+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING VERKLARING OOR DIE CRADOCK VIER-ONDERSOEK

Uitgereik deur Christo van der Rheede namens die FW de Klerk Stigting op 03/06/2025

 

Die FW de Klerk Stigting neem kennis van die heropening van die geregtelike doodsondersoek na die brutale sterftes van Matthew Goniwe, Fort Calata, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto – die Cradock-vier – wie se ontvoering en moord in 1985 Suid-Afrika tot in sy diepste wese getref het.

Terwyl hierdie derde doodsondersoek in die Oos-Kaapse Hooggeregshof ontvou, erken die Stigting die belang daarvan om die onafgehandelde sake van ons verlede binne die raamwerk van geregtigheid aan te spreek.

Die Stigting staan in vaste solidariteit met Lukhanyo Calata. Sy moed en waardigheid het ook ons band met hom versterk. Asook met alle families wat deur apartheidsera-gruweldade geraak is en vir jare van die geleentheid ontneem is om ten volle ingelig te word, genesing te vind en geregtigheid te sien geskied.

Ons spreek ons innigste meegevoel uit en het simpatie met hul onmeetbare lyding. Ons erken dat die gebrek aan inligting wat met hul geliefdes gebeur het nie die pyn van hul verlies versag het nie, daarom is dit nodig dat die volle waarheid ontbloot word en geregtigheid geskied.

Die Cradock-vier-ondersoek gaan nie net oor historiese aanspreeklikheid nie, maar weerspieël ook die veerkragtigheid van Suid-Afrika se grondwetlike orde. Dit toon dat waarheid en geregtigheid selfs ná dekades deur die regstelsel nagestreef kan word – iets wat die publiek se vertroue in demokratiese instellings versterk.

Die Stigting hoop opreg dat die ondersoek sal bydra tot die identifisering van dié wat verantwoordelik was, hetsy deur optrede óf medepligtigheid en dat die regsproses vlot sal verloop.

Mag hierdie oomblik ’n betekenisvolle stap wees na afsluiting, waarheid en eenheid vir die families en vir die land as geheel.