Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
HERSTEL VAN PLAASLIKE REGERING: DIE FW DE KLERK STIGTING SE OPROEP TOT GRONDWETLIKE VERANTWOORDBAARHEID
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 11/07/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting het onlangs sy formele antwoorde ingedien op vrae wat deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake geopper is in sy Besprekingsdokument oor die Hersiening van die Witpapier oor Plaaslike Regering. Die Besprekingsdokument sal uitloop op ’n nuwe Witpapier oor Plaaslike Regering – wat beleidsverandering uiteen sal sit om te verseker dat munisipaliteite veerkragtig, inklusief en in staat is om aan die veranderende behoeftes van Suid-Afrika se gemeenskappe te voldoen.
Sleutelpunte
Die Stigting se voorlegging is duidelik: Suid-Afrika het nie meer wette nodig nie; wat nodig is, is die politieke wil om die bestaande wette af te dwing. Die Stigting het twee hoofaspekte geïdentifiseer wat dringende aandag verg: Eerstens, die behoefte om bestaande wette konsekwent en onpartydig toe te pas. Tweedens, die behoefte om koalisies te reguleer om munisipale raadskoalisies te stabiliseer voor die 2026 plaaslike verkiesings.
Pas die Wet Toe
Wat die eerste kwessie betref – die behoefte om behoefte om bestaande wette konsekwent en onpartydig toe te pas – het die Stigting gewys op die Ouditeur-Generaal se onlangse bevindings dat slegs 16% van munisipaliteite skoon ouditverslae ontvang het (bladsy 4). Aan die ander kant het 67 munisipaliteite kontrakte toegeken aan verskaffers wat óf besit óf bestuur word deur naasbestaandes of vriende van werknemers/raadslede (bladsy 15). ’n Verdere 12 munisipaliteite het kontrakte toegeken aan verskaffers wat óf besit óf bestuur word deur werknemers/raadslede (bladsy 15).
Die probleem is nie ’n leemte in Suid-Afrikaanse wetgewing nie. Nee, die wet trek ’n duidelike lyn teen botsings van belange in plaaslike regering:
- Die Wet op Munisipale Stelsels, 2000, belet ten strengste dat munisipale werknemers en raadslede besluitnemingsrolle vervul in kontrakte waarin hulle, of hul nou verwante persone, ’n persoonlike of privaat besigheidsbelang het (item 4(1)(b) van Bylae 2 tot die Wet). Hulle mag ook nie ’n party wees tot, of ’n begunstigde wees van, ’n kontrak vir die verskaffing van goedere of dienste aan enige munisipaliteit of enige munisipale entiteit wat deur ’n munisipaliteit gestig is nie (item 4(3) van Bylae 2 tot die Wet).
- Die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003, verbied raadslede om aan verkrygingsbesluite deel te neem (artikel 117). Indien ’n munisipale rekenpligtige beampte versuim (hetsy opsetlik of deur growwe nalatigheid) om die munisipaliteit se voorsieningskanaalbestuursbeleid te implementeer, kan hulle tot vyf jaar tronkstraf opgelê word (artikels 173 en 174).
- Die Munisipale Voorsieningskanaalbestuursregulasies van 2005 verbied enige persoon in staatsdiens om verkrygingskontrakte toegeken te kry (regulasie 44).
- Volgens die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, 2004, pleeg munisipale werknemers en raadslede ’n misdaad indien hulle ’n privaat belang het in enige kontrak, ooreenkoms of belegging wat aan hul munisipaliteit gekoppel is. Die straf vir sodanige wangedrag is ernstig: tot tien jaar tronkstraf (artikel 26(1)(b)).
Die oplossing is dat die bestaande wetgewing doeltreffend toegepas moet word.
Die Stigting voer aan dat dit beide die versterking van oudit- en finansiële kontroles in munisipale administrasies en gevolgbestuur vir die betrokke raadslede en werknemers in die 12 en 67 geïdentifiseerde munisipaliteite sal vereis.
Om oudit- en finansiële beheer te versterk, moet munisipaliteite dringend aandag gee aan die gebrek aan finansiële bestuursvaardighede wat deur die Ouditeur-Generaal geïdentifiseer is (bladsy 9). Dit is noodsaaklik om gesonde basiese finansiële bestuur te verseker, die administrasie teen onwettige / onetiese politieke inmenging te beskerm en te verhoed dat personeel onwettig / oneties inmeng met die verkrygingsproses.
