Die SGR verwelkom ook die Minister se versekering tydens sy Begrotingsrede dat die SAPD op aanbeveling van die Nasionale Ontwikkelingsplan demilitariseer sal word. Dit is sekerlik in die belang van almal in Suid-Afrika om oor ’n doeltreffende, professionele en toegewyde polisiediens te beskik – ’n polisiediens wat deur die samelewing gewaardeer, gerespekteer en gesteun word.
Ten einde vir ’n samelewing om geloof en vertroue in hul polisiediens en ander wetstoepassingsagentskappe te hê, moet hierdie agentskappe nie slegs doeltreffend en professioneel wees nie, maar moet dit ook as beskermers van menseregte beskou word. Die respek vir en die beskerming van menseregte – soos vereis deur artikel 7 van die Grondwet – is uiters noodsaaklik vir ’n demokratiese samelewing wat op die oppergesag van die reg gegrond is. Dit is ook ’n voorvereiste vir werklike en blywende wet en orde in ’n samelewing. Gevolglik bepaal die Grondwet dat die veiligheidsdienste – met inbegrip van die SAPD – “moet optree, en [dat hulle] hul lede [moet] oplei en van hulle vereis om op te tree, ooreenkomstig die Grondwet en die reg, met inbegrip van die volkeregtelike gewoontereg en van internasionale ooreenkomste wat die Republiek bind.” Die Minister se aankondiging dat ’n “omvattende hersiening van die Wet op die SA Polisiediens ten einde dit in ooreenstemming met die Grondwet te bring” (alhoewel enige wet wat nie met die Grondwet ooreenstem nie, ongeldig is) die ideale geleentheid kan wees om sodanige bepalings in die Wet op die SA Polisiediens in te sluit wat doeltreffende, omvattende en voortdurende opleiding in menseregte vir alle beamptes van die SAPD verpligtend te maak.
Soos die Minister uitgewys het, vereis die Grondwet van die polisiediens “om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, die openbare orde te handhaaf, die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig, en die reg te handhaaf en toe te pas“. Polisiebeamptes wat menseregte ondermyn wanneer hulle aan hierdie mandaat uitvoering gee, dra nie by tot die handhawing van openbare orde en sekuriteit nie, maar ondermyn en vernietig dit deur die vertroue van die publiek te erodeer. Dit belemmer doeltreffende vervolging, isoleer en vervreem die polisiediens van die gemeenskap en vererger burgerlike verset. Daarbenewens lei dit dikwels tot skuldiges wat vrygestel word en die onskuldiges wat geviktimiseer word deur ’n kriminele regstelsel wat veronderstel is om die samelewing te beskerm.
Volgens die Universele Verklaring van Menseregte is dit belangrik dat menseregte deur die oppergesag van die reg beskerm word sodat die mens nie genoodsaak word om, as ’n laaste uitweg, hom tot opstand te wend nie. Die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe sal slegs as suksesvol en betroubaar beskou word indien hulle binne die konteks van ’n kultuur van menseregte optree, soos deur die Grondwet vereis word – ’n kultuur wat hopelik deur die Minister prioritiseer sal word as ’n fundamentele vereiste vir die bepaling van doeltreffende polisiëring in Suid-Afrika.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: GovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)