Die beslissing is ‘n bevestiging van drie belangrike beginsels.
Eerstens – in lyn met die idee van gelykheid soos verskans in die Grondwet – is niemand, ongeag van rang, bo die reg verhewe nie. Dat die President heel moontlik van korrupsie aangekla gaan word is nie juis ideaal vir die nasie nie – maar dit is presies die waarde van gelykheid voor die reg – niemand behoort bo die reg verhewe te wees nie.
Tweedens onderskraag die besluit die legaliteitsbeginsel as maatstaf om te verseker dat die staat, sy organe en amptenare nie hulself verhewe bo die reg ag in die uitvoering van hul pligte nie, maar daaraan onderhewig is. Ten spyte van die feit dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ‘n organisasie is wie se onafhanklikheid ‘n belangrike institusionele waarde is, moet sy besluite steeds op legaliteit en rasionaliteit gegrond wees. Daar moet altyd ‘n rasionele verband wees tussen die wyse waarop ‘n spesifieke doelwit behaal word aan die een kant, en die doelwit self. Enige uitoefening van openbare mag moet altyd gegrond wees op die beginsels van legaliteit. Dit beteken dat in die lig van oorweldigende bewyse van oortreding, dit moeilik sal wees vir die NVG om redes te vind om nie klagtes te lê nie.
Derdens – die besluit bevestig die oppergesag van die Grondwet in so ver dit alle optrede of wetgewing wat met sy bepalings teenstrydig is, verbied. Die Grondwet bepaal dat almal die reg het op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel regverdig is. Dit beteken dat besluite wat deur staatsorgane geneem word, onderhewig is aan hersiening, beide ingevolge die Wet op Administratiewe Geregtigheid, en op grond van legaliteit en irrasionaliteit.
Tensy die President appèl aanteken via die Appèlhof, of selfs deur die Konstitusionele Hof direk te nader, sal die besluit van die Noord-Gautengse Hoë Hof steeds geld.
Dit moet in gedagte gehou word dat die besluit nie bepaal dat die oorspronklike klagte teen hom weer ingestel moet word nie, aangesien daardie besluit by die NVG berus. Die beslissing bevestig die feit dat wanneer die NVG oorweeg of die President aangekla moet word of nie, die besluit geneem moet word deur oorweging te skenk aan die beginsels van legaliteit en rasionaliteit. In daardie omstandighede sal dit uiters moeilik vir die NVG wees om nie die klagtes weer in te stel nie. Selfs indien die saak deur die amptelike opposisieparty aangevoer is, is die kwessies ter sprake belangriker as partypolitiek. Suid-Afrika is geregtig op ‘n President wat die Grondwet en alle ander wette van die Republiek gehoorsaam, waarneem, onderhou en handhaaf.
Deur me Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte