Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM DIE BEKENDESTELLING VAN DIE BURGERLIKE SAMELEWING VERKIESINGSHERVORMINGSRAAD
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 22/08/2024
Die FW de Klerk Stigting is verheug om die bekendstelling te Constitutional Hill van die Burgerlike Samelewing Verkiesingshervormingsraad (“BSVHR”) op 16 Augustus 2024 by te woon. Hierdie paneel, wat deur My Vote Counts geïnisieer is, was in reaksie op die uitsluiting van die burgerlike samelewing van die verkiesingshervormingspaneel wat deur die regering vroeër vanjaar gestig is.
Die BSVHR het ontstaan as ‘n uitvloeisel van die Grondwettelike Hof se uitspraak in New Nation Movement NPC en Ander teen die President van die Republiek van Suid-Afrika en Ander in 2020, wat wysigings aan die Verkiesingswet vereis het om onafhanklike kandidate toe te laat. Ten spyte van hierdie uitspraak, het onlangse wetgewende veranderinge nie die wekroep vir omvattende hervorming voldoende aangespreek nie. Die Verkiesingswysigingswet, wat op 17 April 2024 in wet onderteken is, voldoen nie aan die verwagte hervormings nie. Die Wet se mislukking om ‘n gemengde kiesafdeling- en proporsionele stelsel, soos aanbeveel deur die Ministeriële Advieskomitee (“MAK”) en die Van Zyl Slabbert Kommissie, te implementeer, wys op bepaalde tekortkominge.
Die MAK se meerderheid-aanbeveling vir ‘n gemengde stelsel is grootliks geïgnoreer ten gunste van minimale wysigings wat onafhanklike kandidate nie volledig akkommodeer nie. Hierdie benadering word gekritiseer omdat dit nie probleme wat in Suid-Afrika se verkiesingsraamwerk oor ‘n lang tydperk aankom, regstel nie. Die Wet se fokus op uitgebreide provinsie-wye kiesersgemeenskappe en die onregverdigheid van die handtekeningvereistes vir onafhanklikes skep beduidende hindernisse, wat die doel van verbeterde verkiesingsverantwoordelikheid en aanspreeklikheid ondermyn.
Die BSVHR is daarop gemik om die regering se paneel aan te vul eerder as om mee te ding en om die leemtes in onlangse wetgewende veranderinge, aan te spreek. Dit bring die kollektiewe kundigheid van die burgerlike samelewing byeen om voorspraak te maak vir betekenisvolle verkiesingshervormings wat verseker dat openbare verteenwoordigers meer aanspreeklik is teenoor hulle kiesafedlings.
Ismail Joosub, Bestuurder van die Konstitusionele Bevorderingsprogram by die FW de Klerk Stigting, het opgemerk: “Die bekendstelling van die BSVHR is ‘n belangrike stap om betekenisvolle verkiesingshervormings mee te bring. Deur die verskeie belanghebbendes, insluitend die burgerlike samelewing se standpunte te integreer, het hierdie paneel ten doel om ons demokratiese prosesse te verbeter en te verseker dat enige hervormings met grondwetlike waardes ooreenstem.”
Ezra Mendel, ‘n intern by die Stigting, het bygevoeg: “Ons deelname aan hierdie bekendstelling beklemtoon ons toewyding aan die bevordering van grondwetlike beginsels. Ons ondersteun die BSVHR se missie om hervormings te ondersoek en aan te beveel wat aanspreeklikheid sal versterk en Suid-Afrikaanse kiesers beter sal verteenwoordig.”
Ons bedank My Vote Counts dat die Stigting by hierdie belangrike gebeurtenis ingesluit is. Die FW de Klerk Stigting bly toegewyd tot die ondersteuning van pogings wat in lyn is met ons missie om die Grondwet te bevorder en deursigtige bestuur in Suid-Afrika te verseker.