Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE FW DE KLERK STIGTING DRING BY DIE PARLEMENT AAN OM WETLIKE VERPLIGTINGE VIR KIESHERVORMING NA TE KOM
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 23/06/2026
Die FW de Klerk Stigting het formeel aan die Parlement geskryf om dringende duidelikheid te versoek oor die program, proses en tydlyne vir die finalisering van sy oorweging van die Kieshervormingskonsultasiepaneel (“ERCP”) se gekonsolideerde verslag.
Die Stigting se brief beklemtoon kommer oor vertragings in die parlementêre proses, op ’n tydstip wanneer die geleentheidsvenster vir betekenisvolle kieshervorming voor die 2029 nasionale en provinsiale verkiesings vinnig besig is om te vernou.
“Kieshervorming gaan in wese daaroor of burgers politici, as hul verkose verteenwoordigers, op ’n betekenisvolle wyse tot verantwoording kan roep,” het Christo van der Rheede, die FW de Klerk Stigting se uitvoerende direkteur, gesê. “Die huidige stelsel word gekritiseer omdat dit politici aanspreeklik maak teenoor hul partyleiers, eerder as teenoor burgers.”
In sy korrespondensie beklemtoon die Stigting dat die Parlement se wetlike verpligting nie bloot prosedureel van aard is nie. Dit moet die ERCP-verslag oorweeg op ’n wyse wat praktiese uitwerking gee aan die Kieswysigingswet, 2023, en ’n werklike geleentheid behou om deur regmatige en deelnemende prosesse te bepaal of hervormings, en indien wel watter hervormings, betyds vir die 2029-verkiesing geïmplementeer moet word.
Dit is nie ’n abstrakte beleidsdebat nie. Dit gaan daaroor óf die Parlement sy wetlike en grondwetlike pligte nakom op ’n wyse wat betekenisvolle hervorming moontlik maak,” het Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en die Stigting se Grondwetlike Regte Programbestuurder, gesê. “Elke verkorting van die tydlyn verminder die kans om die stelsel te hervorm op ’n wyse wat mag aan die mense gee.”
Die Stigting beklemtoon verder dat die hervormingsproses inherent kompleks is en dat, indien die tydraamwerk só verkort word dat betekenisvolle hervorming nie meer prakties haalbaar is nie, daar ’n werklike risiko bestaan dat die doel van die Wet verydel sal word. Voortgesette vertraging kan dus neerkom op ’n versuim om uitvoering te gee aan die Parlement se wetlike verpligtinge ingevolge die wet en sy grondwetlike pligte.
“Vertraging is nié sonder implikasies nié,” het Van der Rheede bygevoeg. “As die Parlement nie betyds optree nie, loop enige toekomstige hervorming die risiko om vir die volgende verkiesingsiklus irrelevant te word. Dit sal sowel die doel van die wetgewing as die breër grondwetlike raamwerk vir demokratiese regering ondermyn.”
Die Stigting het die Parlement versoek om onmiddellik op te tree om te verseker dat dit sy verantwoordelikhede regmatig en doeltreffend kan nakom.
“Suid-Afrikaners verdien ’n stelsel waar openbare verteenwoordigers aanspreeklik is teenoor die mense wat hulle dien,” sluit Ellerbeck af. “Geen hervorming is nie ’n opsie nie.”

WIE HOU TOESIG OOR DIE WAGHOND? BEKAMP MISBRUIK, NIE GODSDIENSVRYHEID NIE
.In hierdie artikel voer die FW de Klerk Stigting aan dat Suid-Afrika misbruik in godsdiensgemeenskappe moet aanpak sonder om wettige geloofsbeoefening onder staatstoesig te plaas. Bestaande strafregtelike, belasting- en niewinsgewende organisasie-wetgewing moet behoorlik toegepas word, terwyl geloofsgemeenskappe vrywillige beskermingsmaatreëls en aanspreeklikheid versterk. Die beskerming van gemeentelede moet nooit die uitoefening van godsdiensvryheid afhanklik maak van amptelike goedkeuring nie.

WANNEER OPENBARE GELD WANBESTEE WORD, BETAAL GESINNE TWEE KEER
In hierdie tweede aflewering van die FW de Klerk Stigting se Money Smart Week Suid-Afrika 2026-reeks verskuif die fokus van persoonlike inkomste na die openbare geld wat bepaal hoe ver dit kan strek. Wanneer dienste misluk, betaal gesinne twee keer: eers deur belasting, tariewe en heffings, en dan weer om noodsaaklike dienste uit hul eie sak te vervang. Die artikel verduidelik waarom dit noodsaaklike dade van grondwetlike burgerskap is om die rand se spoor te volg, verantwoordbaarheid te eis en aan openbare prosesse deel te neem.

FW DE KLERK STIGTING STEL MET TROTS BEKEND: DIE KRAG VAN FINANSIËLE MOONTLIKHEDE: JEUGGIDS
Die FW de Klerk Stigting stel met trots Die krag van finansiële moontlikhede: Suid-Afrika se grondwetlike geldgids vir 2026 tydens Money Smart Week South Africa 2026 bekend. Die praktiese gids, wat in ’n volledige en verkorte uitgawe beskikbaar is, bemagtig jong Suid-Afrikaners om te leer, inkomste te verdien, hul geld te beskerm, bates op te bou en te verstaan hoe openbare finansies hul lewens beïnvloed. Dit verbind persoonlike finansiële vaardigheid met grondwetlike burgerskap en bied praktiese werkkaarte, amptelike hulpbronne en ’n moontlikheidsuitdaging van 30 dae.