Genoeg is geskryf en gesê oor die algemeen droewige status van vroue in Suid-Afrika. Die onvoldoende finansiering vir reproduktiewe gesondheid, die statistieke betreffende geweld teen vroue, die onvoldoende ekonomiese geleenthede vir jong vroue wat minder geneig sal wees as mans om indiensneming te bekom en, waar indiensneming bekom word, 15% minder as mans vergoed sal word. Genoeg is geskryf oor die sukkelende Departement van Vroue, asook sy swak prestasie en versuim om sy eie prestasieteikens te behaal. So onlangs as verlede week het die Departement vir Vroue se amptelike rekening op die sosiale media-platform, Twitter, gevra “wat [gedoen moet word] met vroue wat klagtes indien en later weer terug trek”. Dit was met verwysing tot huishoudelike geweld. Hierdie stelling dui op ‘n Ministerie wat óf uit voeling is met sy mandaat, óf nie die mas kan opkom nie. Op hul webtuiste is ‘n program vir Augustus – Vrouemaand – en sit programme uiteen soos “die viering van vroue in die modebedryf”, tot die tentoonstelling van ‘n handelskou in Limpopo waar vroue van Suid-Afrika en Zimbabwe hul produkte kan verkoop – wat wissel van klere tot handwerkprodukte.
Wat is die oplossing – gegewe die droewige stand van sake? Die antwoord lê by die vroue self. Indien die verhouding van man tot vrou betreffende geregistreerde kiesers die verhouding van man tot vrou betreffende die bevolking met betrekking tot die vorige verkiesing weerspieël, is daar dan teoreties meer vroulike as manlike kiesers. Waarom gebruik Suid-Afrikaanse vroue dan nie hierdie getalle tot hul voordeel en verkies meer vroue tot die hoogste vlakke van leierskap in die land nie?
Suid-Afrikaners is natuurlik glad nie homogeen nie en beskik nie oor eenvormige belange en bekommernisse nie. Kwessies soos persoonlike veiligheid en toegang tot ekonomiese geleenthede raak steeds alle Suid-Afrikaanse vroue – ongeag ras, klas en die politiek. ‘n Vrou in die magtigste leierskapsposisie beteken nie noodwendig dat daar ‘n verbetering in die daaglikse ervarings van ander vroue sal wees nie. Ons moet egter meer aandag aan Rwanda skenk. Hul Parlement word deur vroue oorheers, en hul Regbank beskik oor ‘n gelyke getal mans en vroue. Progressiewe wetgewing wat die bywoning van laerskool verpligtend maak en wat vroue toelaat om eiendom te besit en te erf, het ook bygedra tot ‘n gelyker, en relatief vreedsame samelewing – ‘n drastiese verandering van 20 jaar gelede.
9 Augustus vier die dag in 1956 toe meer as 20 000 vroue van alle rasse na die Uniegeboue gestap het om beswaar te maak teen die Wet op Stedelike Gebiede, wat apartheidsbeleide verder sou versterk het. Hierdie tentoonstelling van eenheid weerspieël die krag van getalle wanneer dit gebruik word om ‘n veldtog te ondersteun.
Hierdie Augustus moet vroue, afgesien van afslagkoopbewyse vir spa-behandelings en inkopietogte ter viering van Vrouemaand (waarvan die e-posse in my junk-lêer in my e-pos van getuig) – weer dink oor maniere om betekenisvolle politieke verteenwoordiging te verwesenlik. Die getalle tel immers in hul guns. Laat die vraag of Suid-Afrika gereed is vir ‘n vroulike president, vir ewig stilgemaak word.
Deur Phephelaphi Dube, Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte