
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
KOALISIES ONDER DIE LOEP:
PLAASLIKE EN MUNISIPALE BESTUUR IN SUID-AFRIKA
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Ismail Joosub namens die FW de Klerk-stigting op 14/06/2024
Inleiding:

Die Grondwet verdeel Suid-Afrika se regering in drie sfere – nasionaal, provinsiaal en plaaslik (artikel 40). Hierdie drie sfere is van mekaar onderskei, tog is hulle van mekaar afhanklik en verwant (artikel 40). In werklikheid word hulle deur die Grondwet gemandateer om met mekaar saam te werk (artikel 41). Met ander woorde die nasionale of provinsiale regering mag nie ‘n munisipaliteit se reg om sy gemeenskap te regeer, oorskry nie (artikel 151). Eerder moet hulle munisipaliteite help om hul eie sake te bestuur (artikel 154(1)), alhoewel hulle munisipaliteite se uitoefening van hul uitvoerende gesag mag reguleer (artikel 155(7)).
Munisipaliteite is Suid-Afrika se vorm van plaaslike regering (artikel 151). Anders as die nasionale of provinsiale sfere van regering, word die uitvoerende en wetgewende gesag in munisipaliteite in die munisipale raad (wat in plaaslike regeringsverkiesings verkies word), gekombineer. Dienslewering is die kernfunksie van plaaslike regering aangesien munisipaliteite belas word met die mandaat om aan die basiese behoeftes van hul gemeenskap te voldoen, ekonomiese ontwikkeling te bevorder en ‘n veilige en gesonde omgewing te verseker, ens.
Plaaslike Regeringsverkiesings en Koalisievorming
Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (“die Wet”) reël hoe munisipale rade verkies en saamgestel word.
Verkiesingsproses: Artikel 157(1) van die Grondwet vereis ‘n gemengde verkiesingstelsel vir plaaslike regeringsverkiesings, wat direkte verkiesing van wyksraadslede met proporsionele verteenwoordiging deur politieke partye kombineer. Dit verseker, soos vasgestel deur die Minister, dat beide kiesafdelingsgebaseerde en breër partyverteenwoordiging neerslag vind. Artikel 24(1) van die Wet bepaal dat die termyn van munisipale rade nie langer as vyf jaar is nie. Verkiesings moet binne 90 dae na die verstyking van die raad se termyn gehou word.
Samestelling van Munisipale Rade: Artikel 18(1) van die Wet stipuleer dat elke munisipaliteit ‘n munisipale raad moet hê. Die aantal raadslede word vasgestel deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (artikel 20(1) van die Wet.) Dit word gebaseer op ‘n formule wat faktore soos die aantal geregistreerde kiesers in ag neem. Dit maak ook voorsiening vir die aanwysing van voltydse raadslede deur die Minister.
Koalisievorming: Alhoewel dit nie eksplisiet uiteengesit word in die bepalings van die Wet of die Grondwet nie, ontstaan die behoefte aan koalisie-regerings dikwels as gevolg van geen party wat ‘n duidelike meerderheid van stemme behaal nie (d.w.s. 51% of meer). Dit vereis onderhandelinge en ooreenkomste tussen politieke partye om regerende koalisies te vorm.
Die Impak van Koalisie-regering op Dienslewering
Die impak van koalisiebestuur op dienslewering in munisipaliteite kan destruktief wees. Byvoorbeeld, in die munisipaliteit van Knysna met sy ANC-geleide koalisie, het dienslewering aansienlik skade gely, met ‘n afname in basiese munisipale dienste. Dieselfde geld vir Plettenbergbaai, wat ook deur ‘n ANC-gedomineerde koalisie geregeer word. Verder het politieke bakleiery en twyfelagtige besluitneming hierdie probleme verder vererger, wat inwoners ontmoedig het en dringende ingryping vereis het.
Die Rol van Komitees in die Versterking van Koalisies
Komitees, veral artikel 79- en artikel 80-komitees, wat onder die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, ingestel is, kan ‘n kritieke rol speel in die stabilisering van koalisies. Hierdie komitees is ontwerp om toesig te versterk en die effektiewe implementering van koalisie-ooreenkomste te verseker. Deur te fokus op spesifieke portefeuljes, bied komitees ‘n platform vir koalisievennote om konstruktief betrokke te raak en die uitvoering van ooreengekome beleide te monitor.