Ten einde openbare vertroue te herstel, moet gevolge konsekwent bestuur word. Dit sal ook behels dat die betrokke persone in hul persoonlike hoedanigheid gedagvaar word vir ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwiste besteding (artikel 32 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur soos toegepas deur die Appèlhof in Mbambisa and Others v Nelson Mandela Bay Metropolitan Municipality). Dit sal ook vereis dat hulle krimineel aangekla en vervolg word ingevolge die toepaslike wette. Per slot van rekening moet almal gelyk wees voor die reg.
Stabiliseer Koalisies
In die laaste plaaslike regeringsverkiesings is meer as 30% van die land se munisipaliteite as “hangende rade” gelaat, sonder dat enige party ’n meerderheid behaal het. Die gevolg was brose politieke koalisies in munisipale rade wat gelei het tot onstabiliteit en swak bestuur – die sogenaamde “draaideur” van burgemeesters en ‘n krisis vlak gebrek aan dienslewering.
Wanneer koalisies in duie stort, is dit die mense wat die prys betaal. Slegs wanneer koalisie-stabiliteit bereik word, sal dit die raad in staat stel om sy belangrikste doelwit te bereik, naamlik om in sy gemeenskap se basiese behoeftes te voorsien (Joseph and Others v City of Johannesburg and Others).
Om dit aan te spreek, stel die Stigting twee kernhervormings voor: eerstens, dat mosies om ampsdraers te verwyder ’n twee-derde meerderheid moet behaal vir aanvaarding om opportunistiese magspeletjies te voorkom. Tweedens, dat koalisie-ooreenkomste openbaar en bindend gemaak moet word. Indien ’n politieke party versuim om sy verpligtinge ingevolge die koalisie-ooreenkoms na te kom, moet dit aanspreeklik gehou word vir enige verpligtinge en skade wat daaruit voortspruit.
Profesionaliseer en Depolitiseer die Openbare Administrasie
Die vertoë spreek ook die behoefte aan om munisipale administrasies te professionaliseer en te depolitiseer aan. Die Stigting vra vir gestandaardiseerde, merietegebaseerde aanstellings vir senior amptenare en loopbaanpaaie om talent te behou.
In die belang van die verkiesing van bekwame en etiese individue tot openbare amp, vra die Stigting dat kandidate verplig moet word om hul professionele vaardighede en ervaring wat hulle kwalifiseer vir die openbare amp waarvoor hulle aansoek doen, aan die publiek bekend moet maak – byvoorbeeld, die suksesvolle bestuur van hul eie besigheid. Sulke deursigtigheid sal kiesers bemagtig om meer ingeligte keuses te maak en kandidate van hoër gehalte te verkies.
Ten Slotte
Die Stigting stel dit onomwonde: die Grondwet is nie die probleem nie. Die probleem is die versuim om dit te implementeer. Artikel 195 van die Grondwet stel die basiese waardes en beginsels wat openbare administrasie beheers: aanspreeklikheid, deursigtigheid, Responsiwiteit teenoor mense se behoeftes. Hierdie is nie slegs ideaalwense nie. Dit is bindende verpligtinge en moet afgedwing word.
Enige organisasie se kultuur word gevorm deur die swakste gedrag wat dit toelaat. Die huidige krisis in plaaslike regering kan beskou word as ’n versuim om die Grondwet se basiese waardes en beginsels wat openbare administrasie beheers te internaliseer en af te dwing. Daarom sal die hervorming van munisipaliteite se kultuur na een wat hierdie waardes en die heerskappy van die reg hoog ag, vereis dat bestaande wetgewing konsekwent en onpartydig toegepas word. Slegs wanneer munisipale werknemers en raadslede wat onwettig voordeel getrek het, betekenisvolle regsgevolge in die gesig staar, sal so ’n transformasie moontlik wees.
Die sperdatum vir openbare kommentaar op die Besprekingsdokument is verleng tot 31 Julie 2025. Die FW de Klerk Stigting moedig alle Suid-Afrikaners aan om aan hierdie proses deel te neem, omdat die welstand van plaaslike regering ons almal beïnvloed.