GILAB-INTELLIGENSIE ‘N ROOI VLAG VIR PRIVAATHEID

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 13/02/2024

 

Op 7 Februarie 2024 het die FW de Klerk Stigting sy kommer oor die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (“die GILAB”) tydens die Parlement se openbare verhore uitgespreek. Die GILAB is tans oop vir openbare kommentaar tot 16h00 op Donderdag, 15 Februarie 2024.

GILAB sal dit verpligtend maak vir die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste om ‘n keuringsondersoek te doen om die veiligheidsbevoegdheid van persone óf instellings te bepaal wat ‘n moontlik bedreigings, of potensiële bedreigings, vir nasionale veiligheid inhou.

Daniela Ellerbeck, Bestuurder van Grondwetlike Programme by die FW de Klerk Stigting, het die Stigting se primêre bekommernisse onderstreep en gesê dat die “wetsontwerp se vae definisies, veral rakende ‘bedreiging’, ‘sekuriteitsbevoegdheidstoets’ en ‘nasionale veiligheid’, ernstige grondwetlike en praktiese bekommernisse inhou, want letterlik elke burger in die Republiek kan as kwesbaar vir bv. ‘manipulasie’ geag word. Dit beteken egter nie dat hulle ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid is nie, óf dat die Staat ‘n sekuriteitsbevoegdheidstoets op hulle moet toepas nie.”

Daarbenewens beklemtoon die Stigting die inherente risiko van misbruik wat die GILAB inhou, gegewe sy bemagtiging van sekuriteitsagentskappe om sekuriteitsbevoegdheidstoetse uit te voer en ondersoeke sonder duidelike parameters óf voorsorgmaatreëls uit te voer.

Sy het gesê, “A.g.v. die wetsontwerp se problematiese wye definisies, kan hierdie klousules daartoe lei dat burgerregte-organisasie en diegene wat vir hulle werk, deur die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste gesien word as persone óf instellings van nasionale veiligheidsbelang wat gevolglik aan ‘n keuringsondersoek deur dié dienste onderwerp kan word.”

Hierdie bepalings “loop die risiko om fundamentele regte en vryhede te skend wat in ons Grondwet verskans is en dit erodeer die publiek se vertroue in regeringsinstellings,” sê Ellerbeck. Boonop skep GILAB ‘n moontlikheid om geregverdige ontevredenheid en kritiek teen die regering te onderdruk, wat ‘n klimaat van vrees en selfsensuur tot gevolg kan hê.

Die implikasies van die GILAB strek verder as veiligheidskwessies; dit maak inbreuk op die struktuur van ons demokrasie,” het Ellerbeck bygevoeg. “Die FW de Klerk Stigting doen ’n beroep op die Parlement om hierdie bekommernisse aan te spreek en te verseker dat enige wysigings aan intelligensiewette in ooreenstemming is met grondwetlike beginsels en regte en dat dit gehandhaaf word.

Die Stigting sal voor die sperdatum ‘n omvattende voorlegging vanuit ‘n regsperspektief aan die Parlement se relevante komitee doen.