Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM SPESIALE TRIBUNAAL SE UITSPRAAK OOR ONWETTIGE R167,9 MILJOEN TENDERTOEKENNING
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/09/2025
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Spesiale Tribunaal se uitspraak wat Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit se toekenning van ’n tender ter waarde van R167,9 miljoen aan Easyway, Tarmac, Pave and Projects CC (“Easyway”) onwettig en ongeldig verklaar het. Die tender was vir die voorsiening, lewering, installasie en/of konstruksie van boorgatontwikkeling, opgaardamme en gravitasietoevoerpypleidings.
Die Tribunaal het die kontrak tersyde gestel en gelas dat Easyway ’n bedrag van R68,8 miljoen terugbetaal, tesame met rente teen 10,75% per jaar.
“Hierdie uitspraak is ’n oorwinning vir Suid-Afrika se grondliggende waardes van aanspreeklikheid en die heerskappy van die reg,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program. “Die Tribunaal het bevind dat Easyway deur wanvoorstelling sy kwalifikasies aangebied het, onder meer deur projekte te fabriseer wat nooit bestaan het nie. Verder was die kriteria wat gebruik is om die tender aan Easyway toe te ken onbillik, aangesien die Munisipaliteit die tender aan Easyway toegeken het ten spyte daarvan dat ’n ander bieër hoër punte behaal het, sonder om wettige redes te verskaf. Dit het verskeie wette geskend, veral artikel 217 van die Grondwet, wat vereis dat openbare verkryging regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend moet wees.”
Die FW de Klerk Stigting prys die Spesiale Ondersoekeenheid vir sy volharding in hierdie saak. Voortgesette toepassing van verkrygingswette, tesame met sterk politieke wil, is noodsaaklik om integriteit, billikheid en openbare vertroue in plaaslike regering te herstel.