+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK STIGTING DRING BY DIE PARLEMENT AAN OM WETLIKE VERPLIGTINGE VIR KIESHERVORMING NA TE KOM

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 23/06/2026

Die FW de Klerk Stigting het formeel aan die Parlement geskryf om dringende duidelikheid te versoek oor die program, proses en tydlyne vir die finalisering van sy oorweging van die Kieshervormingskonsultasiepaneel (“ERCP”) se gekonsolideerde verslag.

Die Stigting se brief beklemtoon kommer oor vertragings in die parlementêre proses, op ’n tydstip wanneer die geleentheidsvenster vir betekenisvolle kieshervorming voor die 2029 nasionale en provinsiale verkiesings vinnig besig is om te vernou.

“Kieshervorming gaan in wese daaroor of burgers politici, as hul verkose verteenwoordigers, op ’n betekenisvolle wyse tot verantwoording kan roep,” het Christo van der Rheede, die FW de Klerk Stigting se uitvoerende direkteur, gesê. “Die huidige stelsel word gekritiseer omdat dit politici aanspreeklik maak teenoor hul partyleiers, eerder as teenoor burgers.”

In sy korrespondensie beklemtoon die Stigting dat die Parlement se wetlike verpligting nie bloot prosedureel van aard is nie. Dit moet die ERCP-verslag oorweeg op ’n wyse wat praktiese uitwerking gee aan die Kieswysigingswet, 2023, en ’n werklike geleentheid behou om deur regmatige en deelnemende prosesse te bepaal of hervormings, en indien wel watter hervormings, betyds vir die 2029-verkiesing geïmplementeer moet word.

Dit is nie ’n abstrakte beleidsdebat nie. Dit gaan daaroor óf die Parlement sy wetlike en grondwetlike pligte nakom op ’n wyse wat betekenisvolle hervorming moontlik maak,” het Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en die Stigting se Grondwetlike Regte Programbestuurder, gesê. “Elke verkorting van die tydlyn verminder die kans om die stelsel te hervorm op ’n wyse wat mag aan die mense gee.”

Die Stigting beklemtoon verder dat die hervormingsproses inherent kompleks is en dat, indien die tydraamwerk só verkort word dat betekenisvolle hervorming nie meer prakties haalbaar is nie, daar ’n werklike risiko bestaan dat die doel van die Wet verydel sal word. Voortgesette vertraging kan dus neerkom op ’n versuim om uitvoering te gee aan die Parlement se wetlike verpligtinge ingevolge die wet en sy grondwetlike pligte.

“Vertraging is nié sonder implikasies nié,” het Van der Rheede bygevoeg. “As die Parlement nie betyds optree nie, loop enige toekomstige hervorming die risiko om vir die volgende verkiesingsiklus irrelevant te word. Dit sal sowel die doel van die wetgewing as die breër grondwetlike raamwerk vir demokratiese regering ondermyn.”

Die Stigting het die Parlement versoek om onmiddellik op te tree om te verseker dat dit sy verantwoordelikhede regmatig en doeltreffend kan nakom.

“Suid-Afrikaners verdien ’n stelsel waar openbare verteenwoordigers aanspreeklik is teenoor die mense wat hulle dien,” sluit Ellerbeck af. “Geen hervorming is nie ’n opsie nie.”

DIE ROL VAN MUNISIPALITEITE IN DIE BEVORDERING VAN ONS ERFENIS

Suid-Afrika se kulturele en taalerfenis is afhanklik van openbare ruimtes waar gemeenskappe kan leer, bymekaarkom en tradisies van een geslag na die volgende kan oordra. Munisipaliteite speel ’n belangrike rol in die instandhouding van plaaslike geriewe en openbare ruimtes wat help om hierdie grondwetlike regte in die alledaagse lewe betekenis te gee. Met Erfenismaand en die munisipale verkiesings wat nader kom, behoort gemeenskappe duidelike aanspreeklikheid te eis oor hoe hierdie ruimtes onderhou, befonds en beskerm word.

Read More »