WETGEWING OOR DIE GASBEDRYF: ONTLEDING VAN DIE WYSIGINGSWETSONTWERP OOR GAS SE BEPALINGS EN TEKORTKOMINGE
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting op 13/03/2024
Die Wysigingswetsontwerp oor gas [W-2023] (“die Wetsontwerp”) was vir openbare kommentaar tot 29 Februarie 2024 deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie oopgestel. Die Wetsontwerp is ‘n hernude poging om die regulatoriese raamwerk te wysig wat die gassektor in Suid-Afrika reguleer. (Vorige weergawes van die Wysigingswetsontwerp is in 2021 in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê en later in 2022 teruggetrek.) Daar bestaan besorgdheid dat die huidige Wetsontwerp nie ooreenstem met óf grondwetlike waardes en regte (bv. die regstaat, gelykheid, sosio-ekonomiese regte) óf belyn is met nasionale ontwikkelingsdoelwitte nie, veral met verwysing na die beskerming van die omgewing.
Besorgdhede oor Gelykheid en Grondwetlike Nakoming:
Die einddoel van die Grondwet is dat Suid-Afrika ‘n nierassige samelewing moet wees (dit is waarom ‘n nierassigheid een van die waardes is waarop Suid-Afrika gegrond is ingevolge artikel 1(b) van die Grondwet is). In die verband het die Konstitusionele Hof bevestig dat die Grondwet ons beveel om vorme van sosiale differensiasie en sistematiese onderbevoorregting af te breek en om mee te werk aan om ‘n nuwe orde van benadeling op grond van ras te voorkom.
A.g.v. Suid-Afrika se verlede wat deurspek is met diskriminasie op grond van ras, maak die Grondwet (in artikel 9(2)) voorsiening vir maatreëls, soos wetgewing, wat ontwerp moet word om persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, ‘n geleentheid met bepaalde ondersteunig te bied. Dit wil sê maatreëls wat ontwerp is om terselftertyd die volle en gelyke voordele van alle regte en vryhede ook aan alle Suid-Afrikaners te bied.
Die Wetsontwerp se ras-gebaseerde benadering tot deelname in die gasbedryf en die afwesigheid van konkrete meganismes om substantiewe gelykheid te verseker, voldoen egter nie aan die standaarde van ontwerp wat vereis word vir dit om gesien te word as ‘n wet wat redelik in staat is om sy doelwit deur voorkeurbehandeling te bereik nie. Dus mag die Wetsontwerp sosio-ekonomiese verskille eerder verdiep as om dit ongedaan te maak en daarmee saam die letter en gees van die Grondwet skend.
Dit ondermyn dus die verwesenliking van substantiewe gelykheid soos voorgestel deur die Grondwet eerder as om dit te bevorder.
Sosio-ekonomiese Regte – Bevordering van Inklusiewe Ontwikkeling:
Die Wetsontwerp verleen eksklusiwiteit aan bepaalde deelnemers in ‘n spesifieke geografiese gebied in die konstruksie en verkoop van gasinfrastruktuur. Dit mag markkompetisie belemmer en die deelname van klein en mediumgrootte-ondernemings belemmer. Dit ondermyn die reg om ‘n bedryf, beroep of professie vrylik te bedryf soos gewaarborg deur artikel 22 van die Grondwet.
Daarbenewens, versuim die Wetsontwerp om sosiale en arbeidsplanne vir gemeenskappe wat deur gasontginning geraak word, in te sluit. Dit ignoreer dus grondwetlike bepalings tot deelnemende ontwikkeling en gemeenskapsbemagtiging.
Deur hierdie en ander oorwegings van sosio-ekonomiese regte te ignoreer, loop die Wetsontwerp die risiko om ongelykhede te vererger en die sosio-ekonomiese gaping verder te verbreed. Dit ondermyn inklusiewe ontwikkeling en armoedeverligtingspogings i.p.v. om dit te bevorder.
