Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE JEUG HET GEREGISTREER. GEE HULLE NOU ’N REDE OM TE GAAN STEM
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 03/07/2026
Suid-Afrikaners word dikwels vertel dat jongmense polities apaties is. Die eerste kiesersregistrasienaweek vir die plaaslike regeringsverkiesing skets egter ’n ander prentjie. Die Verkiesingskommissie het byna 2,9 miljoen registrasietransaksies aangeteken. Van die 477 174 nuwe registrasies was 379 767, oftewel 80%, jongmense tussen die ouderdomme van 16 en 29. Jong burgers het nie die uitnodiging geïgnoreer nie. Hulle het daarop gereageer.
Dit is bemoedigend, maar dit verteenwoordig nog nie ’n demokratiese deurbraak nie. Registrasie beteken bloot dat iemand op die kieserslys verskyn. Dit is nie ’n belofte om te gaan stem, steun vir enige politieke party of bewys dat vertroue herstel is nie. Jong Suid-Afrikaners het die eerste stap gedoen. Politieke partye moet hulle nou ’n rede gee om ook die volgende stap te doen.
REGISTRASIE BETEKEN NIE VERTROUE NIE
Die waarskuwingstekens is duidelik. Die stempersentasie onder geregistreerde kiesers tussen die ouderdomme van 20 en 29 in plaaslike verkiesings het van 49% in 2011 tot 35% in 2021 gedaal. Die politieke klimaat het ook versleg. Navorsing wat in opdrag van die Verkiesingskommissie gedoen is, toon dat steun vir demokrasie as die voorkeur-regeringsvorm tot 36% gedaal het, terwyl vertroue in plaaslike regering tot ongeveer 18% afgeneem het.
Dit moet nie bloot as luiheid of ondankbaarheid afgemaak word nie. Wat dikwels as jeugapatie beskryf word, is in werklikheid politieke teleurstelling. Jongmense het grootgeword met die boodskap dat demokrasie burgers inspraak en mag gee, maar het terselfdertyd gesien hoe raadslede al hoe minder toeganklik raak, dienste agteruitgaan en verkiesingsbeloftes ná stemdag verdwyn. Wanneer dit lyk asof deelname aan verkiesings geen tasbare resultate oplewer nie, kan onttrekking na ’n verstaanbare reaksie lyk.
Die Grondwet maak plaaslike regering nietemin direk relevant tot hul daaglikse lewe. Artikel 152 vereis dat munisipaliteite demokratiese en verantwoordbare regering bevorder, volhoubare dienste lewer, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling bevorder en gemeenskapsdeelname aanmoedig. Dit is nie abstrakte of veraf ideale nie. Dit gaan oor die water in ’n huishouding, die straatlig buite die huis, die veiligheid van die buurt en die omstandighede waarin ’n jongmens werk probeer vind.
’N GENERASIE WAT RESULTATE EIS
Die ekonomiese werklikheid is uiters ernstig. In die eerste kwartaal van 2026 het die werkloosheidskoers 60,9% beloop onder mense tussen die ouderdomme van 15 en 24, en 40,6% onder diegene tussen 25 en 34. Meer as vier uit elke tien jongmense tussen 15 en 34 was nie in diens, onderwys of opleiding nie. Afrobarometer het bevind dat 63% van jong Suid-Afrikaners werkloosheid as die land se belangrikste probleem beskou, terwyl 96% meen dat die regering swak vaar met werkskepping.
Munisipaliteite kan nie werkloosheid op hul eie oplos nie. Hulle bepaal egter in ’n groot mate of plaaslike ekonomieë behoorlik kan funksioneer. Hulle keur grondgebruikaansoeke goed, onderhou paaie, voorsien elektrisiteit en water, reguleer handel, bestuur openbare ruimtes en bestee miljarde rande aan die verkryging van goedere en dienste. ’n Munisipaliteit wat permitte vertraag, infrastruktuur verwaarloos of kontrakte op grond van politieke begunstiging toeken, veroorsaak nie bloot ongerief vir inwoners nie. Dit sluit geleenthede vir werk en entrepreneurskap af.
Politieke partye moet dus ophou om oor “die jeugstem” te praat asof jongmense bloot een bemarkingskategorie vorm. Hulle is burgers met uiteenlopende oortuigings, maar met besonder praktiese vrae. Wie is die wykskandidaat? Wat het dié persoon reeds in die gemeenskap gedoen? Hoe sal die munisipaliteit vakleerlingskappe, klein ondernemings en veilige handelsruimtes ondersteun? Wanneer sal vervalle infrastruktuur herstel word? Hoe sal korrupsie voorkom word? En wat gebeur indien die raadslid nie sy of haar werk doen nie?
VERDIEN DIE STEM
Elke party wat aan hierdie verkiesing deelneem, behoort sy wykskandidate vroegtydig bekend te maak, tesame met besonderhede oor hul kwalifikasies, diensrekord in die gemeenskap en enige tersaaklike dissiplinêre of strafregtelike bevindings. Die keuse van kandidate moet bekwaamheid en plaaslike geloofwaardigheid beloon, nie faksionele lojaliteit nie. Kiesers kan nie mense aanspreeklik hou wat hulle skaars ken nie.
Manifeste moet vervolgens in konkrete verbintenisse op wyksvlak omskep word. Algemene beloftes om werk te skep of dienslewering te verbeter, is maklik om te maak, maar moeilik om te meet. Partye behoort vir elke munisipaliteit ’n beperkte aantal prioriteite te identifiseer waarvoor daar reeds finansiering beskikbaar is, duidelike tydraamwerke te verskaf en aan te dui wie vir die uitvoering daarvan verantwoordelik sal wees. Waar ’n belofte van samewerking deur die provinsiale of nasionale regering afhanklik is, moet dit openlik en eerlik gestel word.
Munisipale begrotings behoort ook aan ’n jeugtoets onderwerp te word. Rade moet in eenvoudige taal verduidelik hoe hul besteding vakleerlingskappe sal uitbrei, infrastruktuur naby skole en vervoerroetes sal herstel, verkrygingsgeleenthede vir opkomende ondernemings sal verbreed, digitale toegang sal verbeter en veiliger openbare ruimtes sal skep. Dit beteken nie dat daar ’n afsonderlike program vir elke jong inwoner moet wees nie. Dit beteken dat munisipaliteite by elke besluit moet oorweeg of dit geleenthede uitbrei of dit stilweg beperk.
Laastens kan aanspreeklikheid nie eindig wanneer die verkiesingsveldtog verby is nie. Raadslede behoort gereeld openbare vergaderings te hou, kwartaallikse verslae oor die stand van sake in hul wyke te publiseer en openlik verslag te doen oor klagtes, projekte en besteding. Die burgerlike samelewing, universiteite, skole en die media behoort kandidaatdebatte aan te bied en eerstekeerkiesers te help verstaan wat munisipaliteite kan en nie kan doen nie. Die Verkiesingskommissie behoort intussen voort te gaan met kiesersregistrasie en kiesersopvoeding op universiteitskampusse, by TVET-kolleges, in townships en in informele nedersettings.
Jong Suid-Afrikaners het nie bewys dat hulle wel sal gaan stem nie. Hulle het egter iets bewys wat op hierdie oomblik net so belangrik is: wanneer die deur vir deelname oopgemaak word, is hulle bereid om betrokke te raak. Politieke partye moet nie op daardie bereidwilligheid reageer met slagspreuke, saamtrekke met bekendes of nóg ’n lys beloftes sonder kosteberamings en sperdatums nie.
Die verantwoordelikheid verskuif nou. Jong burgers het geregistreer. Diegene wat politieke mag nastreef, moet wys dat plaaslike demokrasie bekwame verteenwoordigers, werkende dienste en eerlike regering kan oplewer. Jongmense se stemme is beskikbaar, ja, maar niemand is daarop geregtig nie. Daardie stemme moet verdien word.
Vir meer oor hierdie onderwerp, lees: FW DE KLERK FOUNDATION RELEASES “WHOSE RESPONSIBILITY IS IT ANYWAY?” – A NEW DIGITAL GUIDE TO THE 2026 LOCAL GOVERNMENT ELECTIONS – https://fwdeklerk.org/fw-de-klerk-foundation-releases-whose-responsibility-is-it-anyway-a-new-digital-guide-to-the-2026-local-government-elections/

