Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE REG OP LEWE IN SUID-AFRIKA
Uitgereik deur Shanees Nkandu namens die FW de Klerk Stigting op 26/05/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ’n omvattende beoordeling van die stand van fundamentele regte soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet. Een van hierdie regte is die reg op lewe, vervat in artikel 11 van die Grondwet. Dit beskerm elkeen se reg op lewe, wat as die “fundamenteelste van alle regte” beskou word. Tog, soos in die Menseregteverslagkaart onthul, is die stand van hierdie reg steeds diep kommerwekkend. Ten spyte van die Grondwet se onvoorwaardelike beskerming van hierdie reg, het Suid-Afrika nog ’n lang pad om te loop om respek vir hierdie reg in die samelewing te kweek. Hierdie artikel kyk na sommige van die ontwikkelinge wat hierdie reg beïnvloed het.
Kommerwekkende Misdaadstatistieke
Suid-Afrika word steeds geteister deur gewelddadige misdaad, wat enige betekenisvolle voordeel van die reg op lewe ondermyn. Met die hoogste misdaadindeks in Afrika, is Suid-Afrika geranglys as die vyfde gevaarlikste land in die wêreld. Om te illustreer hoe gewelddadige misdaad die reg op lewe ondermyn, hoef ’n mens net na die moordstatistieke vir 2024 te kyk: Die amptelike Suid-Afrikaanse Polisiediens (“SAPD”) misdaadstatistieke toon dat 26 232 moorde in 2024 gepleeg is. Dit is ’n gemiddeld van 71,87 mense wat daagliks vermoor is. In vergelyking met 2023 se gemiddeld van 74,44 moorde per dag, is hierdie syfers ’n geringe verbetering, maar steeds veel te hoog. Van hierdie 71,87 daaglikse moorde, was ongeveer 33 as gevolg van geweergeweld – byna die helfte. Belangrik is dat ’n groot aantal vuurwapenverwante sterftes aan onwettige vuurwapens gekoppel word.
Vuurwapenwanbestuur: ’n Eskalerende Krisis
Ten spyte van streng wapenbeheerwetgewing, bly die verspreiding van onwettige vuurwapens dodelike geweld aanwakker. In 2024 het vuurwapenverwante sterftes toegeneem, veral in bendegeteisterde stedelike gebiede. Die regering verloor jaarliks ongeveer 1 800 vuurwapens aan misdadigers, wat die geweld verder laat toeneem. Die volgehoue bestaan van onwettige vuurwapenbesit dui op swak wetstoepassing en beheermaatreëls.
Kinderwanvoeding: Die Onder die Radar Skending
Die mees onderskatte bedreiging vir die reg op lewe, is voedselonsekerheid. Dit manifesteer onder die radar. Die Suid-Afrikaanse Voedselonsekerheidsindeks 2024 het bevind dat voedselonsekerheid die hoogste vlak in meer as ’n dekade bereik het. Stygende voedselpryse, armoede en hoë werkloosheid het dit toenemend moeilik gemaak vir gesinne om voedsame maaltye te bekostig. In 2024 was die voedselarmoedelyn R796,00 per persoon per maand (heelwat meer as die Kinderondersteuningstoelae van R510,00 per maand). ’n Opname deur die Menswetenskaplike Navorsingsraad het bevind dat 63,5% van huishoudings in Suid-Afrika voedselonsekerheid ervaar.
Die Verenigde Nasies se Kinderfonds het bevind dat minder as 21% van kinders ’n minimum aanvaarbare dieet ontvang en dat 23% van Suid-Afrikaanse kinders lewensgevaarlike voedselarmoede ervaar, wat Suid-Afrika onder die 20 ergste geraakte lande plaas. Kinders is veral kwesbaar vir die gevolge van wanvoeding en 25% van kinders se groei is belemmer. Baie kinders ly nou aan groeistremming, vermorsing en mikronutriënttekorte – toestande wat sterftesyfers drasties verhoog en toekomstige ontwikkeling benadeel.
Onwettige Mybou en die Stilfontein-Tragedie
In een van 2024 se mees aangrypende menseregterampe, het minstens 78 onwettige mynwerkers (of “zama zamas”) in die verlate Stilfontein-myn in die Noordwes-provinsie gesterf. Tydens ’n polisie-operasie wat daarop gemik was om onwettige mynbou aktiwiteite te beëindig, het owerhede voedsel-, water- en mediese toegang tot die mynwerkers ondergronds afgesny. Die strategie het katastrofies gevolge gehad. Dit het die optrede in ’n humanitêre krisis verander, gekenmerk deur hongersnood, dehidrasie en selfs berigte van kannibalisme.
Hierdie tragedie ontbloot die kruispunt tussen armoede, kriminalisering van oorlewingsaktiwiteite en die staat se verpligtinge ingevolge die reg op lewe. Die staat se plig is nie net om geweld te voorkom nie, maar ook om nie aksies te neem wat mense doelbewus aan dood en lyding blootstel nie.
Gevolgtrekking
Die grootste bedreiging vir die reg op lewe in Suid-Afrika spruit nie uit grondwetlike tekortkominge nie, maar uit die alomteenwoordige gewelddadige misdaad wat die land teister. Hierdie gewelddadige misdaad is die gevolg van die SAPD se onvermoë om die wet landswyd gelyk toe te pas. Dit dui op ’n onvermoë van die SAPD om die enorme volume misdaad wat dit moet opspoor en voorkom, te hanteer. Terwyl dié wat dit kan bekostig, genoodsaak is om privaatsekuriteit in diens te neem (wat betekenisvolle werkverskaffing vir baie Suid-Afrikaners in die privaatsektor tot gevolg gehad het), dra miljoene wat nié sulke beskerming kan bekostig nie, steeds die grootste las van hierdie misdaad. Kortom, vir Suid-Afrika om ’n veilige samelewing te word, móét die staat veel meer doen om ’n doeltreffende, professionele, etiese en effektiewe SAPD te versterk en te bemagtig.