Volgens die nasie se grondliggende waardes wat die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg insluit, is dit duidelik dat die Regbank ‘n noodsaaklike element van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie is. Voorts het artikel 165 van die Grondwet die howe daargestel as onafhanklik en slegs onderhewig aan die Grondwet en die reg. Die howe is verplig om die reg objektief toe te pas – sonder vrees, begunstiging of vooroordeel. Nie persone of staatsorgane mag by die funksionering van die howe inmeng nie. Staatsorgane het ‘n plig om die howe by te staan en te beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die howe te verseker. Wanneer hulle hul amp aanvaar, word daar van regters of waarnemende regters vereis om ‘n eed af te lê of plegtig te verklaar dat sy of hy die Grondwet sal handhaaf en beskerm en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel, ooreenkomstig die Grondwet en die reg.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die gedrag van die verskillende regters soos hier bo beskryf geëvalueer moet word. Dit is voldoende om te sê dat die pogings om ander regters op ander wyses as die erkende kanale te beïnvloed nie voldoen aan die grondwetlike standaard betreffende die toepaslike rol en funksie van die howe nie. So ook nie die onverklaarbare pogings om te verhoed dat hulle as getuies verskyn by ‘n tribunaal om die beweerde onbehoorlike optrede aan te pak nie. Daarbenewens het dit negatiewe gevolge vir die behoorlike administrasie van geregtigheid. Dit is uiters belangrik dat howe nie net onpartydig is nie, maar ook as onpartydig waargeneem word. Dit is belangrik dat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie op howe met integriteit geskoei word. Gevolglik moet regters oor alle aangeleenthede voor hulle beslis met behoorlike inagneming van die eed of plegtige verklaring wat hulle afgelê het, deur slegs die Grondwet en die reg te oorweeg.

Terwyl dit ontstellend is dat senior figure van die Regbank hulself op ‘n wyse gedra het wat nie aan verwagtinge en verpligtinge voldoen nie, bied dit egter die nasie ‘n geleentheid om aandag te skenk aan artikel 180 van die Grondwet, wat bepaal dat “[n]asionale wetgewing voorsiening [kan] maak vir enige aangeleentheid betreffende die regspleging waarmee nie in die Grondwet gehandel word nie, met inbegrip van…prosedures vir die hantering van klagtes oor regterlike beamptes”. Gevolglik het die Wet op die Regterlike Dienskommissie ‘n proses daargestel vir die dissiplinering van regters. Die Wet stel ‘n regterlike gedragskomitee daar, wat alle klagtes oor regters moet ontvang en oorweeg. Daarna kan die komitee die aangeleentheid na die regterlike gedragstribunaal verwys, of kan besluit dat dit nie neerkom op ‘n vervolgbare oortreding nie. Regters Nkabinde en Jafta het die grondwetlike geldigheid van die regterlike gedragstribunaal uitgedaag – en gister se besluit deur die Konstitusionele Hof het hierdie uitdaging verwerp. Gevolglik baan dit die weg vir die regterlike gedragstribunaal om uiteindelik die saak teen Regter Hlophe aan te hoor.

Oor die algemeen geniet Suid-Afrikaanse howe geregtelike onafhanklikheid en word as onpartydig aanvaar. Hierdie saak, wat lank reeds voortduur, en wat die nasie se mees senior regters teen mekaar te staan laat kom het, kan ‘n mate van vertroue in die nasie se howe erodeer het. Dit is uiters belangrik dat daar so gou as moontlik uitsluitsel oor die aangeleentheid gegee word. 

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.