Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE FW DE KLERK STIGTING VERSOEK MINISTER MOET NGV-REGULASIES TERUGTREK EN KORREKTE PROSES VOLG
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 06/06/2025
Die FW de Klerk Stigting het vandag formele kommentaar ingedien op die Departement van Gesondheid se Voorgestelde Regulerings oor die Bestuur van die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds (“die NGV-regulasies”). Die regulasies moet deur die Minister uitgevaardig word ingevolge magte wat aan hom verleen is deur die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, 2023 (“die NGV-wet”). Die NGV-wet het nog nie in werking getree nie.
“Die NGV-wet is duidelik,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program. “Die Minister mag slegs regulasies uitvaardig nadat hy met beide die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds en die Nasionale Gesondheidsraad geraadpleeg het.”
Die Fonds moet deur ’n Raad bestuur word, maar geen raadslede is nog aangestel nie. “Sonder ’n Raad kan die Fonds nie geraadpleeg word nie. Dit maak enige poging om hierdie NGV-regulasies uit te vaardig onwettig,” verduidelik Ellerbeck.
Indien die Minister voortgaan om die NGV-regulasies uit te vaardig, tree hy buite die magte op wat aan hom deur die NGV-wet verleen is (d.w.s. ultra vires). Dit beteken dat ’n hof die NGV-regulasies tersyde kan stel.
Die Stigting het gevra dat die konsep NGV-regulasies teruggetrek word – totdat die Minister eers met die Fonds geraadpleeg het. Die tydperk vir openbare kommentaar sluit vandag.