Dit kan nie so voortgaan nie. Hierdie sinnelose geweldpleging teen buitelandse burgers skend daardie grondwetlike waardes en regte wat ten doel het om ‘n samelewing daar te stel wat op menswaardigheid, gelykheid en vryheid gegrond is – vir almal in Suid-Afrika.
Ons demokrasie is ‘n grondwetlike demokrasie wat op die Oppergesag van die Reg en fundamentele regte en vryhede gegrond is. Dit sluit in die reg op menswaardigheid, die reg op lewe en op vryheid en sekuriteit van die persoon. Daarbenewens mag nie die staat of enige persoon kragtens artikel 9 van die Grondwet op onregverdige wyse direk of indirek teen enige iemand diskrimineer op grond van geboorte, etniese of maatskaplike oorsprong, kultuur, ras of enige ander gronde nie. Nuusberigte vertel egter ‘n ander storie.
In hierdie verband moet leiers – of dit nou politieke, kulturele, gemeenskaps- of godsdienstige leiers is – die leiding neem. Hulle moet hierdie wetteloosheid en diegene wat die misdade pleeg, veroordeel. Hulle moet leierskap bied in hul gemeenskappe – waar ook al in Suid-Afrika die gemeenskappe is – deur ‘n stem te wees vir diegene wat om hulp vra, en ‘n stem teen diegene te wees wat hierdie afskuwelike misdade pleeg. Leiers wat nie uitgesproke hierteen is nie skep die indruk dat dit aanvaarbaar is om buitelandse burgers in Suid-Afrika aan te val of te intimideer. Leiers moet ons grondwetlike waardes en beginsels dringend herhaal en bevorder, en opstaan teen die toenemende wetteloosheid in ons land.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND