Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

KOALISIEWETSONTWERP NIE PERFEK NIE, MAAR DIT IS BELANGRIK OM INSETTE TE LEWER

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/08/2024

 

Inleiding:

Johannesburgse se agtste burgemeester in vyf (5) jaar, Kabelo Gwamanda, het verlede week bedank. Die wisseling van burgemeesters (‘n gevolg van politieke onstabiliteit en gefragmenteerde regering) het die dringende behoefte beklemtoon om koalisie-ooreenkomste op plaaslike regeringsvlak te formaliseer.

Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het hier ‘n kritieke rol te vervul. Die Departement het twee (2) wetsontwerpe saamgestel wat oplossings bied oor hoe om die probleem van wankelrige munisipale koalisies aan te spreek – die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture 2024 (die “Koalisiewetsontwerp”) en die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Algemene Wette, 2024 ( die “Algemene Wetsontwerp”). Beide Wetsontwerpe is in Mei vir openbare kommentaar tot 31 Augustus 2024 vrygestel. Dit is die Koalisiewetsontwerp wat die GOOD Party vra om teruggetrek te word en waaroor hierdie artikel sal handel.

 

Wat beoog die Koalisiewetsontwerp om te doen?

Die staatsdepartement wat verantwoordelik is vir plaaslike regering, die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het die Koalisiewetsontwerp opgestel met die doel om onbesliste munisipaliteite te help stabiliseer. Hierdie wetsontwerp het ten doel om die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (die “Wet”) te wysig. Dit is die wet wat munisipaliteite (d.w.s. regering op plaaslike vlak) vestig en dit en hul ampsdraers reguleer. (Sien hierdie artikel vir meer inligting oor die verskillende tipes en kategorieë munisipaliteite.)

Die Koalisiewetsontwerp het ten doel om onder andere:

  1. te definieer wat ‘n koalisie-ooreenkoms is en dit bindend te maak;
  2. te vereis dat onbesliste munisipaliteite met ‘n burgemeestersbestuurstelsel na ‘n kollektiewe uitvoerende stelsel moet verander; en
  3. wat die raamwerk vir die verwydering van munisipale ampsdraers uiteensit.

 

Die Stigting se perspektiewe:

Die FW de Klerk Stigting is lank reeds van mening dat die formalisering van koalisie-ooreenkomste tussen politieke partye deurslaggewend is om stabiele en doeltreffende administrasie te verseker. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het ook onlangs beaam dat wetgewing broodnodig is om koalisie-ooreenkomste te stabiliseer.

Die Stigting verwelkom dus die Departement se inisiatief met die opstel van voorstelle vir hoe so ‘n wet moontlik kan lyk. Die Stigting stem egter nie saam nie met al die Departement se voorgestelde oplossings om die probleem van “wisselende burgemeesters” aan te spreek in ‘n munisipaliteit waar geen party ‘n meerderheid setels in die munisipale raad verkry het nie (“‘n onbesliste munisipaliteit”).

 

Onbesliste munisipaliteite:

Die verkose munisipale raad kan kies hoe hy sy uitvoerende gesag uitoefen (artikel 7 van die Wet). Van die opsies wat tot die raad beskikbaar is, is om deur middel van ‘n kollektiewe uitvoerende stelsel (waar die munisipaliteit se uitvoerende gesag gesamentlik in ‘n uitvoerende komitee gesetel is) gesag uit te oefen, óf deur middel van ‘n uitvoerende burgemeesterstelsel (waar daardie bevoegdheid in die burgemeester gesetel is).