OPENBARE GROND IS ’N GRONDWETLIKE INSTRUMENT, NIE NET ’N ITEM OP DIE BALANSSTAAT NIE
Die Konstitusionele Hof se Tafelberg-uitspraak bevestig dat goed geleë openbare grond nie bloot as ’n kommersiële bate behandel kan word wanneer dit kan help om apartheid se ruimtelike nalatenskap ongedaan te maak nie. Waar bekostigbare behuising gebou word, is belangrik, omdat toegang tot werksgeleenthede, vervoer, onderwys en noodsaaklike dienste deel vorm van betekenisvolle toegang tot voldoende behuising. Munisipaliteite en provinsies moet openbare grond dus deursigtig bestuur en vervreem, met opregte openbare deelname en behoorlike erkenning van die grond se grondwetlike waarde.

LESSE UIT DIE 2026-GTAC-KONFERENSIE
Die 2026-GTAC-konferensie oor openbare ekonomie het ’n kernwaarheid beklemtoon: Suid-Afrika se werkloosheidskrisis kan nie opgelos word deur mense op te lei vir werksgeleenthede wat nie bestaan nie. Volhoubare vooruitgang vereis bewysgebaseerde beleid, verstandiger openbare besteding en groter ondersteuning vir die informele, township- en plattelandse ekonomieë waar miljoene mense reeds hul bestaan maak. Uiteindelik vereis die Grondwet ’n staat wat waardigheid beskerm, struikelblokke tot geleenthede verwyder en sukses aan werklike uitkomste eerder as die aantal befondsde programme meet.

FW DE KLERK STIGTING OOR DIE TERUGHOUDING VAN MUNISIPALE OORDRAGBETALINGS
Die FW de Klerk Stigting neem kennis van die Nasionale Tesourie se besluit om oordragbetalings aan munisipaliteite wat nie aan wetlike vereistes voldoen nie, terug te hou, asook van die Parlement se oproep vir hul dringend die wet nakom. Hierdie verwikkelinge bevestig wat reeds glashelder geword het: Baie munisipaliteite regoor Suid-Afrika verkeer in ’n diep en volgehoue bestuurskrisis.