
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE ONTEIENINGSWET, 2024 SE “NUL VERGOEDING” – ONTSTAANSGESKIEDENIS
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 03/02/2025
In gevolge artikel 31 van die Onteieningswet, 2024, is die Wet nog nie in werking nie. Die FW de Klerk Stigting bevestig dat daar op die datum van skrywe geen datum vir die Wet se inwerkingtreding afgekondig is nie.
Inleiding:
Hierdie artikel is die eerste in ‘n reeks wat die Wet op Onteiening, 2024 sal behandel. Dit handel oor die ontstaan van die konsep van “nul vergoeding” vir grond wat onteien word. Vir ‘n regsanalise, sien hierdie artikel.
Op 23 Januarie 2025 het die Presidensie ‘n persverklaring uitgereik dat die President die Wet op Onteiening, 2024 bekragtig en onderteken het. Die Wet maak voorsiening vir die Staat om grond te onteien teen “nul vergoeding” (artikels 12(3) en 12(4) van die Wet).
Ontstaangeskiedenis van “nul vergoeding”:
Verander die Grondwet:
Die poging om grondonteiening vir nul vergoeding (ook bekend as onteiening sonder vergoeding of OSV) te wettig, was eers gemik op die Grondwet. Die Grondwet bepaal tans dat die bedrag van die vergoeding (en die tyd en wyse van betaling daarvan) regverdig en billik moet wees (artikel 25(3) van die Grondwet).
In 2018 het die Vyfde Parlement die Gesamentlike Grondwetlike Hersieningskomitee (“die Eerste Komitee”) geskep om te ondersoek of die Grondwet verander moet word om voorsiening te maak vir nul vergoeding. Hierdie Eerste Komitee het openbare verhore gehou om OSV te bespreek en het ‘n verslag opgestel wat aanbeveel het dat:
“a. Artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om eksplisiet te maak wat implisiet in die Grondwet is, met betrekking tot Onteiening van Grond sonder Vergoeding, as ‘n wettige opsie vir Grondhervorming, om sodoende die historiese onregte wat veroorsaak is deur die arbitrêre ontneming van grond aan te spreek, en sodoende billike toegang tot grond te verseker en verder die meerderheid van Suid-Afrikaners in staat te stel om produktiewe deelnemers te wees in eienaarskap, voedselsekuriteit en landbouhervorming programme. b. Dat die Parlement dringend ‘n meganisme moet instel om die nodige wysiging aan die relevante deel van Artikel 25 van die Grondwet te bewerkstellig. c. Die Parlement moet ‘n Wysigingswetsontwerp van die Grondwet voorlê, verwerk en aanvaar voor die einde van die 5de Demokratiese Parlement om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.”. |
Vroeg in 2019, voor sy termyn op 29 Maart 2019 geëindig het, het die Vyfde Parlement die Ad Hoc Komitee om Artikel 25 van die Grondwet te wysig (“die Tweede Komitee”) geskep as die meganisme. Op 13 Maart 2019, dae voor die Vyfde Parlement sou ontbind, het die Tweede Komitee ‘n verslag opgestel wat aanbeveel het dat die Sesde Parlement die saak moet hanteer.
Na die 2019-verkiesing is die Sesde Parlement in Mei 2019 ingesweer en het kort daarna in Julie 2019 die Ad Hoc Komitee om Wetgewing te Inisieer en In te Stel wat Artikel 25 van die Grondwet wysig (“die Derde Komitee”) gestig. Hierdie Komitee het ook openbare verhore gehou. Dit het ook die Agtiende Wysigingswetsontwerp van die Grondwet (B18-2021) opgestel en hierdie Wetsontwerp op 8 September 2021 in die Parlement ingedien. Die Wetsontwerp het ten doel gehad om die Grondwet te verander om eksplisiet te stel dat waar grond vir grondhervormingsdoeleindes onteien word, die bedrag van vergoeding nul mag wees (klousule 1 van die Wetsontwerp).
Die Sesde Parlement het egter die Tweede Lesing van die Wetsontwerp verwerp en sodoende die Wetsontwerp laat verval. Dit is dus effektief op 7 Desember 2021 verwerp. Die Grondwet vereis dus steeds regverdige en billike vergoeding wanneer grond onteien word.
Oorsprong van die Wet op Onteiening, 2024:
In Oktober 2020, terwyl die Derde Komitee besig was met sy werk om die Grondwet te verander, het die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur die Wetsontwerp op Onteiening (B23-2020) ingedien. Hierdie Wetsontwerp het bepaal dat “[d]it regverdig en billik mag wees dat geen vergoeding betaal word waar grond in die openbare belang onteien word nie” (klousule 12(3) van die Wetsontwerp).
Hierdie Wetsontwerp het sy weg deur die Parlement se twee huise gemaak, openbare verhore (in 2021 en 2023) en veranderinge ondergaan. Op 27 Maart 2024 is die D-weergawe van die Wetsontwerp deur beide Parlementshuise aanvaar en na die President gestuur vir bekragtiging. Op 20 Desember 2024 het die President dit bekragtig en onderteken, hoewel die Wet op Onteiening, 2024 nog nie in werking is nie. Dit sal eers in werking tree op ‘n datum wat die President nog moet bepaal en in die Staatskoerant publiseer (artikel 31 van die Wet).