Van belang is dat indien die uitvoerende burgemeester deur die raad uit sy amp onthef word, die burgemeesterskomitee wat deur daardie uitvoerende burgemeester aangestel is, in geheel ontbind. (artikel 60(5) van die Wet) Deur ‘n koalisieregering te vorm en ‘n uitvoerende burgemeester te verkies en om daardie koalisie om vroeër of later te ontbind en die burgemeester uit sy amp onthef (tesame met sy hele komitee), word die uitoefening van uitvoerende gesag en funksies in daardie munisipaliteit verlam. Dit belemmer die raad se belangrikste doelwit, naamlik om te voldoen aan sy gemeenskap se basiese behoeftes (Joseph and Others v City of Johannesburg and Others 2010 (4) SA 55 (CC)).

Dit is nié die geval met uitvoerende komitees nié. Alhoewel ‘n munisipale raad uitvoerende komiteelede uit hul amp kan onthef, veroorsaak hul verwydering nie outomaties dat die hele uitvoerende komitee ook ontbind nie (artikel 53 van die Wet). As sodanig kan die uitoefening van uitvoerende gesag en funksies in daardie munisipaliteit voortgaan.

In sy poging om groter stabiliteit in bestuur vir sulke onbesliste munisipaliteite te verseker (sien paragraaf 2.3. van die Wetsontwerp se Memorandum), stel klousule 2 van die Wetsontwerp voor dat onbesliste munisipaliteite met ‘n uitvoerende burgemeester moet verander van ‘n uitvoerende burgemeester na ‘n uitvoerende komitee. Op die oog af lyk dit inderdaad na ‘n redelike oplossing.

Die probleem egter is dat anders as ‘n uitvoerende burgemeester wat deur die munisipale raad verkies word (55(1) van die Wet), word die toekenning van setels op die uitvoerende komitee aan politieke partye deur die wet bepaal (artikel 43(2) van die Wet). So, in onbesliste munisipaliteite, kan verskeie partye ‘n setel op die uitvoerende komitee bekom. Die wetsontwerp se voorstel sal effektief ‘n “verpligte koalisie” in onbesliste munisipaliteite afdwing, wat daartoe lei dat diegene wat die uitoefening van uitvoerende gesag belemmer waarmee hulle nie saamstem nie, op die uitvoerende komitee sal dien.

Die Stigting glo dit sal net groter onstabiliteit in die bestuur van daardie munisipaliteite veroorsaak, nie minder nie. Dit is veral kommerwekkend met meer as 30% van die land se munisipaliteite wat onbesliste munisipaliteite het ná die laaste plaaslike munisipale verkiesings.

Die Stigting het in sy skriftelike regsvoorlegging aan die Departement oor die Koalisiewetsontwerp voorgestel dat die stabiliteit waarna gestreef word, die beste bereik kan word deur die wet te versterk rondom die wyse en/of omstandighede waaronder ‘n uitvoerende burgemeester én/óf adjunk-uitvoerende burgemeester uit die amp verwyder mag word. Die Stigting het spesifiek voorgestel dat minstens twee (2) jaar moet verloop sedert die uitvoerende burgemeester óf adjunk-uitvoerende burgemeester verkies is en dat minstens ‘n twee-derde meerderheid van raadslede ten gunste van hul verwydering stem. (Hulle kan egter te eniger tyd uit hul amp onthef word indien sodanige verwydering op grond van ‘n ernstige oortreding van die Grondwet of verbandhoudende wette is, ernstige wangedrag óf onvermoë om die ampsfunksies te verrig.)

 

Volgende stappe:

Alhoewel die Departement se eerste konsep van ‘n koalisiewetsontwerp nie perfek is nie, het dit nog ‘n lang pad om te loop voordat dit wet kan word (insluitend om ter tafel gelê te word en sy pad deur beide huise van die Parlement te vind). Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners hul reg uitoefen om deel van die gesprek te wees. Die Departement het versoek dat publieke kommentaar op die wetsontwerp gelewer word tot einde Augustus 2024. Dit is ‘n ideale tyd vir die publiek en politieke partye om to die gesprek toe te tree en om met alternatiewe oplossings na vore te kom om stabiliteit in terme van dienslewering in onbesliste munisipaliteite te verseker.