Omgewingsvolhoubaarheid – Balansering van Ontwikkeling en Bewaring:
Die omgewingsbepalings van die Wetsontwerp moet ondersoek word om te sien of dit ooreenstem met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, internasionale klimaatooreenkomste soos die Parys-ooreenkoms, en Suid-Afrika se eie Geïntegreerde Bronplan (“IRP”). T.s.v. die wêreldwye druk vir hernubare energie, beklemtoon die Wetsontwerp gas-aangedrewe kragopwekking, wat bekommernisse laat ontstaan oor die voortsetting van die afhanklikheid van fossielbrandstowwe i.p.v. die bevordering van hernubare energiedoelwitte soos in die IRP uiteengesit is. Die Wetsontwerp skiet ook te kort wanneer dit kom by die noodsaaklikheid om kweekhuisgasse te verminder en sodoende klimaatsveranderingseffekte te versag.
Daarbenewens hou die onvoldoende bepalings vir omgewingsimpakassesserings en volhoubaarheidsmaatreëls aansienlike risiko’s in vir omgewingsbewaring en klimaatweerbaarheid. Gasontginning en -gebruik hou inherente omgewingsrisiko’s in, insluitend lug- en waterbesoedeling, habitatvernietiging en vrystelling van metaan, ‘n gevaarlike kweekhuisgas. Sulke risiko’s bedreig biodiversiteit en ekosisteemintegriteit en ondermyn Suid-Afrika se verpligting tot omgewingsvolhoubaarheid.
Die Wetsontwerp is ook nie belyn met internasionale omgewingsstandaarde en toewydings en en ondermyn dus Suid-Afrika se geloofwaardigheid as ‘n verantwoordelike globale speler.
Omvattende hersienings is nodig om robuuste omgewingsassesserings, volhoubaarheidsmaatreëls, en nakoming van internasionale klimaatooreenkomste in die Wetsontwerp in te sluit.
Stigting se remedies:
- Verseker robuuste openbare deelname en belanghebbendebetrokkenheid in die wetgewende proses om demokratiese beginsels en aanspreeklikheid te handhaaf.
- Sluit substantiewe gelykheidsoorwegings in die raamwerk van die Wetsontwerp in om inklusiwiteit te bevorder en om sistemiese ongelykhede aan te spreek.
- Verseker omgewingsbepalings stem oor een met internasionale klimaatooreenkomste, Suid-Afrika se Geïntegreerde Bronplan, en volhoubaarheidsdoelwitte.
- Prioritiseer beleggings in hernubare energietegnologieë en implementeer streng omgewingbeskermingsmaatreëls om klimaatweerbaarheid en omgewingsvolhoubaarheid te bevorder.
Deur hierdie remedies aan uitvoering te gee, kan beleidsmakers die komplekse interaksie van sosio-ekonomiese, omgewings- en prosedurele oorwegings wat inherent is aan die Wetsontwerp, navigeer.
Slot:
Kortliks, die Wetsontwerp bied veelvlakkige besorgdhede wat strek oor prosedurele, sosio-ekonomiese, en omgewingsdomeine. Die versuim om substantiewe gelykheidsbesorgdhede aan te spreek, op ‘n manier wat ooreenstem met artikel 9(2) van die Grondwet, vererger sistemiese ongelykhede en marginalisering.
Sosio-ekonomiese implikasies staar ons in die gesig, aangesien die Wetsontwerp die risiko loop om energiearmoede te vererger en die vordering met betrekking tot inklusiewe ekonomiese ontwikkeling, te belemmer. Daarbenewens skiet sy omgewingsbepalings te kort om ooreen te stem met internasionale klimaatsverdrae en Suid-Afrika se hernubare energiedoelwitte, wat bedreigings vir omgewingsvolhoubaarheid en klimaatweerbaarheid inhou.
Die Stigting se voorgestelde remedies sal grondwetlike beginsels handhaaf, volhoubare ontwikkeling bevorder, en Suid-Afrikaners se regte en welstand beskerm. Met gesamentlike pogings en kollektiewe betrokkenheid kan Suid-Afrika ‘n pad na ‘n meer gelyke, volhoubare, en veerkragtige energietoekoms volhoubaar bewerkstellig.