Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
AGOA-UITBREIDING GEE BROODNODIGE GELEENTHEDE VIR SUID-AFRIKA SE EKONOMIE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 08/10/2025
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die korttermyn-uitbreiding van die African Growth and Opportunity Act (“AGOA”), ’n voorkeurhandelsprogram wat byna ’n derde van Suid-Afrika se uitvoere na die Verenigde State dra. Alhoewel die hernuwing slegs vir een tot drie jaar mag geld, bied dit broodnodige geleenthede vir nywerhede, werkers en jong entrepreneurs wat afhanklik is van betroubare toegang tot internasionale markte.
AGOA, wat in 2000 ingestel is, maak belastingvrye toegang vir meer as 1 800 produkte uit Sub-Sahara-Afrika na die VSA moontlik. Vir Suid-Afrika was dit van groot betekenis. In 2024 het bilaterale handel met die VSA $20,4 miljard beloop, waarvan $14,6 miljard uitvoere was. Hiervan het $4 miljard (ongeveer 28%) onder AGOA geval. Verskeie sektore – van motorvervaardiging tot landbou, insluitend sitrus, bloubessies, wyn, ferro-legerings, juweliersware en turbines – trek voordeel. Sonder AGOA sou hierdie produkte strawwe tariewe in die gesig gestaar het wat duisende werksgeleenthede kon bedreig.
Die hernuwing kom te midde van verhoogde diplomatieke spanning. Amerikaanse wetgewers het herhaaldelik Suid-Afrika se plek in AGOA bevraagteken, met verwysing na Pretoria se standpunte oor Gaza en ander buitelandse beleid. Hierdie onsekerheid het sake en markte onrustig gemaak, met die rand wat wipplank gery het terwyl beleggers op sekerheid gewag het. Die kort verlenging weerspieël sowel tweeparty-steun in die Kongres vir Afrika se handelsintegrasie asook voortgesette kommer oor wyer geopolitieke vraagstukke.
“Die hernuwing van AGOA is ’n welkome verligting, maar dit bly geen waarborg nie,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting. “Ons jongmense het veral behoefte aan sekerheid. Van die boer in Limpopo wat sitrus uitvoer tot die ingenieursgegradueerde wat sy loopbaan in die motorbedryf begin – AGOA beteken brood op die tafel, waardigheid en geleenthede. Suid-Afrika moet onverpoos werk om hierdie toegang te beskerm en uit te brei, terwyl dit sy reputasie as ’n betroubare handelsvennoot versterk.”
Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, het die dringendheid beklemtoon om hierdie verlenging in volhoubare winste te omskep. “Ons moet hierdie geleentheidsvenster gebruik om ons uitvoere te diversifiseer, in mededingende bedrywe te belê en diplomatieke betrekkinge te versterk. Handelsbeleid is nie iets abstrak nie – dit bepaal voedselpryse, fabriekswerk en die toekomsvooruitsigte van jong Suid-Afrikaners. Die Grondwet verplig die staat om ekonomiese regte en geleenthede te bevorder. AGOA bied ons die kans om dit te verwesenlik, maar dit is ons verantwoordelikheid om dit aan te gryp.”
Die FW de Klerk Stigting doen ’n beroep op die regering, die sakegemeenskap en die burgerlike samelewing om hierdie verlenging te benut as ’n geleentheid om meer permanente, reëlgebaseerde toegang tot wêreldmarkte te verseker – toegang wat nie net groei bevorder nie, maar ook jeugwerk, waardigheid en grondwetlike geregtigheid ondersteun.