Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
PERSVERKLARING OOR DIE IMPAK VAN VSA-TARIEWE OP JEUGWERKGELEENTHEDE EN DIE PAD VORENTOE
Uitgereik deur Amirah Hassim namens die FW de Klerk Stigting op 07/08/2025
Die FW de Klerk Stigting is bewus van die uitdagings wat die Verenigde State se besluit om ‘n straftarief van 30% op Suid-Afrikaanse uitvoere in te stel, sal meebring. Hierdie stap hou verreikende gevolge vir verskeie sektore in, veral vir dié wat sterk staatmaak op handel met die VSA. Hierdie tarief sal waarskynlik tot werkverliese lei, veral in die landbou-, motor- en tekstielbedrywe, met ramings wat dui op sowat 30 000 werksgeleenthede wat in gevaar is. Ongelukkig sal die jeug die swaarste getref word, veral teen die agtergrond van die volgehoue hoë werkloosheidsyfer van 46,1% onder jong Suid-Afrikaners.
Artikel 22 van die Grondwet van Suid-Afrika waarborg elke individu die reg om vrylik hul beroep óf professie te kies. Vir baie jong Suid-Afrikaners word daardie reg egter belemmer deur ‘n gebrek aan geleenthede in die formele arbeidsmark. Die impak van hierdie tariewe kan die reeds brose situasie vir jeugwerk vererger, veral omdat nywerhede wat intreevlak-werkgeleenthede bied, waarskynlik die grootste skade sal ly. Die rimpeleffek van werkverliese sal die brose sosiale veiligheidsnet verder rek en die ekonomiese uitdagings wat jong mense in die gesig staar, verder vererger.
In reaksie op hierdie krisis is dit van kardinale belang dat die jeug sentraal geplaas word in besprekings oor diversifikasie en innovasie. Terwyl die regering druk uitoefen om Suid-Afrika se uitvoermarkte te diversifiseer, moet nuwe geleenthede in Afrika, Asië en die Midde-Ooste benut word. Hierdie streke verteenwoordig hoëgroeimarkte wat as ‘n reddingsboei vir Suid-Afrikaanse produsente kan dien. Toegang tot hierdie markte vereis egter samewerkende pogings om infrastruktuur te ontwikkel, mededingendheid te verbeter en veerkragtigheid te bou in die gesig van uitdagings.
Die FW de Klerk Stigting pleit vir ‘n toekomsgerigte benadering waarin jongmense toegerus word met die vaardighede en geleenthede wat nodig is om te floreer in ‘n voortdurend veranderende globale ekonomie. Om hierdie doel te bereik, moet die regering die ontwikkeling van nuwe handelsvennootskappe bespoedig, veral binne Afrika deur die Afrika-Kontinentale Vryhandelsgebied (“AfCFTA”), sowel as met ontluikende markte in Asië en die Midde-Ooste. In hierdie streke kan Suid-Afrika se landbou-uitvoere, soos sitrus en wyn, sowel as die motorbedryf, nuwe market vind, wat beduidende groeipotensiaal bied.
Internasionale voorbeelde beklemtoon die belangrikheid van markdiversifikasie in die bevordering van ekonomiese veerkragtigheid. Byvoorbeeld, Brasilië se fokus op China en ander ontluikende markte na die handelsversperrings met die VSA, het suksesvol volhoubare ekonomiese groei verseker, terwyl Suid-Korea se handelsooreenkomste in die Midde-Ooste en Afrika sy uitvoerkapasiteit uitgebrei het. Hierdie internasionale modelle bied waardevolle lesse oor die belangrikheid van strategiese alliansies en markdiversifikasie.
Met die oog op die toekoms doen die FW de Klerk Stigting ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering, die sakegemeenskap en die burgerlike samelewing om saam te werk om te verseker dat die jeug nie agtergelaat word in die soeke na hierdie nuwe geleenthede nie. Die vestiging van ‘n Uitvoerondersteuningsplatform is ‘n positiewe stap om besighede te help om alternatiewe markte te verken, maar meer moet gedoen word om te verseker dat jongmense toegerus word met die nodige vaardighede en kennis om voordeel te trek uit hierdie nuwe geleenthede. Dit sluit in geteikende ekonomiese bemagtigingsprogramme vir die jeug, vaardigheidsontwikkeling in hoëgroei-bedrywe en wyer toegang tot mentorskap en entrepreneurskapnetwerke.
Die Stigting dring daarop aan dat die regering in langtermyn-initiatiewe belê wat die jeug van volhoubare loopbaanpaaie sal voorsien, nié net in handel en nywerheid nié, maar ook in ontluikende sektore soos tegnologie, groen energie en innovasie. Dit kan bereik word deur onderwysstelsels aan te pas by die vereistes van ‘n gediversifiseerde ekonomie en deur entrepreneurskap as ‘n lewensvatbare alternatief vir tradisionele werk aan te moedig.
Die jeug moet sentraal staan in enige planne vir uitvoerdiversifikasie en ekonomiese vooruitgang. Net deur te verseker dat die volgende generasie toegang het tot geleenthede in hierdie nuwe markte, kan ons ‘n meer inklusiewe en veerkragtige ekonomie bou.