalde diensverskaffers. (In 2022 is diensverskaffers aangestel om regstreekse betalings aan studente oor te neem, wat talle probleme tot gevolg gehad het.) Die Demokratiese Alliansie en ActionSA het kriminele klagte teen minister Nzimande aanhangig gemaak. Die Organisation Undoing Tax Abuse (Outa), verantwoordelik vir die bewerings gebaseer op uitgelekte stemopnames, beplan ook om sy bevindings met verskeie owerhede, insluitend die Openbare Beskermer, te deel. Die staat het nog geen stappe teen minister Nzimande gedoen nie.

Vereis NSFAS om te voldoen aan die beginsels van openbare administrasie:

Afgesien van die verskansing van die reg op verdere onderwys binne die handves van menseregte, vereis artikel 195 van die Grondwet dat alle openbare entiteite se administrasies (in elke sfeer van regering, staatsorgane en openbare ondernemings) geskoei moet word op die demokratiese waardes en beginsels wat in die Grondwet verskans is. Dit sluit in NSFAS as ‘n openbare entiteit en wat onderhewig is aan die NSFAS Wet, 1999 en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999. Dit is ook onderhewig aan toesig van die Tesourie. Gedetailleerde bepalings binne die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Tesourie-regulasies sit noodsaaklike rolle vir rekenpligtige gesagsliggame verantwoordelik vir openbare entiteite. Dit sluit voorskrifte in wat verband hou met begrotings, jaarverslae, interne beheermaatreëls, strategiese beplanning, kontantbestuur, beleggingsbeleid en die daarstelling van ouditkomitees.

Twee van die spesifieke genoemde grondwetlike beginsels wat openbare administrasie moet aan voldoen, is die “bevordering van doelmatige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne”; en dat die “openbare administrasie verantwoordingspligtig moet wees”. Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur vereis dat NSFAS se rekenpligtige gesagsliggaam onreëlmatige uitgawes, vrugtelose en verkwistende uitgawes en verliese as gevolg van kriminele optrede voorkom.

Dit beteken dat indien daar diensverskaffers is wat skuldig is aan die verbreking van maatreëls wat verband hou met “doelmatige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne”, óf wat skuldig is aan verkwistende uitgawes is, dat hulle kontrakte beëindig moet word. Studente wat befondsing deur NSFAS verkry het, moet daardie geld betyds en doeltreffend ontvang sonder dat dit verder belas word met addisionele kostes.

Dit beteken ook dat NSFAS (onder leiding van sy rekenpligtige gesagsliggaam) aan die publiek verantwoording moet doen oor hoe hulle ons belastingbetalersgeld tot voordeel van hierdie land se toekoms (ons jeug) aanwend en watter stappe hulle doen om “kriminele optrede’” wat tot wanbestuur lei, die hoof te bied. INDIEN die korrupsiebewerings wat die rondte doen waar blyk te wees, dan behoort die Staat die Grondwet te eerbiedig, die nodige aksie te neem om beweringe te ondersoek en teen die skuldiges op te tree.

Ons kan nie toesien dat die toekoms van ons jong volwassenes deur korrupsie vernietig word nie.