Dit beteken dat vroue op die voorgrond is van die kruising tussen die reg en tradisionele praktyke. En nêrens anders word dit beter geïllustreer as die wyse waarop landelike vroue toegang tot grond het nie.

Gegewe Suid-Afrika se spesifieke geskiedenis, beteken dit dat vroue se toegang tot, en reg op, grond bepaal word deur ‘n omgewing wat afhang van faktore soos klas en geografiese ligging. Dit beteken dat landelike vroue dikwels nie oor dieselfde regte beskik as vroue in stedelike gebiede nie. ’n Mens kan nie die identiteit van landelike vroue veralgemeen nie, aangesien hulle nie ‘n homogene groep is nie, maar daar is raakpunte wat op die meeste landelike vroue betrekking het. Dit sluit in ‘n gebrek aan toegang tot grond, asook beperkte magte wat besluitneming oor aangeleenthede betreffende grondsake betref.

Gevolglik is die grondwetlike verhouding tussen die beginsel van geslagsgelykheid en die status van gebruike, tradisionele reg en kultuur – aspekte wat inherent patriargaal is – altyd die fokuspunt in enige gesprek wat landelike vroue se grondregte betref. ‘n Kort opname van die regsomgewing wat landelike vroue raak is groot rede tot kommer.

Eerstens is ‘n ooglopende probleem met die program betreffende die herstel van grondregte dat dit gegrond is op die herstel van vorige regte. Dit is dus mans, as die vorige eienaars, wat hierdie eise kan instel en die hoofbegunstigdes sal wees. Dit word bevestig deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid se analise oor grondhervormingsbeleid en die inwerkingstelling daarvan in Suid-Afrika, wat bevind het dat vroue tussen 2005 en 2010 slegs 10% uitgemaak het van alle herstel-begunstigdes.

Die Wet op Gemeenskaplike Grondregte, wat ten doel gehad het om grondregte te verseker, sou aan tradisionele rade verrykende magte verleen, met inbegrip van die bewoning, gebruik en administrasie van gemeenskaplike grond. Dit het aan tradisionele owerhede ongekende magte toegeken oor die administrasie en toewysing van grond. Alhoewel dit voorsiening gemaak het vir gesamentlike eienaarskap en 30%-verteenwoordiging vir vroue op tradisionele rade, het die Wet egter die magte van tradisionele instellings uitgebrei ten koste van vroue se belange. Dit was ook teenstrydig met die reg op gelykheid aangesien dit gediskrimineer het op grond van huwelikstatus deur enkelmoeders se toegang tot grond te beperk. Die Wet op Gemeenskaplike Grond is later deur die Konstitusionele Hof herroep, alhoewel dit om prosedurele redes gedoen is.

In 2008 is die Wetsontwerp op Tradisionele Howe ingestel, wat die mag in die hande van senior tradisionele leiers geplaas het. Die Wetsontwerp sou die hofstelsel in die eertydse tuislande met tradisionele leiers vervang het wat daaroor sou waarneem. Danksy teenstand van burgerregte-organisasies is dit teruggetrek, net om weer in 2012 ingestel te word, met selfs meer problematiese bepalings. Dit sou byvoorbeeld die reg op toegang tot geregtigheid te verkry beperk deur die reg op regsverteenwoordiging te weerhou. Dit sou landelike vroue negatief raak, aangesien baie tradisionele howe nie toelaat dat vroue hulself verteenwoordig nie. Die Wetsontwerp is teruggetrek nadat verskeie organisasies hul kommer daaroor uitgespreek het, met inbegrip van die burgerlike samelewing en landelike gemeenskappe. Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste het onlangs aangekondig dat die Wetsontwerp voor die einde van die jaar weer ingestel sal word.

Die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leierskap, wat tans voor die Parlement dien, het ten doel om die Wet op ‘n Raamwerk vir Tradisionele Leierskap en Regering te herroep. Soos die Universiteit van Kaapstad se Sentrum vir Regsgeleerdheid en Samelewing op gewys het, sal die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoisan-leierskap die nasionale en provisionele regering in staat stel om tradisionele strukture te bemagtig deur afvaardigings van staatsmag wat nie verantwoordbaar is nie. Dit, sonder die vereiste dat sodanige tradisionele rade of leiers met hul onderdane moet oorleg pleeg of hul toestemming moet verkry waar besluite geneem word wat hul lewensbestaan en grondregte sal raak.

Dit is bemoedigend dat die howe in onlangse beslissings, naamlik Bakgatla-Ba-Kgafela Communal Property Association v Bakgatla-Ba-Kgafela Tribal Authority and Others, asook Premier of the Eastern Cape and Others v Ntamo and Others, die beginsel dat tradisionele praktyke aan grondwetlike demokrasie moet voldoen, bevestig het. Die besluite erken gewoontereg as ‘n ten volle gevestigde regstelsel wat steeds ontwikkel en verander. Desnieteenstaande beklemtoon die besluite die kommer dat sommige gewoonteregte teenstrydig is met huidige praktyke en nie met menseregte-kulture ooreenstem nie, veral die reg op gelykheid. Die besluite beklemtoon dat gewoontereg sy gesag van die Grondwet verkry en kragtens die Handves van Regte uitgelê moet word. Met die Grondwet as agtergrond moet die regte en belange van landelike vroue beskerm en bevorder word ten einde die ideaal te verwesenlik; landbou- en landelike ontwikkeling bevorder word, voedselsekuriteit verbeter word en landelike armoede uitgewys word.

Die uiteindelik vraag is: wat is die presiese aard van vroue se grondregte en toegang tot grond binne ‘n grondwetlike demokrasie, gegewe die konteks waar dit blyk of landelike vroue nie dieselfde regte as hul stedelike eweknieë het nie?

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.