Dit verwelkom ook voorts dat, na aanleiding van berigte oor die Minister se voorlegging aan die Portefeuljekomitee oor Vroue se vergadering op 1 Julie 2014, die aandag meer gevestig sal wees op die versekering dat maatreëls ingestel sal word ten einde gelyke verteenwoordiging te behaal en dat daardie maatreëls alle vroue sal bemagtig, eerder as op die onmiddellike behaling van getalle.
In geskrewe en mondelinge voorleggings aan die Nasionale Vergadering vroeër vanjaar, het die SGR die Wetsontwerp se doelwitte verwelkom in sover dit ten doel het om gelykheid te behaal en uitvoering te gee aan gelyke genieting van alle regte en vryhede. Nietemin het die SGR sekere grondwetlike gebreke onder die aandag van die tersaaklike Portefeuljekomitee gebring. Dit sluit in die gebrek aan maatstawwe ten opsigte waarvan die Minister die mag het om organisasies aanwys (wat moontlik beteken dat die Wetsontwerp vaag is, nie ’n algemeen geldende regsvoorskrif is nie en nie die toets van regsgeldigheid slaag nie); die wyse waarop die Wetsontwerp ten doel gehad het om die behaling van wesenlike gelykheid na te streef (“’n minimum van 50%” verteenwoordiging, wat paradoksaal is, aangesien enige iets meer as 50% verteenwoordiging in wese ’n nuwe ongelykheid sal skep); die Wetsontwerp se verhouding tot ander toepaslike wetgewing; en die Wetsontwerp se versuim om die grondwetlike mandaat van die Kommissie vir Geslagsgelykheid (die Kommissie) te erken as ’n onafhanklike instelling kragtens Hoofstuk 9 van die Grondwet wat grondwetlike demokrasie steun.
Die feit dat die Wetsontwerp versuim om die rol en funksie van hierdie liggaam, wat deur die Grondwet ingestel is, te erken, is moontlik een van die grootste gebreke van die Wetsontwerp, omdat dit moontlik die posisie van ’n onafhanklike instelling, wat kragtens Hoofstuk 9 van die Grondwet grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika moet versterk, verswak.
Die Kommissie se mandaat word in artikels 181 en 187 van die Grondwet uiteengesit. Artikel 181 bepaal dat die Kommissie “onafhanklik [is], en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe [is], en onpartydig [moet] wees en hul bevoegdhede en funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel [moet] uitoefen en verrig.” Artikel 187 bepaal dat die Kommissie respek vir geslagsgelykheid en die beskerming, ontwikkeling en behaling van geslagsgelykheid moet bevorder, en dat dit die mag het om aangeleenthede wat met geslagsgelykheid verband hou, te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen. Artikel 181 van die Grondwet bepaal dat “…[a]nder staatsorgane hierdie instellings deur middel van wetgewende en ander maatreëls [moet] bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van hierdie instellings te verseker. Daarbenewens bepaal artikel 11(1)(a) van die Wysigingswet op die Kommissie op Geslagsgelykheid dat die Kommissie beleide en praktyke van staatsorgane, statutêre liggame of funksionarisse, openbare liggame en gesagte en private sakeondernemings en instellings sal monitor en evalueer, ten einde geslagsgelykheid te bevorder.” Die Wetsontwerp versuim egter om hierdie grondwetlike en wetgewende bepalings te oorweeg en stel gedupliseerde rolle voor wat, ten beste, sal lei tot ’n verkleinde rol van die Kommissie as ’n Hoofstuk 9-instelling.
Die behaling van gelykheid en nie-seksisme is twee van die grondliggende waardes van die Grondwet. Artikel 9 van die Grondwet gee uitvoering aan hierdie waardes deur die reg op gelykheid voor die reg en gelyke beskerming deur en voordeel van die reg daar te stel. Enige wetgewing of beleid wat egter ten doel het om aan hierdie waardes en regte uitvoering te gee, moet dit doen op ’n wyse wat rasioneel en in ooreenstemming is met ander bepalings van die Grondwet. Dit moet voldoende openbare deelname en oorlegpleging behels en dit moet die bekommernisse wat tydens sodanige oorlegpleging uitgewys word, aanpak. Die opstel van ’n gewysigde wetsontwerp wat ten doel het om geslagsgelykheid te bevorder en verwesenlik moet ook voortgesette oorlegpleging met die Kommissie insluit en moet ook die rol en funksie van die Kommissie aanvul en versterk, soos deur die Grondwet vereis word.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
ges