+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING SPREEK DIEPE KOMMER UIT OOR TOENEMENDE GEWELDDADIGE WETTTELOOSHEID

Uitgereik deur Christo van der Rheede en Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 09/09/2025

 

Suid-Afrika steier onder brutale geweld wat tot ons howe, munisipaliteite en werkplekke binne gedring het. Fluitjieblaser Babita Deokaran (2021), likwidateur Cloete Murray en sy seun Thomas (2023), prokureur Bouwer van Niekerk (2025) en ouditeur Mpho Mafole (2025) is almal vermoor omdat hulle korrupsie en georganiseerde misdaad bloot begin lê het. ’n Getuie is buite die Wynberg-landdroshof doodgeskiet, vier mans is by Overcome Heights in Muizenberg doodgeskiet. En ongeveer 40 gewapende mans het die Ramotshere-Moiloa-munisipaliteit in die Noordwes binnegestorm. Dit is slegs enkele van die talle voorvalle wat nou ’n ontstellende patroon van geweld uitbeeld. Dit is nie normaal nie. Dit is ’n direkte aanslag op die oppergesag van die reg.

Die Grondwet verplig die staat om die regte in die Handves van Regte (artikel 7(2)) te respekteer, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik, insluitend die reg op lewe (artikel 11) en die reg op vryheid en veiligheid van die persoon, veral die vryheid van alle vorme van geweld (artikel 12(1)(c)). Dit gee aan die SAPD die mandaat om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek en om inwoners te beskerm en te beveilig (artikel 205(3)), en dit vereis ’n enkele, onpartydige vervolgingsgesag (artikel 179). Die wetlike instrumente bestaan reeds: die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad van 1998 (veral artikel 2 wat rakende afpersing en georganiseerde misdaad handel), die Wet op Beskermde Bekendmakings van 2000 en die Wet op Getuiebeskerming van 1998. Wat ontbreek, is beslissende toepassing van dié wette.

Dit is ’n morele én grondwetlike krisis,” het Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering, gesê. “Suid-Afrika moet onteenseglik wys dat die reg sterker is as die geweer. Dit beteken om diegene te beskerm wat korrupsie blootlê en wat die geloofwaardigheid van ons wetstoepassings- en vervolgingsinstellings wil herstel. En die ruimtes waarin huurmoordenaars en hul beskermhere funksioneer, finaal te verwoed. Bowenal moet burgers duidelik, vinnige en beginselvaste optrede en eerlike aanspreeklikheid van diegene in beheer sien.”

Waar is die President? Waar is die Minister van Justisie?” vra Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur. “Die land het duidelike leierskap nodig wat polisiëring, vervolging en intelligensie verenig in ’n enkele nasionale poging, geanker in die Grondwet en met openlike verslagdoening. Suid-Afrikaners verdien sigbare vooruitgang, konsekwente kommunikasie en die versekering dat niemand bo die wet staan nie. Die raamwerk bestaan reeds – nou kort ons daadwerklike uitvoering.”

Ons mag nie die pad loop wat Colombia in die laat 1980’s en 1990’s moes verduur nie – toe kontrakmoorde, kartelgeld en die infiltrasie van staatsinstellings deur misdadige belange die openbare vertroue ondermyn, howe en amptenare geterroriseer en plaaslike regering aan die wil van gewapende bendes onderwerp het. Suid-Afrika is nog nie daar nie, maar die waarskuwingstekens is onmiskenbaar. Colombia se uiteindelike herstel het jare van pynlike institusionele hervorming en nasionale eenheid geverg. Ons versoek is eenvoudig en dog dringend. Tree nou beslissend op – binne die Grondwet en die reg – om ’n glybaan na wanorde te keer wat ’n hele generasie kan neem om reg te stel.

Suid-Afrikaners kan nie onder die heerskappy van die geweer leef nie. Ons doen ’n beroep op President Ramaphosa, die Minister van Justisie en die Minister van Polisie om omvattende staatsoptrede te lei teen sluipmoordnetwerke, afpersingsindikasies en bende-bedrywighede. Genoeg is genoeg! Beskerm lewens, beskerm getuies en herstel die staat se kapasiteit om wet en orde te handhaaf sodat die oppergesag van die reg, en nie vrees nie, ons toekoms bepaal.