
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING DOEN BEROEP OP DRINGENDE OPTREDE OM INTEGRITEIT EN STABILITEIT IN MUNISIPALITEITE TE HERSTEL
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 01/07/2025
Die FW de Klerk Stigting het sy formele kommentaar ingedien op die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se versoek om openbare kommentaar op sy Besprekingsdokument oor die Hersiening van die Witpapier op Plaaslike Regering. Die Stigting se voorlegging identifiseer twee dringende prioriteite: Eerstens, die noodsaaklikheid om bestaande wette sonder vrees of guns toe te pas. Tweedens, die behoefte om die wet te wysig om stabiele munisipale koalisies voor die 2026 plaaslike regeringsverkiesings te verseker.
“Die Ouditeur-Generaal se onlangse verslag bevestig wat baie Suid-Afrikaners reeds weet: openbare fondse word te dikwels gekanaliseer na die vriende en familie van dié in magsposisies,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program. “Dit is nie net oneties nie – dit is onwettig. Suid-Afrika het nie ’n tekort aan wette nie. Dit het ’n tekort aan wetstoepassing. Wanneer raadslede en werknemers die wet oortree, moet hulle vervolg word. Dit is die enigste manier om munisipaliteite te bou wat die Grondwet eerbiedig, die waardes van artikel 195 handhaaf en hul plig ingevolge artikel 152 nakom om dienste aan hul gemeenskappe te lewer. Wanneer koalisies in duie stort, weens party-politiek en magspeletjies, is dit die mense wat die prys betaal. Daarom doen die Stigting ’n beroep op bindende, openbare koalisie-ooreenkomste – en werklike gevolgbestuur wat strafregtelike vervolging nie uitsluit nie,” sluit Ellerbeck af.
Die Stigting doen ’n beroep op die Departement en alle belanghebbendes om beslissend op te tree: Vervolg korrupsie, verwyder politieke inmenging uit munisipale administrasies en stel wetgewing in vir stabiele koalisies voor die 2026 plaaslike verkiesings. Die sperdatum vir openbare kommentaar is verleng tot 31 Julie 2025 en die FW de Klerk Stigting moedig almal aan om deel te neem, omdat die gesondheid van ons munisipaliteite ons almal raak.