Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING - VERSLAG OOR INTEGRITEIT EN TOESIG IN SUID-AFRIKA SE WETSTOEPASSINGSISTEEM (1994-2025)
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 18/07/2025
Die FW de Klerk Stigting stel met trots ’n nuwe verslag, getiteld “Integriteit en Toesig in Suid-Afrika se Wetstoepassingsisteem vanaf 1994-2025”, bekend. Die verslag bied ’n deeglike grondwetlike, historiese en institusionele ontleding van die afname in openbare vertroue en aanspreeklikheid in die land se belangrikste wetstoepassingsliggame – en stippel terselfdertyd ’n doelgerige pad vorentoe uit.
Die verslag ondersoek die grondwetlike mandaat van instellings soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (“SAPD”), die Nasionale Vervolgingsgesag (“NVG”), die Valke en die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (“IPID”) en volg hul ontwikkeling vanaf die demokratiese oorgang tot by die SAPD-krisis in 2025. Dit bring veral die skokkende leierskaps-onstabiliteit aan die lig.
Onder andere, geen Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging het nog ooit ’n volle termyn voltooi nie en bykans elke SAPD Nasionale Kommissaris het sy pos verlaat te midde van kontroversie. Die verslag plaas ook die soeklig op sistemiese politieke inmenging, ’n swak anti-korrupsie-raamwerk en die versuim om die aanbevelings van die Staatskapingskommissie behoorlik te implementeer.
Die Stigting het hierdie verslag opgestel om betekenisvolle hervorming aan te moedig – gegrond op grondwetlike beginsels, merietebaseerde aanstellings en institusionele onafhanklikheid. Dit stel praktiese hervormings voor, insluitend sterker parlementêre toesig en ontpolitisering van leierskapstrukture binne wetstoepassingsinstellings.
Suid-Afrika het nou daadwerklike optrede nodig – nie nóg politieke vertoon nie. Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om die verslag se bevindinge en aanbevelings te oorweeg en om ’n regstelsel te eis wat werklik die oppergesag van die reg en wet en orde handhaaf.