+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK STIGTING DOEN 'N BEROEP OP DIE PARLEMENT OM 'N GRONDWETLIK GESKIKTE TEENKORRUPSIELIGGAAM TE SKEP

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 17/11/2025

Die FW de Klerk Stigting het formele kommentaar ingedien op die Spesiale Ondersoekeenheid (“SOE”) se Konsep Nasionale Korrupsierisiko- en Voorkomingsraamwerk. Die vertoë beklemtoon die ongrondwetlikheid van Suid-Afrika se huidige korrupsieraamwerk en doen ‘n beroep op dringende hervormings.

Ten spyte van ‘n uitspraak van die Konstitusionele Hof veertien jaar gelede dat die Staat ‘n voldoende onafhanklike teenkorrupsieliggaam moet stig, bestaan so liggaam steeds nie,” sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regteprogram. “Die Departement van Justisie het onlangs selfs aan die Parlement meegedeel dat dit nog nie eens begin het om ‘n wet op te stel om hierdie liggaam te skep nie. Die Stigting glo hierdie vertraging is onredelik en skend verskeie grondwetlike regte.

Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie is in die spervuur vanweë die aanhoudende en sistemiese plaag van korrupsie,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur. “Korrupsie ondermyn die grondliggende waardes van ons grondwetlike demokrasie – aanspreeklikheid, responsiwiteit en openheid – asook die publiek se vertroue in die Staat en sy instellings,” sluit Van der Rheede af.

Hierop voortbouend het Ellerbeck beklemtoon dat die huidige teenkorrupsieliggame nié aan die Konstitusionele Hof se standaard van onafhanklikheid voldoen nie, aangesien hulle nie buite die uitvoerende gesag se beheer is nie. “Dit is nie bloot ‘n beleidsfaling nie – dit is ongrondwetlik,” verklaar Ellerbeck.

Die Stigting se vertoë doen ‘n dringende beroep op die Parlement om die teenkorrupsieliggaam wat deur die Hof gemandateer is, sonder verwyl te skep. Dit doen ook ‘n beroep op die SOE om te oorweeg om ‘n aanlyn openbare platform te skep om korrupsiesake, verkrygingsprosesse en die herwinning van gesteelde fondse in reële tyd na te spoor – om sodoende burgers te bemagtig en aanspreeklikheid te herstel.