Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
VRYHEID VAN BEROEP EN ARBEID IN 2024: VOORUITGANG, GEVARE EN BELEIDSVERSKUIWINGS
Uitgereik deur Sonia Twongyeirwe namens die FW de Klerk Stigting op 11/07/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ’n duidelike uiteensetting van die stand van basiese regte in Suid-Afrika – insluitend die reg op vryheid van bedryf, beroep of professie en arbeidsverhoudinge. Artikel 22 van die Grondwet beskerm elke burger se reg om sy of haar bedryf, beroep of professie vrylik te kies. Die wet mag egter bepaal hoe hierdie regte uitgeoefen word. Artikel 23 waarborg die reg op billike arbeidspraktyke. Elke werker het die reg om by ’n vakbond aan te sluit, daaraan deel te neem en te staak. Werkgewers het die reg om hul eie organisasies te stig en daaraan deel te neem. Die wet mag kollektiewe bedinging reguleer, mits dit aan die vereistes van artikel 36(1) voldoen.
Verlies van burgerskap
Die Grondwetlike Hof het in 2025 die uitspraak van die Appèlhof bekragtig wat artikel 6(1)(a) van die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap, 1995, ongrondwetlik verklaar het. Hoewel hierdie beslissing nie in die 2024-verslag van die Stigting behandel is nie, het dit sedertdien ’n invloed op die reg tot werk gehad, aangesien die verlies van burgerskap ook outomaties die verlies van die reg om in Suid-Afrika te werk beteken het.
Gelykheid
Die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, 2022, het op 1 Januarie 2025 in werking getree. Hoewel dit nog nie van krag was gedurende die verslagtydperk nie, het dit verreikende implikasies vir die reg op gelykheid in die werkplek. Die wet beoog om diversiteit en gelykheid in die werkplek te bevorder deur die Wet op Gelyke Indiensneming, 1998, te wysig. Dit gee byvoorbeeld aan die minister van indiensneming en arbeid die bevoegdheid om sektor-spesifieke numeriese teikens vir die verteenwoordiging van aangewese groepe vas te stel. Kritici voer aan dat die wet ’n rampspoedige uitwerking op die indiensnemings- en bevorderingsgeleenthede van minderheidsgroepe sal hê, wat die diversiteit van die werksmag sal ondermyn en moontlik tot werksverliese, laer ekonomiese groei en verhoogde werkloosheid sal lei.
Werkloosheid
In 2024 het Suid-Afrika se werkloosheidsyfer op 32,8% gestaan. Onder die jeug – persone tussen 15 en 34 jaar – was dit selfs hoër (45,5%). Byna die helfte van jong vroue (49,4%) was in 2024 werkloos. Die FW de Klerk Stigting het aangevoer dat ’n gebrek aan veiligheid ’n kritieke hindernis is wat vroue verhinder om aan die ekonomie deel te neem. Totdat alle Suid-Afrikaners – veral jongmense en vroue – in veiligheid en waardigheid kan werk, sal hierdie reg onvolledig bly.
Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, 2023
Ten spyte van wydverspreide openbare kommer en vrae oor bekostigbaarheid, is die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, 2023, op 15 Mei 2024 deur die President onderteken. Die wet stel ’n gefasseerde plan in werking om universele gesondheidsdekking in Suid-Afrika te implementeer. ’n Sleutelelement van die wet is die stigting van die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds, wat hoofsaaklik uit algemene belastinginkomste gefinansier sal word. Hierdie Fonds sal die enigste koper en betaler van gesondheidsorgdienste wees. Gesondheidsorgverskaffers en praktisyns sal deur die Fonds gekontrakteer word en sal nie hul eie tariewe mag bepaal nie – dit sal deur die Fonds vasgestel word. Die wet is nog nie in werking nie. Verskeie waarnemers vrees, negatiewe gevolge, onder andere ’n uittog van mediese professionele persone, aangesien die wet hul vermoë om hul beroep volhoubaar uit te oefen, sal beperk.
Wysigings aan Arbeidswetgewing
Op 29 November 2024 het die Nasionale Raad vir Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid ’n verslag goedgekeur wat wysigings aan verskeie arbeidswette voorstel, insluitend die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997, die Wet op Gelyke Indiensneming, 1998, en die Wet op Nasionale Minimumloon, 2018. Dit volg op ’n nuwe golf van arbeidswetgewing wat in Oktober 2024 aangekondig is. Die Departement van Indiensneming en Arbeid het verklaar dat die hervormings daarop gemik is om die doeltreffendheid van arbeidsmarkinstellings te verbeter – veral op gebiede soos afdankings, afleggings, kollektiewe bedinging en stakings. Die doel is om arbeidswette meer aanpasbaar te maak vir markverskuiwings, prosedurele billikheid te vereenvoudig en die rol van bedingingsrade en die Arbeidshof te versterk.
Ten slotte
Die gebrek aan veiligheid as ’n hindernis vir vroue om te werk, skend steeds hul reg op vryheid van bedryf, beroep of professie. Die hoë werkloosheidsyfer toon ook ’n gebrek aan geleenthede in die huidige ekonomie vir Suid-Afrikaners, veral vir die jeug. Net so ontbreek daar nie net ’n volhoubare befondsingsmodel in die NGV-wet nie, maar dit kan ook tot ’n massiewe uittog van mediese professionele persone lei indien die Wet geïmplementeer word. ’n Positiewe teken lê egter in die arbeidswetgewingwysigings, wat dui op verbeterings wat in die arbeidsmark op hande is. Vir meer inligting oor die gesondheid van hierdie belangrike reg, sien die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart.