+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE PRYS VAN PRESIDENTIËLE BESLUITELOOSHEID

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 14/04/2026

Suid-Afrika kort nie planne, beloftes, panele of proklamasies nie; dit kort al hoe meer gevolge. Die ware prys van besluiteloosheid onder president Cyril Ramaphosa is daarom nie bloot stilisties of polities nie – dit is grondwetlik, ekonomies én moreel. ’n Regering wat ingryping uitstel ten spyte van ernstige wangedrag, lyk nie net swak nie; dit verswak die staat self. Dit stuur aan burgers die boodskap dat aanspreeklikheid kan wag, dat vertroue rekbaar is en dat oortredings op die hoogste vlakke eerder deur prosedures bestuur as deur ware gevolge beantwoord kan word.

President Ramaphosa beskryf homself graag as ’n konsensusbouer. Konsensus is uiteraard geen ondeug in ’n grondwetlike demokrasie nie – Suid-Afrika is ’n diverse samelewing en versigtigheid het sy plek. Maar daar is ’n duidelike verskil tussen konsultasie en huiwering, tussen beraadslaging en dryf. Konsensus is slegs ’n deug wanneer dit tot besluite lei; word dit ’n plaasvervanger vir besluitneming, hou dit op om staatsmanskap te wees en verander dit in traagheid.

Daardie onderskeid is belangrik, want die Grondwet skets nie ’n passiewe presidentskap nie. Artikels 83 en 85 gee die President buitengewone gesag én die plig om die Grondwet te handhaaf en die uitvoerende gesag van die Republiek uit te oefen. Artikel 91 bemagtig hom om ministers aan te stel of te ontslaan. Artikel 195 vereis ’n openbare administrasie wat aanspreeklik, doeltreffend en effektief is. Artikel 237 sê dit nóg duideliker: grondwetlike verpligtinge moet ywerig en sonder versuim nagekom word.

Teen dié maatstaf verkies Ramaphosa se presidentskap te dikwels prosedure bo gevolg. Dit ontken nie sy sterk punte nie. Hy het die land gestabiliseer ná die verwoesting van die Jacob Zuma-jare, institusionele kontinuïteit bewaar en ná die 2024-verkiesing ’n Regering van Nasionale Eenheid bemiddel. Hy steun hervormings in energie en openbare administrasie. Maar sy kernswakheid bly, soos die FW de Klerk Stigting se Constitution and the Cabinet Report Card uitwys: hy is ’n konsensusbouer wat deur skandale en traagheid gekortwiek word. Te gereeld lyk hy meer tuis daarmee om krisisse te bevat as om dit finaal op te los.

Die patroon is oud en bekend. Suid-Afrika stuit op skandale, disfunksie of institusionele verval. Die publiek wag op ’n besliste uitoefening van uitvoerende gesag, maar kry in plaas daarvan ’n kommissie, paneel, taakspan, adviesraad of nóg ’n konsultasieproses. Geen van hierdie instrumente is opsigself onwettig nie: kommissies kan waarheid blootlê, behoorlike proses verseker en ’n feitelike rekord opbou. Maar dit is hulpmiddels, nie prestasies nie. Hulle kan nie ’n permanente plaasvervanger vir uitvoerende oordeel word nie – veral nie wanneer die President reeds beide die grondwetlike mag én die politieke plig het om op te tree nie.

 

Die hantering van die bewerings teen die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, is ’n sprekende voorbeeld. Met ernstige aantygings wat die integriteit van die strafregstelsel raak, het die President verkies om die Madlanga‑kommissie te stig en die minister met verlof te plaas eerder as om hom summier te ontslaan. ’n Mens hoef nie eers oor kriminele skuld uitspraak te lewer om die probleem raak te sien nie. Die vraag is nie of ’n president moet wag vir ’n regsvasgestelde skuldigbevinding voordat iemand tronk toe gaan nie – dit móét hy. Die vraag is of politieke aanspreeklikheid ’n laer drempel vereis as ’n kriminele veroordeling wanneer die geloofwaardigheid van die polisie self op die spel is. ’n President het nie ’n kommissie nodig om hom te herinner dat openbare vertroue in wetstoepassing ’n grondwetlike bate is nie; en as daardie vertroue ernstig geskok is, kom vertraging teen ’n hoë prys.

