DIE TERUGKEER VAN KOMPETISIE TUSSEN SUPERMOONDHEDE EN GEO-POLITIEKE RISIKO'S

Saamgestel deur Shaun Kinnes, Intern by die FW de Klerk Stigting, op 24/04/2024

 

Inleiding:

Hierdie is die derde en laaste artikel in die reeks oor kernwapens en die toenemende bedreiging wat hierdie wapens weereens vir die beskawing inhou. In die vorige twee artikels het ons gekyk na die geopolitiek van kernwapens en die effek van kunsmatige intelligensie (“KI”) op kernproduksieprogramme. Hierdie artikel ondersoek militêre spandering gegewe die nuutste geo-politieke stand van sake.

 

Die Geo-politieke atmosfeer in Europa:

Oorlog het weereens in Europa uitgebreek. Dit het veroorsaak dat verhoogde geo-politieke spanning en onsekerheid in die globale politieke arena weer sy kop uitgesteek het. Die Poolse premier, Donald Tusk, het onlangs gesê dat Europa, as gevolg van die Russiese inval in die Oekraïne, nou in ‘n vooroorlogse era is, wat beklemtoon dat Europa sedert 1945 nog nié in so ‘n situasie was nié.

Met Europese lidlande behorend aan die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (“NAVO”) wat hul wapenproduksie tot gereedheidsvlakke vir oorlog verhoog en NAVO wat sy militêre strategie belyn vir oorloggereedheid, is dit veilig om te sê dat ‘n era van “kollektiewe verdediging” nou momentum begin kry. (M.a.w. waar ‘n aanval op een geallieerde staat as ‘n aanval op almal gesien word.) Die Verenigde Koninkryk se Verdedigingsekretaris is van mening dat dit nou tyd is dat alle geallieerde en demokratiese nasies regoor die wêreld hul verdedigingsbesteding verhoog, omdat hulle in vyf jaar se tyd werklike oorlogbedreigings deur Rusland, Sjina, Iran en Noord-Korea in die gesig kan staar.

 

Vooroorlogse era:

Die Verenigde Koninkryk sal meer as 20 000 personeellede stuur om een van NAVO se grootste ontplooiings sedert die einde van die Koue Oorlog met die kodenaam “Exercise Steadfast Defender”, te lei. Pole se regerende party, ook bekend as die Law and Justice  Party (“PiS”) het sekuriteit die kern van sy 2024-veldtog gemaak. Dit kom te midde van vrese vir toenemende onsekerheid op die land se oostelike grens met Belarus weens beweerde aanvalle deur Belarusiese militêre helikopters en huursoldate van die Russiese Wagner-groep. (Militêre ontleders beskou die beweerde invalle as ‘n manier vir Rusland en Belarus om NAVO se reaksie te toets, eerder as ‘n onmiddellike voor-aanval.) Die Poolse regering beoog om 4% van sy BBP aan verdediging te bestee (byna dubbel NAVO se riglyn). NAVO se kerndoelwit het ook verskuif na die herbevoorrading van sy wapenarsenale, terwyl dit terselfdertyd ondersteuning aan die Oekraïne bied.

Verder het die Duitse kanselier, Olaf Scholz, beklemtoon dat “Ons (menende Duitsland) se vredesbestaan in gevaar is“. Daarom is die Duitse weermag opgeskerp om te reageer op die risiko’s van ‘n era waarin die wêreld hom nou in bevind. Dit kom omdat die Duitse Ministerie van Verdediging een van sy naaste bure – Rusland – as die grootste bedreiging vir vrede en veiligheid beskou, met Sjina wat ook toenemend aggressief word. In die lig van hierdie ontwkkelinge, het die Duitse weermag ‘n dokument van 34 bladsye vrygestel wat daarop gemik is om sy militêre gereedheid te beklemtoon weg van ‘n vredestydmag na een wat oorloggereed is, bekend as die Duitse Militêre en Strategiese Riglyne.

Lank gelede het die groot Romeinse generaal, Renatus, gegewe hierdie konteks die volgende te sê gehad “as jy vrede wil hê, berei voor vir oorlog“. ‘n Mens moet die vraag vra: Staan die wêreld nou ‘n tyd in die gesig, waar ons moet voorberei vir oorlog om ‘n vreedsame toekoms te verseker? Oorlog vernietig samelewings, verontagsaam menselewe en het uiters negatiewe ekonomiese gevolge tot gevolg. ‘n Derde Wêreldoorlog hou eksistensiële bedreigings vir die hele mensdom in. Diplomasie moet seëvier, maar met sogenaamde “supermoondhede” (state met ongeëwenaarde mag en invloed) wat aan die toeneem is, kan dit vir regerings buitengewoon moeilik wees om betrokke te raak by aktiewe diplomasie waar daar min tot geen belyning van gemeenskaplike waardes en posisies is nie.

Die risiko’s van verhoogde gevegte tussen ondersteuners van Oos- en Westerse blokke sal gevolglik talle risiko’s vir baie state in die globale Suide inhou. Soos dit die geval was tydens die Koue Oorlog toe Asië en Afrika as slagvelde tussen die Kommunisties geleide Sowjetblok en Kapitalisties geleide Westerse blok geteiken is. Die onstabiliteit sal reeds brose ontluikende markte bedreig soos die nagevolge ook na hulle toe oorspoel en gevolglik bedreigings vir voedselsekerheid, energiepryse en institusionalisme aanwakker. Nooit weer moet die wêreld ‘n algehele “wêreldoorlog” ervaar nie, maar met diplomasie wat misluk – en state wat in ‘n deurlopende toestand van strydlustigheid verkeer – moet ‘n mens die risiko erken dat dit kan gebeur.

In die nasleep van Israel se bombardement op die Iranse ambassade in Sirië, wat twee top-Iraanse generaals doodgemaak het, het Iran sy onderneming nagekom om ‘n missielaanval teen Israel te loods. Israel het teruggekap met ‘n missielaanval van sy eie. Dit verhoog die risiko van die uitbreek van ‘n volskaalse streekoorlog in die Midde-Ooste. Israel het selfs so ver gegaan as om te dreig om Iranse kernterreine aan te val sou Iran enige vergeldingsaanvalle loods. Dit sal uiteindelik die risiko van die ontplooiing van kernwapens verhoog en miljoene mense in die streek blootstel aan kernbestraling en -afval sou Israel ‘n aanval op Iranse kernfasiliteite loods. Die situasie is op ‘n mespunt.

Bron: Israel ‘preparing to strike Iranian NUCLEAR facilities’ amid tense wait for revenge attack and soaring WW3 fears | The Sun

 

Ten slotte:

Die globale politieke arena het besonder onseker en broos geword. Sommige ontleders het selfs die tye waarin ons nou leef, vergelyk met die Koue Oorlog (1947-1989).

Bron: The 2020s mark a return to Cold War levels of geopolitical risk | PIIE

Dit is dus die moeite werd om daarop te let dat indien organisasies soos die Verenigde Nasies, wat gestig is met die doel om dialoog te bevorder en die voorkoms van oorlog te vermy, nie bestaan het nie, dit gegewe die verhoogde geo-politieke en konflikrisiko’s, as ‘n noodsaaklikheid en sonder aarseling tot stand gebring sou word.