Die besluit is belangrik omdat dit verskeie grondwetlike beginsels beklemtoon wat die nasie se demokrasie onderskraag. Dit bevestig die Oppergesag van die Reg deur dit duidelik te stel dat die uitvoering van staatsmag rasioneel moet wees. Dit is irrasioneel vir die regering om Suid-Afrika te verbind tot ‘n ooreenkoms wat sy staatskas nie kan bekostig nie, en dan ook nog met hoogs ongunstige voorwaardes. Dit is selfs meer irrasioneel vir Suid-Afrik om sy energieplanne en -beleide oor te gee aan ‘n buitelandse regering, ongeag die goeie historiese bande wat Suid-Afrika met daardie buitelandse regering geniet.

Die besluit dien as ‘n belangrike herinnering dat Suid-Afrika se posisie een is van openheid, deursigtigheid en aanspreeklikheid. Hierdie waardes vorm deel van die nasie se grondliggende waardes, soos in die Grondwet verskans word. Daar mag van tyd tot tyd ‘n behoefte wees aan die beskerming van inligting, veral wat staatsveiligheid betref. ‘n Ooreenkoms wat Suid-Afrikaners negatief kan raak regverdig egter nie sodanige beskerming van inligting nie. In elke geval, in ‘n era waar die internasionale neiging beweeg na meer volhoubare en omgewingsvriendelike vorms van energie – gegewe ontwikkelings in lande soos Japan en Duitsland – blyk dit onlogies vir die Suid-Afrikaanse regering om homself te verbind tot ‘n kernooreenkoms van sodanige proporsies.

Soos die burgerregte organisasies wat die ooreenkoms uitgedaag het, aangevoer het, is die reg op regverdige administratiewe optrede verskans in die Grondwet, en hierdie reg vervat beide prosedurele regverdigheid, asook die Staat se verantwoordelikheid vir sy dade. Die besluit bevestig die feit dat die Staat regmatig en redelik moet optree, terwyl hy steeds verantwoordelik is vir die besluite wat Suid-Afrikaners negatief raak. Die Staat is verantwoordelik, nie net aan sy belastingbetalers nie, maar aan alle Suid-Afrikaners wat deur verhoogde aktiwiteit in Suid-Afrika se kernbedryf geraak sou word.

Daar kan wel teen die beslissing geappelleer word, alhoewel ‘n ander hof nie sommer van die meriete van hierdie beslissing sal verskil nie. Uiteindelik is die grootste bekommernis vir alle Suid-Afrikaners die aantal besluite wat deur regering gemaak is wat deur die howe tersyde gestel is. Sodanige besluite wissel van die tersydestelling van ongewensde aanstellings in magsposisies, tot die wyse waarop maatskaplike sekerheidstoelae uitbetaal word. Dit skep die indruk van roekelose uitoefening van staatsmag wat, indien dit nie vir die howe was nie, nie uitgedaag sou word nie – tot nadeel van die nasie se demokrasie. Nietemin moet vrae geopper word oor die Uitvoerende Gesag se optrede, wat die gehalte van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie verminder. 

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte 

Leave a Reply

Your email address will not be published.