
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE IMPAK VAN BEGROTINGSBESNOEIINGS OP DIE REG TOT ONDERWYS IN SUID-AFRIKA: ‘N ONDERSOEK NA OPLOSSINGS
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Ezra Mendel namens die FW de Klerk Stigting op 31/10/2024
Onderwys lê die grondslag van ‘n nasie se sosio-ekonomiese ontwikkeling. In Suid-Afrika is dit ook ‘n fundamentele mensereg wat in artikel 29 van die Grondwet verskans is. Dit waarborg die reg op basiese onderwys en verdere onderwys en verklaar dat “elkeen het die reg op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.” Hierdie reg word egter bedreig weens voortdurende begrotingsbesnoeiings in die onderwyssektor.
Belangrikheid van Onderwys in Suid-Afrika:
In ‘n land soos Suid-Afrika met ‘n nalatenskap van diepgewortelde ongelykhede wat in gemarginaliseerde gemeenskappe bly spook, is onderwys ‘n kragtige instrument om gelykheid te bereik. Skole hef gemeenskappe op en dien as ‘n platform wat toekomstige leiers ontwikkel wat die land se ekonomiese groei kan aanvuur en die welvaartgaping kan verklein.
Suid-Afrika het ook ‘n krimpende belastingbasis en ‘n wesenlike tekort aan vaardige werkers in byna alle sektore. Aan die positiewe kant, anders as lande soos Sjina en Japan wat gebuk gaan onder ’n dalende jeugbevolking, maak Suid-Afrika se jeug (geklassifiseer as 18- tot 34-jariges) ongeveer ’n derde van die land se hele bevolking uit. Dit beteken dat ons ‘n groot toekomstige generasie het wat gereed is om die arbeidsmag as belastingbetalers (vir ‘n lang tyd) te betree. Hulle is in die ideale lewensfase om opgelei te word vir spesifieke terreine waar vaardighede benodig word!
Dit beklemtoon die dringende behoefte om in onderwys te belê.
Hoe Het Begrotingsbesnoeiings die Reg op Onderwys Geërodeer?
Verskeie provinsies staar aansienlike verlagings in onderwysbegrotings in die gesig. Baie staar groot uitdagings in die gesig vanwee hierdie besnoeiings: Die Wes-Kaap is onder die soeklig weens sy besluit om ‘n aantal onderwysposte te verminder, ‘n stap wat aangespoor word deur drastiese begrotingsbesnoeiings van R3,8 miljard. Hierdie krisis is verder vererger deur die nasionale regering se besluit om nie die 2023-loonooreenkoms ten volle te finansier nie, wat die provinsie genoop het om 36% van die tekort te dek. Gevolglik is onderwysdepartemente regoor die land in fiskale nood. KwaZulu-Natal kan byvoorbeeld nie 11 092 onderwysposte bekostig nie weens ‘n enorme begrotingstekort van R4 miljard vanjaar. Net so staar Mpumalanga ‘n tekort van R876 miljoen in die gesig, terwyl Noordwes met ‘n tekort van R485 miljoen worstel. Ander provinsies, soos die Noord-Kaap en Gauteng, fokus op strukturele veranderinge om hierdie uitdagings die hoof te bied.
Suid-Afrika se Breër Fiskale Konteks:
Om hierdie begrotingsbesnoeiings in konteks te verstaan, is dit noodsaaklik om die breër fiskale uitdagings te oorweeg. Soos minister Gwarube uitgelig het, kan die oorsprong van die fiskale krisis na swak beleidskeuses en ‘n ekonomie wat gestagneer het ná byna ‘n dekade van korrupsie en wanbestuur, herlei word. Hierdie nalatenskap het kritieke sektore soos onderwys kwesbaar gelaat. Terwyl onmiddellike optrede nodig is om die tekort die hoof te bied, het minister Gwarube beklemtoon dat langtermynoplossings op ekonomiese groei moet fokus en onderwys as ‘n sleutelbelegging in die land se toekoms moet prioritiseer.
“Onderwys is nie net ‘n uitgawe nie – dit is ‘n belegging in ons land se toekoms,” het sy opgemerk en die behoefte aan verhoogde befondsing in onderwys, onderwysersontwikkeling, opvoedkundige tegnologie en die uitwissing van onveilige infrastruktuur onderstreep. Hierdie gebalanseerde benadering erken dat hoewel die huidige krisis vinnige reaksies vereis, volgehoue belegging in onderwys noodsaaklik is om ‘n meer voorspoedige en stabiele toekoms vir Suid-Afrika te bou.
Oplossings om Oor te Dink:
Alhoewel die uitdagings wat deur begrotingsbesnoeiings gestel word groot is, is dit nie onoorkombaar nie. Om hierdie kwessie aan te spreek vereis dapper, visioenêre en innoverende benaderings. Hierdie oplossings is haalbaar in Suid-Afrika se huidige ekonomiese konteks as onderwys geprioritiseer word en publiek-private vennootskappe aangemoedig word.
Ons kan nie vergeet dat ons in ‘n digitale era leef nie. Landwye digitale leerplatforms, soos Siyavula Education wat gratis toegang bied tot aanlyn wiskunde-, fisika- en chemie-inhoud en aanpasbare oefening, is ‘n innoverende pad vorentoe. Die uitbreiding van die hulpbronne wat op platforms soos hierdie beskikbaar is, bied oplossings op die pad vorentoe om veral die speelveld gelyk te maak vir studente wat andersins nie toegang tot sulke kwaliteit hulpbronne sou hê nie.
Nog ‘n oplossing sou ‘n soort Nasionale Onderwysfonds wees. Dit kan gefinansier word deur ‘n gedeelte van lotery-inkomste en selfs korporatiewe belasting daaraan toe te wys. Hierdie fonds sal gebruik word om gebiede met beperkte befondsing te ondersteun, met die klem op plattelandse onderwys en infrastruktuur. So ‘n struktuur op nasionale vlak sal verseker dat onderwys voortdurend geprioritiseer word, ongeag begrotingstekorte in enige fiskale jaar.
Nog ‘n oplossing wat ondersoek kan word, is ‘n nasionale onderrigprogram deur vrywilligers. Hierdie program kan afgetrede onderwysers, universiteitstudente en opgeleide professionele persone aanspoor om vir ‘n jaar in skole met gebrekkige hulpbronne te onderrig. Aansporings in die vorm van toelaes, belastingtoegewings moet oorweeg word en vir daardie vrywilligers wat nog studeer, hul studielenings kan afgeskryf óf gekanselleer word. Dit sal nie net verligting vir skole bring wat met onderwysertekorte sukkel nie, maar dit sal meer mense aanmoedig om onderwys as ‘n beroep te waardeer en tot dit toe te tree.
Gevolgtrekking:
Onderwys is ‘n grondwetlike reg, maar die onlangse begrotingsbesnoeiings dreig om dit minder van ‘n reg en meer van ‘n luukse vir miljoene Suid-Afrikaanse kinders te maak. Die struikelblokke vir hierdie reg soos ‘n gebrek aan befondsing, verswakkende infrastruktuur, onderwysertekorte en onvoldoende leermateriaal, beklemtoon die behoefte aan kreatiewe oplossings. Deur te belê in befondsingsmodelle, personeel, publiek-private vennootskappe en digitale transformasie, kan Suid-Afrika hierdie uitdagings oorkom en verseker dat alle kinders, ongeag agtergrond óf omstandighede, toegang verkry tot kwaliteit-onderwys wat hulle verdien. Terwyl hierdie struikelblokke ‘n donker prentjie skets, wink ‘n blink toekoms vir Suid-Afrika indien dit met vernuwende denke en hernude toewyding tot die regte wat in artikel 29 vervat is, oorkom word.