Daardie koste word deels in geld gemeet. Suid-Afrika het al miljarde rande aan ondersoekkommissies bestee: die Zondo‑kommissie alleen het byna ’n miljard gekos, en die Madlanga-kommissie beplan ’n stewige begroting van sowat R150 miljoen vir net ses maande. Maar die groter prys lê elders – by die geleentheidskoste van ’n staat wat baie weet, baie rapporteer en te min doen. Suid-Afrikaners het nie nóg bewyse nodig dat korrupsie instellings knel, dat die polisie gewantrou word, dat die ineenstorting van vragvervoer uitvoere kelder, of dat die energiekrisis die ekonomie seermaak nie. Ons wéét dit reeds. Die land se probleem is nie onkunde nie; dit is om kennis in werklike gevolge om te skakel.

Hier raak die uitdrukking “kultuur van straffeloosheid” onontbeerlik. Strafloosheid gedy wanneer magsbekleërs glo dat blootstelling oorleefbaar is, dat vertraging hanteerbaar is en dat gevolge onderhandel kan word. ’n Kommissie kan wel bevindinge lewer; ’n verslag kan ter tafel lê. Maar as die skakel tussen wangedrag en sigbare aanspreeklikheid te broos is, leer die politieke klas vinnig die boodskap: wag dit uit. In so ’n klimaat is korrupsie nie net onwettig nie – dit word gaandeweg genormaliseer.

Dit is geensins ’n abstrakte kwessie nie. Openbare vertroue is ’n nasionale bate wat Suid-Afrika besig is om te verkwis. Vertroue in die polisie is broos. Waargenome korrupsie bly hardnekkig hoog. Geloof in politieke leierskap het erodeer. Burgers lees dalk nie staatskoerante of kommissieverslae nie, maar hulle verstaan die seintjies: hulle sien wanneer aangekla figure in amp bly; hulle merk wanneer skandale met versigtig beplande choreografie eerder as duidelike optrede beantwoord word. Die logiese gevolgtrekking is eenvoudig: daar bestaan een standaard vir gewone Suid-Afrikaners en ’n ander vir die politiek verbindes.

Die geskiedenis wys dat demokratiese leierskap in Suid-Afrika nie altyd so huiwerig was nie. FW de Klerk se besluite in Februarie 1990 het die land se koers dramaties verander omdat hy begryp het dat daar oomblikke is wanneer uitstel gevaarliker is as optrede. Net so het Thabo Mbeki se afdanking van Jacob Zuma as Adjunkpresident in 2005 getoon dat politieke gevolge opgelê kan word sonder om vir eindelose institusionele teater te wag. Selfs die besluit van die ANC om Zuma in 2018 terug te roep, bewys dat Suid-Afrikaanse politiek met verstommende spoed kan beweeg wanneer dringendheid werklik gevoel word. Die punt is nie dat elke haastige besluit wys is nie; dit is dat beslissende leierskap moontlik, grondwetlik én soms noodsaaklik is.

Ramaphosa se ondersteuners sal aanvoer dat Suid-Afrika se kompleksiteite versigtigheid vereis – tot ’n mate. Maar versigtigheid kan nie ’n permanente verskoning word nie. Die President is nie bloot die voorsitter van ’n eindelose konsultasiekring nie; hy is die hoof van die nasionale uitvoerende gesag. Hy is nie verkies om ’n kommentator oor institusionele agteruitgang te wees nie – hy is verkies om dit te stuit. Op ’n sekere punt hou die voortdurende beroep op proses op om te gerus te stel en begin dit na ontduiking klink.

