Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
HERLEWING VAN BERUGTE GEHEIMHOUDINGSWETSONTWERP
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 30/08/2024
Die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting is bedien nou weer in die nuwe Parlement. Dit beteken dat die Parlement dit nou sal heroorweeg. Die Wetsontwerp het berug geword as die Geheimhoudingswetsontwerp, as gevolg van die Wetsontwerp se breë definisies, drakoniese kriminalisering van die ontvangs van inligting, die afwesigheid van ‘n verdediging in die openbare belang en die Wetsontwerp se toepassing op alle staatsorgane.
“Die Wetsontwerp, wat ten doel het om sensitiewe staatsinligting te beskerm, het ‘n lang geskiedenis en is vroeg in 2010 vir die eerste keer deur die destydse minister van staatsveiligheid, dr Siyabonga Cwele, by die Parlement ingedien,” sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die FW de Klerk Stigting se Bestuurder van Grondwetlike Programme.
Ten spyte daarvan dat die Wetsontwerp aan die einde van 2013 deur beide huise van die Parlement goedgekeur is, is dit nooit bekragtig en onderteken nie. In die middel van 2020 het president Cyril Ramaphosa die Wetsontwerp terugverwys na die Parlement vir heroorweging, ingevolge artikel 79(1) van die Grondwet. Hy het sy kommer oor die Wetsontwerp se ongrondwetlikheid in ‘n brief aan die destydse speaker uiteengesit. Sy bekommernisse het onder meer ingesluit die Wetsontwerp se skending van die regte om inligting of idees te ontvang of oor te dra en op toegang tot enige inligting wat deur die staat gehou word (artikels 16(1)(b) en 32(1)(a) van die Grondwet).
“Die FW de Klerk Stigting deel president Ramaphosa se voorbehoude rakende die grondwetlikheid van die Geheimhoudingswetsontwerp. Dit sal die Parlement se heroorweging van die Wetsontwerp noukeurig monitor om te verseker dat dit hierdie bekommernisse volledig aanspreek. Van die allergrootste belang is dat die Wetsontwerp nie onregverdig en onredelik inbreuk moet maak op fundamentele regte of Suid-Afrika se grondliggende waardes van ‘n responsiewe, verantwoordbare en oop regering nie,” sê Ellerbeck.