Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE PRYS VAN PRESIDENTIËLE BESLUITELOOSHEID
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 14/04/2026
Suid-Afrika kort nie planne, beloftes of panele nie; dit kort gevolge. Daarom is die ware koste van besluiteloosheid onder president Cyril Ramaphosa nie bloot polities nie – dit is grondwetlik, ekonomies én moreel. ’n Regering wat optrede uitstel ten spyte van ernstige oortredings, lyk nie net swak nie; dit verswak die staat self en gee burgers die boodskap dat aanspreeklikheid kan wag.
Ramaphosa verdedig sy leierskapstyl as een gegrond op konsultasie en konsensus. Konsensus is geen ondeug in ’n grondwetlike demokrasie nie, maar daar is ’n verskil tussen konsultasie en huiwering, tussen beraadslaging en wegdrywing. Konsensus bly ’n deug slegs wanneer dit tot besluitneming lei; word dit ’n plaasvervanger vir besluit, verander dit in traagheid.
Dit is belangrik omdat die Grondwet nie ’n passiewe presidentskap beoog nie. Artikels 83 en 85 lê die plig op die President om die Grondwet te handhaaf en uitvoerende mag uit te oefen. Artikel 91 bemagtig hom om ministers aan te stel en te ontslaan. Artikel 195 vereis ’n aanspreeklike, doeltreffende openbare administrasie. Artikel 237 stel dit nóg duideliker: grondwetlike verpligtinge moet ywerig en sonder versuim nagekom word.
Teen dié maatstaf kies president Cyril Ramaphosa se presidentskap te gereeld proses bo uitkoms. Dit ontken nie sy verdienste nie: hy het die land ná die Zuma-jare gestabiliseer, institusionele kontinuïteit behou en ná die 2024-verkiesing ’n Regering van Nasionale Eenheid saamgesnoer. Hy steun hervormings in die energie-sektor en openbare administrasie. Tog bly sy kernswakheid, soos deur die FW de Klerk Stigting se Constitution and the Cabinet Report Card uitgewys, dié van ’n konsensusbouer wat deur skandale en traagheid gerem word.
Die hantering van die aantygings teen die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, illustreer dit skerp. Met ernstige bewerings wat die integriteit van die strafregstelsel tref, het die President eerder die Madlanga‑kommissie ingestel en die minister met verlof gestuur as om hom summier te ontslaan. ’n Mens hoef nie eers ’n kriminele skuldigbevinding af te wag om die probleem raak te sien nie: wanneer die geloofwaardigheid van polisiëring self op die spel staan, verg politieke aanspreeklikheid ’n laer drempel as ’n hofveroordeling.
Daardie koste word deels in geld gemeet. Die Zondo-kommissie alleen het byna ’n miljard rand gekos. Die Madlanga-kommissie beskik oor ’n stewige begroting van sowat R150 miljoen vir ses maande. Maar die groter prys lê elders: in die geleentheidskoste van ’n staat wat baie weet, baie rapporteer en te min doen. Suid-Afrikaners het nie nóg bewyse nodig dat korrupsie instellings uitgehol het, dat die polisie gewantrou word, of dat die energie- en vragkrisisse die ekonomie seermaak nie. Die probleem is nie onkunde nie – dit is om kennis in werklike gevolge om te sit.
Hier word die uitdrukking “kultuur van straffeloosheid” onmisbaar. Strafloosheid gedy wanneer magsbekleërs glo dat blootstelling oorleefbaar is, vertraging hanteerbaar is en gevolge onderhandelbaar is. As die skakel tussen wangedrag en sigbare aanspreeklikheid te broos is, is die les duidelik: wag dit uit.
Die geskiedenis bewys dat Suid-Afrikaanse leiers nie altyd so huiwerig was nie. FW de Klerk se besluite in Februarie 1990 het die land se koers verander. Thabo Mbeki se afdanking van Jacob Zuma as Adjunkpresident in 2005 het gewys dat politieke gevolge opgelê kan word. Die ANC se besluit om Zuma in 2018 terug te roep, toon dat die politiek blitsig kan beweeg wanneer dringendheid werklik voelbaar is.
Ramaphosa se ondersteuners sal aanvoer dat Suid-Afrika se kompleksiteite versigtigheid vereis – tot ’n punt. Maar versigtigheid kan nie ’n permanente verskoning word nie. Die President is verkies om institusionele agteruitgang te keer, nie om dit te berig nie. Suid-Afrika is té arm vir wegdrywing, té ongelyk vir uitstel en té gewond deur korrupsie om nóg ’n seisoen van prosedurele verwyl te verdra. Die Grondwet vra nie roekeloosheid nie, maar ywerige, rasionele en tydige optrede. Die koste van besluiteloosheid word gemeet in verswakte instellings, vertraagde hervorming, afnemende vertroue en ’n groeiende kultuur van straffeloosheid. Suid-Afrika het nie ’n president nodig wat bloot die stemming peil nie; dit het een nodig wat – wanneer die oomblik aanbreek – bereid is om leiding te neem.

WAAROM DIVERSITEIT SAAK MAAK
Diversiteit kan as ‘n meganisme vir nasiebou dien, omdat dit maatskaplike samehorigheid kan versterk en ekonomiese waardekettings ontsluit.

DIE ROL VAN MUNISIPALITEITE IN DIE BEVORDERING VAN ONS ERFENIS
Suid-Afrika se kulturele en taalerfenis is afhanklik van openbare ruimtes waar gemeenskappe kan leer, bymekaarkom en tradisies van een geslag na die volgende kan oordra. Munisipaliteite speel ’n belangrike rol in die instandhouding van plaaslike geriewe en openbare ruimtes wat help om hierdie grondwetlike regte in die alledaagse lewe betekenis te gee. Met Erfenismaand en die munisipale verkiesings wat nader kom, behoort gemeenskappe duidelike aanspreeklikheid te eis oor hoe hierdie ruimtes onderhou, befonds en beskerm word.

STIGTING VERSLAGKAART BEKLEMTOON IMPLEMENTERINGSGAPING IN KULTURELE, GODSDIENSTIGE EN TAALREGTE
Die FW de Klerk Stigting het vandag sy KGT-Regteverslagkaart vir 2026 vrygestel, wat beduidende ontwikkelings identifiseer wat kulturele, godsdienstige en taalregte raak, terwyl dit volgehoue implementeringsuitdagings regoor Suid-Afrika se grondwetlike landskap uitlig.