Sy word aangesê om ‘formeel of tradisioneel’ aan te trek en word gewaarsku teen die vertoning van haar borsgleuf. Iemand vra dat sy haarself toemaak met ‘n serp. Iemand anders vergelyk haar kleredrag met dié van ‘n prostituut. Dit alles het onlangs plaasgevind, in nêrens anders as die wetgewer in Mpumalanga nie. Die vrou wat ter sprake is is ‘n adjunkleier van die amptelike opposisie in die Parlement. Die aanmerkings oor haar keuse van kleredrag is geuiter deur die Lid van die Parlement wat die regerende party verteenwoordig. Dit is opvallend dat die Speaker van die wetgewer, wat ook ‘n lid van die regerende party is, versuim het om haar kollegas tot orde te roep, en haar stilswye het eerder die indruk gewek dat hierdie vrou die aanmerkings verdien het.

Dit is nie die eerste sodanige voorval in die Parlement of provinsiale wetgewer nie. In 2013 was die leier van die opposisie in die Parlement en haar keuse van kleredrag ook die onderwerp van debat, te same met bedekte verwysings na haar gewig. Daar was glo ook pogings om ander vroulike lede van die parlement oor hul liggame te verneder, met frases soos ‘olifant in die vertrek’ wat oënskynlik na gewig verwys. Sodanige kommentaar wat ten doel het om iemand se waardigheid aan te tas, doen nie veel om groter deelname deur vroue in Suid-Afrikaanse politiek aan te moedig nie.

Terwyl Suid-Afrika hoër vlakke van geslagsgelykheid geniet, soos verskeie wette van getuig, moet dit daarop gewys word dat sodanige gelykheid meestal formeel is, en steeds te kort skiet wat substantiewe gelykheid betref. Die Parlement se klaarblyklike verbintenis tot formele geslagsgelykheid word weerspieël in die posisies wat hy beklee volgens die internasionale organisasie van Parlemente, die Interparlementêre Unie (IPU). Suid-Afrika beklee die 11de plek wêreldwyd vir geslagsgelykheid in die Parlement, maar dit beteken egter dat hy drie plekke geval het van die posisie wat hy in 2013 beklee het. Vroulike verteenwoordiging in die Parlement het afgeneem van 44% in die verkiesing in 2009 tot 40% in die verkiesing in 2014. In provinsiale wetgewers het die syfer gedaal van 41% tot 37%.

Dit is waar dat artikel 117 van die Grondwet lede van ‘n provinsiale wetgewer ‘n sekere mate van vryheid van uitdrukking toeken. Dieselfde voorsiening word in artikel 58 en 71 van die Grondwet verskans, wat onderskeidelik vir die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies geld. Dit is ook waar dat die Konstitusionele Hof in Democratic Alliance v African National Congress and Another aangevoer het dat die politieke lewe in demokratiese Suid-Afrika selde beleefd, ordelik en beheersd is, en eerder altyd hard, rumoerig en opstandig is. In dieselfde saak het die Konstitusionele Hof bygevoeg dat dit nie ‘n slegte ding is nie, en dat dit binne die raamwerk wat die Grondwet daarstel goed is vir demokrasie, goed is vir die sosiale lewe en goed is vir individue as soveel oop en lewendige besprekings van openbare aangeleenthede as moontlik toegelaat word.

Die Appèlhof (die Hof) het in The Speaker of the National Assembly v Patricia De Lille and Others – waar ‘n Lid van die Parlement uitgewys is oor menings wat tydens ‘n debat uitgedruk is en die Lid die uitwysing toe uitgedaag het – die oppergesag van die Grondwet bo die Parlement gehandhaaf. Die Hof het verklaar dat die Grondwet die finale bron van alle regmatige gesag in die land is en dat geen Parlement, ongeag sy bona fide of vooraanstaande lidmaatskap, geen President, ongeag sy formidabele reputasie of geleerdheid, en geen amptenaar, ongeag sy doeltreffendheid, enige wet kan instel of aan aan enige daad uitvoering kan gee wat nie deur die Grondwet goedgekeur is nie.

Artikel 1 van die Grondwet verskans die nasie se grondliggende waardes soos menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme, asook die oppergesag van die Grondwet en die Reg. Artikel 2 van die Grondwet verbied wetgewing of optrede wat strydig is met die Grondwet en bepaal dat verpligtinge wat deur die Grondwet ingestel is, uitgevoer moet word.

Gevolglik, alhoewel debat aangemoedig en verdra word, moet dit altyd binne die raamwerk van die Grondwet geskied, selfs in die Parlement. Daar moet geen plek wees vir seksisme of seksistiese taalgebruik in ‘n grondwetlike demokrasie nie. Net soos wat rassistiese taalgebruik in die Parlement veroordeel word, moet voorvalle soos hier bo beskryf – wat duidelik seksisties en in stryd met die Grondwet se grondliggende waardes is – ook veroordeel word.

Die Grondwet bepaal voorts dat elkeen oor inherente waardigheid beskik, en die reg dat hul waardigheid gerespekteer en beskerm word. Anders as ander regte, wat soms beperk kan word, kan die reg op waardigheid nooit regmatig beperk word nie, ongeag die omstandighede. Hierdie voorvalle is ‘n aanval op die waardigheid van vroulike lede van die Parlement, asook ‘n skending van hul grondwetlik beskermde regte.

As verkose verteenwoordigers, het Lede van die Parlement ‘n eed afgelê om getrou te wees aan Suid-Afrika, maar om ook die Grondwet te gehoorsaam, respekteer en onderhou. Lede van die Parlement behoort aan ‘n hoër standaard te voldoen tydens debatte, en hierdie standaard is niks minder as die Grondwet nie. 

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: mpuleg.gov.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.