Munisipale raadslede wat verantwoordelik is vir die verskeie aspekte van dienslewering moet aanspreeklik gehou word as die wiel afkom in daardie munisipaliteit in hul portefeulje. Werksekerheid moet afhanklik wees van die lewering van die basiese dienste wat nodig is en nie-uitvoering moet aangespreek word met sterk aksie van binne die koalisie. Dit hou die hele kieserspubliek (d.w.s. alle kiesers regoor die kies-spektrum) ingelig dat al die politieke partye in daardie koalisie hul gemeenskap eerste stel en politieke partye tweede.
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (“SALGA”) pleit vir kleiner, meer gefokusde komitees om as die enjin vir toesig en oorsig binne koalisies te dien. Hierdie komitees kan instrumentele meganismes wees vir koalisievennote om aanspreeklikheid en nakoming van koalisie-ooreenkomste te verseker en sodoende stabiliteit en effektiewe regering te bevorder.
Is nuwe wetgewing die oplossing?
Die voorgestelde Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture Tweede Wysigingswetsontwerp beoog om die uitdagings wat deur koalisie-regerings op munisipale vlak in Suid-Afrika veroorsaak word, aan te spreek. In reaksie op die toenemende voorkoms van koalisie-gebasseerde munisipale rade na die 2021 plaaslike regeringsverkiesings, streef die Wetsontwerp daarna om duidelike reëls en prosedures vir koalisiebestuur daar te stel. Belangrike bepalings van die Wetsontwerp sluit in:
- Formalisering van Koalisie-ooreenkomste: Koalisie-ooreenkomste moet skriftelik gedokumenteer word, eerder as om op informele ooreenkomste óf bladskud te steun. Hierdie geskrewe ooreenkomste word wetlik bindend en beoog om deursigtigheid en stabiliteit in koalisiebestuur te bied.
- Kiesdrempel: Die Wetsontwerp stel voor om ‘n kiesdrempel vir proporsionele verteenwoordiging in metropolitaanse, plaaslike en distriksrade in te stel. Hierdie maatreeël beoog om te voorkom dat klein partye met min kiesersondersteuning buitensporige invloed in koalisie-onderhandelinge verkry.
- Verlenging van Sperdatums: Die Wetsontwerp stel verlenging van sperdatums voor aan rade om distrikverteenwoordigers aan te stel en vir die aanvanklike raadsvergadering na afloop van die verkiesing. Hierdie verlenging bied meer tyd vir die verkiesing van sleutelposisies soos die burgemeester, adjunkburgemeester, spreker en sweep.
- Opsteek van Hande vir Verwydering van Ampsdraers: Die Wetsontwerp stel voor dat die proses verander word vir die verwydering van raadsampsdraers soos die burgemeester, adjunkburgemeester, spreker, kamerad of uitvoerende komitee. In plaas van ‘n geheime stemming, sal verwydering deur die opsteek van hande plaasvind, twee jaar na die amptelike se verkiesing, behalwe in gevalle van ernstige wangedrag of grondwetlike oortredings.
Deur duidelike riglyne vir koalisiebestuur daar te stel, beoog die Wetsontwerp om politieke instabiliteit te voorkom, deursigtigheid te bevorder en effektiewe dienslewering in munisipaliteite regoor Suid-Afrika te verseker.
Oproep vir Grondwetlike Eenheid
Ten spyte van die uitdagings wat verbonde is aan koalisiebestuur, is dit noodsaaklik om sy potensiële voordele te erken in die verteenwoordiging van ‘n breër verskeidenheid burgerbelange.
Koalisies kan die demokratiese inklusiwiteit bevorder deur te verseker dat meer stemme gehoor word in die besluitnemingsproses. Hierdie inklusiwiteit moet egter gebalanseer word met die behoefte aan stabiliteit en effektiewe regering.
Die Grondwet moet eerbiedig word en as die riglyn dien vir alle regeringsvlakke. Politieke leiers en partye moet die wil van die kiesers prioritiseer en die beginsels van aanspreeklikheid en deursigtigheid handhaaf. In hierdie opsig kan nuwe wetgewing ‘n deurslaggewende rol speel om hierdie beginsels af te dwing en te verseker dat koalisie-ooreenkomste nagekom word.