Die tragedie is dat president Cyril Ramaphosa die amp met uitsonderlike morele kapitaal betree het. Vir baie Suid-Afrikaners het hy die belofte van vernuwing ná staatskaping beliggaam. Hy het die taal van hervorming, integriteit en ’n bekwame staat gepraat. Maar ’n president wat herhaaldelik huiwer om magsmisbruik te dissiplineer, stuur presies die verkeerde boodskap aan dié wat mag misbruik. In die politiek is toon nie kosmeties nie; dit is vormend.

Suid-Afrika kan daardie les nie langer bekostig nie. Ons is té arm vir wegdrywing, té ongelyk vir uitstel en té gewond deur korrupsie om nóg ’n seisoen van prosedurele vertragings te verdra. Die Grondwet eis nie roekeloosheid nie, maar ywerige, rasionele en tydige optrede. Dít is die standard – nie performatiewe verontwaardiging of eindelose ondersoeke nie, maar daadwerklike aksie.

Die koste van besluiteloosheid word dus nie net in rand gemeet nie – al tel dit ook daar. Dit word gemeet in verswakte instellings, vertraagde hervorming, verminderde vertroue en ’n groeiende kultuur van straffeloosheid. ’n Demokrasie word nie net geskaad wanneer leiers onwettig optree nie, maar ook wanneer hulle nalaat om met die dringendheid op te tree wat ’n grondwetlike regering vereis. Suid-Afrika het nie ’n president nodig wat bloot die gemoed van die vertrek peil nie; dit het een nodig wat, wanneer die land dit eis, bereid is om leiding te neem.

BEKENDSTELLING VAN DIE PLAASLIKE REGERING-VERSLAGKAART 2026

Die Plaaslike Regering-verslagkaart 2026 bied ‘n onafhanklike beoordeling van 50 munisipaliteite in al nege provinsies en meet prestasie aan die hand van vyf pilare van grondwetlike plaaslike regering. Die bevindings toon ‘n skerp ongelyke prentjie, waar sterk institusionele leierskap en gesonde finansiële bestuur deurgaans met beter dienslewering en openbare verantwoordbaarheid verband hou. Deur duidelike bewyse te verskaf van wat werk, wat misluk en waar verbetering moontlik is, help die Verslagkaart inwoners, raadslede en beleidmakers om praktiese en meetbare verandering te eis.

Read More »

MUNISIPALE MISLUKKING IS NIE ONAFWENDBAAR NIE – EN HIERDIE VERSLAG BEWYS DIT

Die Plaaslike Regering-verslagkaart 2026 van die FW de Klerk Stigting voer aan dat munisipale mislukking nie onafwendbaar is nie, maar die gevolg is van identifiseerbare institusionele tekortkominge wat gemeet en reggestel kan word. Deur 50 munisipaliteite aan 100 objektiewe maatstawwe te toets, wys die verslag waar plaaslike regering verbeter, waar dit agteruitgaan en wat goed presterende munisipaliteite van swak presterendes onderskei. Dit bied praktiese, bewysgegronde aanbevelings om grondwetlike regering te versterk, dienslewering te verbeter en munisipale herstel meetbaar te maak.

Read More »

FW DE KLERK STIGTING STEL DIE PLAASLIKE REGERING-VERSLAGKAART 2026 BEKEND

Die FW de Klerk Stigting se Plaaslike Regering-verslagkaart 2026 bied ’n onafhanklike, niepartydige beoordeling van munisipale prestasie en grondwetlike aanspreeklikheid regoor Suid-Afrika. Deur 100 gepubliseerde maatstawwe oor vyf kernpilare toe te pas, evalueer dit 50 munisipaliteite en wys dit op die institusionele faktore wat sukses of mislukking in plaaslike regering bepaal. Die verslag bied bewysgegronde insigte oor die toestand van munisipale bestuur en toon dat doeltreffende, grondwetlike plaaslike regering haalbaar is.

Read More »