Volgens VN Vroue – die organisasie van die VN wat verbind is tot geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue – sterf ‘n jong meisie elke 10 minute weens geweld. Dit is in die konteks van humanitêre noodgevalle waar geslagsgebaseerde geweld toeneem. Meisies word onderwerp aan seksuele en fisiese geweld, kinderhuwelike, uitbuiting en mensehandel. ‘n Voorbeeld hiervan is die ontvoering en misbruik van Nigeriese skoolmeisies deur Boko Haram. VN Vroue berig dat jong meisies in konfliksones 90% meer waarskynlik is as hul eweknieë in konflik-vrye sones om nie in die skool te wees nie. Ons lewe in ‘n tyd waar konflik bestaan in verskeie dele van die wêreld, en terwyl diegene wat geraak word, aandag en hulp verdien, verdien die uitwerking van konflik op die meisie spesifieke beklemtoning.

Die kwessies van ongelykheid wat meisies raak is nie beperk tot konflik in die vorm van oorlog nie. Die gebrek aan fundamentele menseregte, of die misbruik daarvan, soos die reg op onderwys, voeding, mediese aandag, huishoudelike geweld, kinderhuwelike en in sommige gebiede, selfs vroulike genitale verminking, is uitdagings wat meisies, selfs in konflik-vrye sones, die hoof moet bied.

In Suid-Afrika ervaar ons nie die tipiese konflik in die vorm van oorlog nie, maar eerder ‘n ander – maar net so skadelike – aanval op vroulike liggame. Jong meisies is nie hiervan vrygestel nie. Suid-Afrika ervaar die hoogste koers van die moord op vroue ter wêreld, vyf keer hoër as die internasionale koers. Hierdie feit is oor die afgelope tyd in die media beklemtoon, na afloop van verskeie sterftes van jong vroue onder die mees gewelddadigste omstandighede. Kinderverkragting en skending word daagliks in ons media gedek. Dit beteken nie dat dit ‘n nuwe verskynsel is nie, maar eerder dat die samelewing begin het om daaraan aandag te skenk. Voorts is dit meer waarskynlik dat ‘n vrou in Suid-Afrika deur ‘n voormalige of huidige intieme maat vermoor sal word as deur ‘n vreemdeling (AfricaCheck).

Sekerheid van die persoon is net een kwessie wat jong meisies raak. Volgens UNESCO se Instituut vir Statistiek en UNICEF woon die hoogste getal van kinders van laerskoolouderdom wat nie in die skool is nie, in Wes- en Sentraal-Afrika. UNESCO verklaar ook dat van die 110 miljoen kinders in ontwikkelende nasies wat nie in die skool is nie, 60% meisies is. Meer as 63 miljoen meisies wêreldwyd het nie toegang tot onderwys nie. Voorts het meisies die minste toegang tot onderwys in vergelyking met seuns. Meisies maak 54% uit van die nie-geskoolde bevolking van die wêreld. Daarbenewens dra konflik, marginalisering en armoede by tot hierdie getalle. In armoedige gebiede vererger sodanige ongelykheid die ongelykheid van die meisie, en dwing haar verder af met die voedselketting. Skenk oorweging aan die verhouding tussen die gebrek aan onderrig en kinderhuwelike – waar ‘n meisie onopgevoed is, is die moontlikheid dat sy vroeg en gedwonge in die huwelik moet tree, hoër.

Nader aan die huis word die hulpbronne en infrastruktuur wat nodig is vir toegang tot gelyke onderwys, daagliks bedreig. Opvoeding is ‘n basiese mensereg, en ‘n maatstaf vir bemagtiging en maatskaplike verandering, die behaling van menswaardigheid en ander interverwante regte. Bedreigings wissel van protesaksies in Vuwani – wat gelei het tot die brandstigting by skole en weiering van toegang – tot onderwysers in Gauteng wat stadige diens lewer weens rasaangeleenthede. Die rippeleffek van die ontmagtigde meisie word regdeur die samelewing gevoel. ‘n Opgevoede ma is meer waarskynlik om ‘n beroep te doen om die opvoeding van haar dogter. Daarbenewens moet die opvoeding en beskerming van jong meisies, in ‘n samelewing met baie huishoudings waarvan ‘n vrou aan die hoof staan, belangrik wees. Daarbenewens hou die inkomstepotensiaal van ‘n vrou direk verband met haar vlak van onderrig, en dit is ‘n stap in die rigting van gelyke vroulike verteenwoordiging in die arbeidsmark.

Onderrig as ‘n instrument om jong meisies te bemagtig en om ongelykheid te verminder, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die Sentrum vir Grondwetlike Regte het hom daartoe verbind om sy rol te speel in die bemagtiging van meisies. Die SGR, in samewerking met Salesian Life Choices Leaders’ Quest-akademiese program vir uitmuntenheid, bied ‘n program aan waar meisies wat in die regsberoep belangstel, die SGR kan besoek. Die SGR teiken spesifiek vroulike leerders, weens die sistematiese marginalisering van meisies – nie net in die onderwyssektor nie, maar ook in die regsprofessie. Deur jong leerders toe te rys met die nodige instrumente om vir hul toekoms voor te berei, behoort die mandaat van die hele burgerlike samelewing te wees.

Soos wat ons elke jong meisie erken wie se menseregte daagliks geskend word, en dus haar algehele ontwikkeling ondermyn, wil ons by die inisiatief aansluit om die strukture uit die weg te ruim wat ongelykheid in ons samelewing bevorder. Verandering is inderdaad moontlik. Byna vyf jaar gelede is Malala Yousafzai, die jongste Nobelvredespryswenner, geskiet omdat sy ‘n opvoeding wou hê. Gister het sy haar tersiêre opvoeding aan die Universiteit van Oxford begin, en haar storie inspireer miljoene meisies regoor die wêreld.

Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.