+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE VOLLE EN GELYKE GENIETING VAN ALLE REGTE EN VRYHEDE: GEDAGTES UIT DIE 2024 MENSEREGTEVERSLAGKAART

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/05/2025

Inleiding

Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ’n omvattende beoordeling van die mate waarin regte en vryhede, soos vervat in die Grondwet, gedurende die kalenderjaar 2024 gehandhaaf is. Onder hierdie regte is artikel 9, wat aan elkeen die reg op gelykheid waarborg. Dit sluit uitdruklik die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg in; die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in; en die reg om nie onbillik teen gediskrimineer te word op verskeie gronde nie, insluitend geslag. Hierdie artikel ondersoek geslagsgelykheid in die werkplek.


Wat die syfers sê

Die Women in the South African Economy Report (2024) toon dat vroue se deelname aan die arbeidsmag op 50,6% gestaan het. Dit is aansienlik laer as dié van mans, wat op 63,6% gestaan het (sien bladsy 21). Dieselfde verslag toon verder dat vroue slegs 75,8% van wat mans vir soortgelyke werk verdien het, ontvang het (sien bladsy 22), wat op ’n aanhoudende geslagsloonverskil dui. Daarbenewens bly vroue onder verteenwoordig in leierskaprolle en beklee slegs 33,1% van bestuursposisies (sien bladsy 54). Hierdie bevindings beklemtoon die voortgesette strukturele hindernisse wat vroue se volle deelname aan die ekonomie beperk.


Veiligheid is sleutel tot geslagsgelykheid in die werkplek

Suid-Afrika moet enige toegangshindernisse tot die ekonomie verwyder om die probleem van vroue se onderverteenwoordiging aan te spreek. Die FW de Klerk Stigting het ook beklemtoon hoe die gebrek aan veiligheid in Suid-Afrika as ’n toegangshindernis dien, wat vroue verhinder om ten volle aan die ekonomie deel te neem. Wêreldwyd staar vroue dikwels verkragting, seksuele aanranding en seksuele teistering in die gesig wanneer hulle ekonomiese geleenthede probeer nastreef – bv. werk, befondsing vir besighede en staatsverkrygingsgeleenthede. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistieke toon dat Suid-Afrika steeds gesukkel het met geslagsgebaseerde geweld, met die geslagsgebaseerde geweld koers wat in 2024 uitermatig hoog gebly het: Die aantal vroulike slagoffers van moord het met 68 gevalle afgeneem in 2024 in vergelyking met 2023. Die aantal pogings tot moord op vroue het egter met 327 toegeneem in vergelyking met 2023. Seksuele geweld bly ’n aanhoudende probleem, alhoewel daar in 2024 ’n afname van 0,84% in seksuele misdrywe was teenoor die vorige jaar. Nietemin bly onder rapportering ’n kritieke bekommernis, met slegs 20% van vroue wat seksuele mishandeling ervaar wat dit rapporteer. Vroulike slagoffers van aanranding met die opset om ernstig te beseer het met 1,71% afgeneem. Argumente, misverstande, padwoede-insidente of uitlokking het konsekwent die hoof oorsake van hierdie misdrywe in 2024 gebly, met die mees algemene plek van voorval die woning van óf die oortreder óf die slagoffer (insluitend wonings bekend aan een van die partye, bv. familie/vriende/bure). Die voorkoms van hierdie oortreding dui op volgehoue gapings in gemeenskapspolisering en voorkomingsstrategieë. Ongeveer 12,66% van aanranding met die opset om ernstig te beseer was alkoholverwant in 2024, wat diepgewortelde maatskaplike probleme soos alkoholmisbruik, ekonomiese spanning en onvoldoende konflikhanteringsmeganismes weerspieël – en die behoefte aan verbeterde ingryping strategieë beklemtoon.


Moet ons meer wette maak?

Suid-Afrika beskik oor wetgewing wat spesifiek daarop gemik is om vroue te beskerm: insluitend, maar nie beperk tot die Wet op Gesinsgeweld, 1998, en die Wet op Beskerming teen Teistering, 2011, nie. Daar is ook die Wet op die Nasionale Raad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord, 2024. Hierdie wet het op 15 November 2024 in werking getree. Dit onderlê die stigting van die Nasionale Raad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (“die Raad”). Hierdie Raad is ’n statutêre liggaam wat die leiding neem en pogings koördineer om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in Suid-Afrika te bekamp. Dit bestaan uit regeringsverteenwoordigers en lede van die burgerlike samelewing, wat ’n multisektorale benadering verseker. Die Raad se sleutelrolle sluit in die ontwikkeling van ’n Nasionale Strategiese Plan, monitering van beleidsimplementering en die verseker van befondsing vir geslagsgebaseerde geweld-verwante programme. Die Raad versterk ook koördinering tussen wetstoepassing, maatskaplike dienste en gesondheidsorgverskaffers om slagofferondersteuning en voorkomingsmaatreëls te verbeter.

Soos hierbo aangedui, lê die probleem nie by ’n gebrek aan wetgewing nie. Hierdie wette moet éérder doeltreffend en konsekwent landswyd geïmplementeer word.


Gevolgtrekking

Totdat Suid-Afrika daarin slaag om dit veilig te maak vir vroue om aan die ekonomie deel te neem, sal die probleem van geslagsongelykheid in die ekonomie voortduur.