GILAB ONTLEED - VERSTAAN DIE GEVARE
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting op 21/02/2024
Die Parlement oorweeg tans die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (“die GILAB”) wat ‘n wesenlike bedreiging vir die regte en vryhede van Suid-Afrikaners inhou. Die verwatering van die reg op privaatheid, die uitbreiding van staatsinmenging en die onderdrukking van meningsverskille is nie net bloot teoretiese bekommernisse nie, maar tasbare risiko’s wat hierdie Wetsontwerp op die voorgrond plaas.
Die Wetsontwerp, wat daarop gemik is om drie intelligensiewette te wysig – die Nasionale Strategiese Intelligensiewet, 1994; die Wet op Intelligensiedienste, 2002, en die Wet op Oorsig oor Intelligensiedienste, 1994 – het skerp kritiek van verskeie burgerlike organisasies ontlok.
Die FW de Klerk Stigting, wat toegewy is aan die handhawing van die Grondwet en om te verseker dat ons grondwetlike demokrasie ‘n werklikheid word vir alle Suid-Afrikaners, het beide skriftelike en mondelinge vertoë aan die Parlement gemaak. Daarbenewens het die Stigting ook aan die openbare verhore oor die Wetsontwerp deelgeneem.
Bekommernisse:
1. Die wetsontwerp se definisies – deurslaggewende terme is óf ongedefinieerd (bv. “bedreiging”) óf so dubbelsinnig gedefinieer dat dit onwerkbaar is (bv. “nasionale veiligheid” en “geleentheid of potensiële geleentheid”).
Ander is eenvoudig so wyd dat hulle onmoontlik daarin slaag om hul doel te bereik. Byvoorbeeld, “sekuriteitsbevoegdheidstoets” word op so ‘n manier gedefinieer dat dit ‘n ondersoek “om die sekuriteitsbevoegdheid van ‘n persoon of instansie te bepaal en of so ‘n persoon of instansie as kwesbaar vir afpersing, onbehoorlike invloed of manipulasie” kan insluit.
Nou, terwyl elke burger in die Republiek op een of ander stadium kwesbaar vir manipulasie kan wees, beteken dit nie dat hulle ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid is of dat die Staat ‘n veiligheidsbevoegdheidstoets op hulle moet kan toepas nie.
2. Deur aktiwiteite wat teenstrydig is met artikel 198 van die Grondwet (wat te make het met Suid-Afrikaners se voorneme om as gelykes in vrede en harmonie te lewe en vry van vrees en gebrek te wees en ‘n beter lewe te soek) gelyk te stel aan “bedreigings teen nasionale veiligheid”, laat die Wetsontwerp effektief toe dat verpligte keuringsondersoeke gedoen kan word op individue wat daarna streef om hul regte uit te oefen.
Die Wetsontwerp se omvang van “bedreigings vir nasionale veiligheid“, kan dus aktiviste insluit wat voorspraak maak vir sosiale geregtigheid, gemarginaliseerde gemeenskappe wat gelykheid soek, burgers wat aan vreedsame betogings deelneem, en individue wat afwykende menings opper. Die burgerlike samelewing kan dus gesien word as persone of instellings wat ‘n bedreiging inhou vir nasionale veiligheid.
Deur wettige aktiwiteite met bedreigings vir nasionale veiligheid te verwar, erodeer die Wetsontwerp die grondslag van demokratiese regering en loop die Wetsontwerp die risiko om stemme stil te maak wat van kritieke belang is vir die bevordering van maatskaplike verandering en menseregte in Suid-Afrika.
Die breë diskresie wat aan intelligensie-agentskappe verleen word om “persone of instellings van nasionale veiligheidsbelang” te identifiseer, lê die grondslag vir arbitrêre besluitneming en die misbruik van mag.
Kumulatiewe effek:
Die netto effek van die wetsontwerp op die gemiddelde Suid-Afrikaner is diepgaande: Dit kan ‘n wesenlike impak hê op die reg op vryheid van uitdrukking (artikel 16), kan die reg op privaatheid direk inkort (artikel 14), sal inbreuk maak op politieke regte (artikel 19), belemmer die vryheid van bedryf, beroep en professie (artikel 22), en erodeer die oppergesag van die reg (artikel 1(c) van die Grondwet).
Op grond van die redes wat omvattend in die Stigting se skriftelike voorlegging bespreek word, is die Stigting van mening dat GILAB as ongrondwetlik is.
Remedies:
In reaksie op hierdie wesenlike bekommernisse het die Stigting die volgende remedies aan die Parlement voorgestel:
- Definisies moet duidelik en presies omskryf word om beide werkbaar te wees en arbitrêre interpretasies en magsmisbruik te voorkom. (Die Stigting het verskeie moontlike definisies in ons skriftelike voorlegging voorgestel.)
- Verpligte keuringsondersoeke moet beperk word tot “op kategorieë van aansoekers en werknemers van organe van die staat en staatsdepartemente”.
Slot:
Dit is noodsaaklik dat die Parlement die implikasies van die GILAB noukeurig oorweeg en beslissende stappe neem om die gebreke daarvan aan te spreek. Deur ag te slaan op die kommer wat deur burgerlike organisasies, regskenners en besorgde burgers geopper word, kan die Parlement verseker dat ons intelligensiewette getrou bly aan die gees van die Grondwet en die aspirasies van alle Suid-Afrikaners.